Algemeen -

Los die retoriek – Besigheid is wen-wen

Die politieke klimaat in Suid-Afrika is bykans nog altyd een wat hoogs skepties is oor die rol van privaatmaatskappye in die ekonomie. Die oorweldigende meerderheid van mense (veral dié met politieke agendas) sien hierdie maatskappye as bose uitbuiters van beide hul kliente en veral hul werkers. Hierteenoor is daar mense wie privaatindustrie sien as ʼn nodige euwel, iets wat ons brandnodig het maar wat mense seermaak in die proses.

 

Ek stem met nie een van die bogenoemde sienswyses saam nie. Die feit van die saak is dat meeste ooreenkomste in ʼn vryemarkstelsel lei tot ʼn wen-wen scenario. Die belangrikste aspek hiervan is dat die vryemark laat toe dat elke party self die waarde van hul eie prestasie kan weeg in vergelyking met die teenprestasie van die ander en uit vry wil kan kies om die ooreenkoms te sluit.

 

Ongeag die kontrak, beide partye daarvan sluit die ooreenkoms met die verstande dat hulle iets meer waardevol ontvang as wat hul uitgee. (potensiële) Werknemers kom ooreen met die maatskappy dat hulle tyd en diens sal afstaan vir kapitaal. Die maatskappy bepaal dan wat die betrokke (voornemende) werknemer se tyd en diens werd is vir die besigheid en op grond daarvan maak hul ʼn aanbieding aan die werknemer.

 

Uiteindelik het die werknemer die keuse om die werk te aanvaar of af te keur en elders werk te soek. As daar niemand is wat bereid is om die (potensiële) werknemer meer aan te bied vir sy/haar tyd nie dan kan hy/sy aanneem dat hulle vaardighede net nie so waardevol is in die arbeidsmark soos wat hul gedink het nie. Gevolglik, kan hul besluit om nuwe vaardighede aan te leer ten einde hul tyd meer waardevol te maak vir die mark.

 

So ook dan met die verbruiker. Die verbruiker is gewoonlik ʼn werknemer wie geld het, maar produkte benodig. Weereens word ʼn besigheid genader en elke party bepaal die relatiewe waarde van dit wat hul aanbied (dit wil sê geld vir die verbruiker en ʼn produk of diens vir die besigheid).

 

In beide gevalle is die konsep van waarde belangrik. Waarde is nie inherent deel van enige produk of diens nie. Dit word, ondermeer, deur beginsels soos vraag en aanbod bepaal: Die enigste koeldrank in die woestyn is meer werd vir ʼn dors persoon as een van honderde in ʼn winkelsentrum vir iemand wat reeds drie bottels by die huis het. Die werkplek funksioneer soortgelyk. Hoe meer mense die werk kan doen, met min-of-meer dieselfde gehalte, hoe minder is die diens werd. In die VSA het die persentasie mense wat in landbou werk geskuif van sowat 50% van die bevolking in 1870 na minder as 2% vandag. Tog produseer hul meer, kry goedkoper produkte, statisties het hul geen werkloosheid nie en hul lewensgehalte is besonders hoog.

 

Kapitalisme werk volgens vrye wil. Niemand dwing enigiemand anders om teen ʼn spesifieke loon te werk nie, of om by ʼn spesifieke plek te koop nie. Mens het altyd die keuse om alternatiewe te ondersoek. Die uitkoms is feitlik altyd wen-wen, want elke party het die opsie om te soek totdat hul die hoogste waarde vir hul prestasie ontvang. Wanneer die regering inmeng dan het dit dwang tot gevolg en sodoende word die natuurlike (en regverdige) werking van die mark versteur. Vryheid, soos verteenwoordig in kapitalisme, is die hoeksteen van ʼn regverdige samelewing en nog meer van ʼn regverdige ekonomie.

  •  
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close