My Gesondheid -

Maak detoksifisering jou gelukkiger, gesonder en mooier?

Die meeste leefstyltydskrifte en -webtuistes besing gedurig die lof van detoksifisering en elke keer as jy lees van 'n bekende persoon wat blykbaar bestand is teen veroudering, is ’n gereelde detoksifiseringsprogram deel van sy of haar roetine. Sommige gesondheidskenners voeg ook hul stemme by dié koor en beweer dat 'n goeie detoksifiseringsessie jou nie net kan help om gewig te verloor nie, maar ook om ontslae te raak van chroniese hoofpyn, gewrigspyne, gemoedskommelings en 'n klomp ander geringe gesondheidsprobleme.

Ons wil almal gesond en energiek wees en daarom moet ons slegte gewoontes hokslaan en ons inname van suiker, skadelike vette en preserveermiddels beperk, maar dit is ook wys om seker te maak dat jou detoksifiseringsplan by jou unieke lewenstyl en gesondheidsbehoeftes pas.

Bepaal jou doelwit

Wil jy gewig verloor? Hoop jy om ontslae te raak van 'n lastige gesondheidsprobleem? Wil jy suiker of kafeïen uit jou dieet skakel? Hou in gedagte dat detoksifisering deel van jou liggaam se natuurlike funksionering is. Jou lewer, niere en spysverteringskanaal verwyder daagliks gifstowwe uit jou liggaam en daar is geen wetenskaplike bewyse dat 'n detoksifiseringsroetine beter gesondheid of gewigsverlies sal bevorder nie. Dit kan egter bydra om  slegte gewoontes af te leer, soos om te veel suiker, kafeïen of vet in te neem.

Vra jou dokter

Soos met enige dieet- of lewenstylverandering, moet jy eers met jou dokter gesels voordat jy met detoksifisering voortgaan. Hy/sy is vertroud met jou gesondheidstoestand en sal jou raad kan gee oor die beste manier om te detoksifiseer, en of jy dit eerder moet vermy.

Begin op klein skaal

Moenie begin om  40 dae lank te vas as jy eintlik net van jou suikerlus ontslae wil raak nie. Probeer eerder om vir drie dae lank gesond te eet en matig te oefen en bepaal dan hoe jy voel voordat jy iets meer drasties doen wat jou liggaam kan skok en jou gesondheid kan benadeel.

Beplan deeglik

Skeduleer jou detoksifisering vir wanneer jy nie baie ander veeleisende aktiwiteite hoef te doen nie. Detoksifisering plaas jou liggaam onder druk en jy sal waarskynlik matige ongemak soos hoofpyn, irritasie en selfs geringe duiseligheid ervaar.

Wenke vir veilige detoksifisering

  1. Tensy jou dokter of dieetkundige jou aanraai om te vas, kan jy detoksifiseer deur bloot verwerkte kosse te vermy. Eet rou of gestoomde, onverwerkte kos soos groente, vrugte, graan en peulvrugte. Jy kan 'n sous van vars suurlemoensap en 'n bietjie olyfolie vir slaai of groente maak.
  2. Vermy rooivleis gedurende jou detoksifisering en eet eerder hoender of vis.
  3. Eet helderkleurige groente en vrugte, want dit bevat baie anti-oksidante wat lewerensieme aktiveer om skadelike stowwe wateroplosbaar te maak sodat jou liggaam dit maklik kan uitskei.
  4. Onthou om baie water of kruietee te drink. As jy gesondheidsprobleme het, raadpleeg jou dokter of kruiekundige vir advies oor watter soorte kruietee veilig is vir jou om te drink.
  5. Eiers, knoffel en uie bevat swaelverbindings wat jou liggaam aanpor om glutatioon te vervaardig – dit is ’n anti-oksidant wat gifstowwe, insluitende swaar metale soos arseen en kwik, uit die liggaam skei.
  6. Vermy suiwelprodukte, alkohol, suiker, wit meelblom, kafeïen, voedselkleursel en alle kitskos.
  7. Kry genoeg rus en doen matige oefening. As jy duiselig voel, vermy strawwe oefening.

Onthou om 'n post-detoksifiseringsplan in plek te hê om te verseker dat jy volhard met al die goeie gewoontes wat jy tydens jou detoksifisering aangeleer het. Hou aan om so gesond as moontlik te eet en vermy verwerkte kos of kos wat baie preserveermiddels bevat. Op slot van sake bly die beste gesondheidsraad om deurgaans ’n gesonde lewenstyl te volg wat gegrond is op ’n gesonde dieet, gereelde oefening, genoeg rus en gereelde mediese ondersoeke.

Bronne:

http://www.ihcbesthealth.com

http://realfoodswitch.com

http://www.prevention.com

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close