Algemeen -

Maak die BBP saak?

Twee ekonome stap ná 'n paar drankies van een kroeg na 'n ander. Die een skop 'n slak raak en sê: “Ek wed jou R2 000 jy sal nie die slak eet nie!” Die ander ekonoom, soos ekonome maar is, tel die slak op, kou dit fyn en sluk dit in. Ná 'n rukkie voel die slak-eter sleg en sê: “Ek wed jou R2 000 jy sal nie daardie slak eet nie!” Die eerste ekonoom, wat regtig sy R2 000 wil behou, slaan die slak met een hap weg en sê: “Ai! Nou het ons elkeen 'n slak geëet en nie een van ons het iets daarvoor gekry nie,” waarop die oorspronklike slak-eter antwoord: “Ons het darem R4 000 tot die BBP bygedra.”

'n Land se bruto binnelandse produk (BBP) is die somtotaal van geld wat in 'n gegewe jaar hande verwissel, of dit is ten minste die beste manier om dit te verwoord. Die BBP is dus aan 'n hele paar skattings en aannames onderworpe, buiten natuurlik die feit dat transaksies soos dié van die slakvangers hierbo op geen manier bepaal of ingesluit kan word nie.

Maar wat maak dit nou eintlik saak? Die afgelope week of twee was party ekonome baie bly oor die “vinniger as verwagte” groei in BBP, of sommer in die ekonomie. Maar wie stel hierdie verwagtinge op? Daar is niks om oor opgewonde te wees nie. Hoekom is ons bly dat dit minder sleg gaan as wat die reeds negatiewe voorspellers voorspel het? Nou ja, dit is seker die voordeel van lae verwagtinge. Selfs slegte resultate is iets om te vier as jy slegter verwag het. 'n Begrafnis word nie 'n viering omdat iemand dubbel so lank bly leef het as wat die dokter voorspel het nie.

Die res van die wêreld se ekonomieë het oor die algemeen reeds van die Covid-19-slagting in 2020 herstel. In baie lande het die ekonomie selfs na beter vlakke as in 2019 gegroei. Maar in Suid-Afrika ploeter ons maar voort, terwyl die verwagting is dat ons in 2023 darem weer 'n ekonomie so groot soos dié in 2019 sal hê.

En die “beter as verwagte groei” beteken in elk geval niks vir die duisende mense wat hul werk verloor het nie. Die sogenaamde groei is grotendeels te danke aan hoër kommoditeitspryse en 'n swakker rand. Bedrywe wat werk skep, soos vervaardiging, is aan die krimp. Die toerismesektor is aan bande gelê. So die “groei” mag dalk daar wees, maar ons sien dit nie aan ons sakke nie.

Die BBP is daarom nie perfek nie en om die waarheid te sê dit beteken nie juis iets vir die meeste van ons nie, maar dit is die beste maatstaf vir die grootte van die ekonomie wat ons het.

Foto-bron: iStock

  •  
  •  
  •  
Avatar Deur Lize-Mari Verster


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close