Algemeen -

Maak die internet ons dom en vyandig?

Dit is opmerklik hoe die samelewing deesdae in twee geskeur is, met verskillende mense aan verskillende kante wat weier om na mekaar se standpunte te luister. Alles of niks. Swart of wit. Geen grys areas nie. Hierdie lui denkwyse is niks nuuts nie, maar dit is vir seker erger vandat sosiale media besef het dat dit slegs jou aandag kan hou vir so lank as wat jy hou van dít wat jy lees.

Die sogenaamde aandag-ekonomie, ’n woord wat gebruik word om gewoonlik die aanlyn ekonomie te beskryf, is niks nuuts nie. In die 1990’s het CNN besef dat die meeste van hulle kykers se politiek meer na die van die demokratiese party leun en hulle het hulleself daarvolgens aangepas. Fox News het toe besef dat daar ’n groot mark aan die ander kant van die politieke spektrum is, en hulle het hul nuus as meer Republikeins verpak. Dus, ongeag wat ’n Amerikaner se politieke sienings is, een van dié twee netwerke het sy aandag.

Met die koms van die internet het dinge verander en vererger. Almal kan nou soek wat hulle interesseer. Ongelukkig weet die meeste van ons nie juis waarna om te soek, voor ons dit gekry het nie. Google het dit toe makliker gemaak, maar Google moet ook geld maak. As jy dadelik kry waarna jy soek is jy slegs vir ’n paar sekondes op Google. Kry jy dit nou weer glad nie, sou jy destyds waarskynlik eerder Yahoo gebruik. Die teendeel het eerder gebeur omdat Google besluit het om ons elkeen persoonlik te leer ken. As Google jou ken kan hy die inligting wat jy soek aan jou verskaf, selfs as jou soekwoorde wat jy invoer nie perfek is nie. Deur jou te leer ken kan hy boonop aan jou bemark en só begin die groot geld inrol. Ek het verlede jaar verstom gestaan toe ek sien hoe die inligting wat my studente kry verskil van dít wat ek kry wanneer ons dieselfde soekwoorde by Google insleutel.

Toe kom Facebook. Nog nooit het mense soveel van hulle intieme inligting en besonderhede gedeel soos op Facebook nie. Ek self het so te sê elke gedagte wat by my opgekom het op Facebook gesit. Ek was toe nog bitter jonk en Facebook was nog nuut. Sedertdien het ek darem grootgeword en my Facebook-rekening gesluit sonder enige planne om ooit weer terug te keer. Facebook het ook baie slimmer geword.

Soos Google, ken Facebook jou nou waarskynlik beter as wat jou vriende jou ken. Daarom sal jy nie sommer iets op die internet sien waarmee jy nie saamstem nie. Dít is die aandag-ekonomie. Sodra die internet jou affronteer, verloor hulle jou aandag. Dis sekondes of minute waarin hulle nie aan jou kan bemark nie. Daarom is dit deesdae vir baie van ons amper ondenkbaar dat daar mense is wat anders as ons dink. Facebook groepeer ons volgens ons belangstellings en ons sien selde, indien ooit, iets anders.

’n Mens kan baie oor iemand leer deur byvoorbeeld te kyk watter video’s deur YouTube vir hulle aanbeveel word. Vir my is dit skiettegnieke en ekonomiese besprekings. Die meeste ander Youtube-gebruikers het waarskynlik nog nie ’n enkele grafiek of ’n skoot wat op Youtube afgevuur word, gesien nie. Net so sien ek nie sommer video’s oor hoe om my honde te leer sit en lê, of hoe om my sitkamer soos ’n Franse digter s’n te laat lyk nie. Ook nie wie wat op die loopplanke van Milan dra nie. My vrou sien weer amper net sulke video’s. Facebook, Google en YouTube kan dus, anders as die kabelnuusnetwerke, almal op dieselfde platform tevrede stel.

Die internet sorg dat die dokter wat sy loopbaan daaraan gewy het om mense met die beste kennis by te staan nou net so ’n groot platform het as die oningeligte wat glo dat klapperolie alles genees. Om van dagga-olie nie eens te praat nie. Die olie- oningeligte het waarskynlik ’n meer aangename persoonlikheid as die meeste dokters, so mense glo hulle video’s (ongelukkig soms met noodlottige gevolge) terwyl werklike behandeling vir ernstige siektes met olies en blare vervang word. Net so praat familielede en bure nie meer met mekaar nie, want beide partye aan verskillende kante van ’n saak, wat “navorsing” gedoen het, beskou die ander party as oningelig en domastrant.

Omdat Google deur die meeste van ons as neutraal beskou word, glo die meeste van ons wat ons deur “navorsing” op Google gekry het. Maar ons vergeet dat my Google anders is as jou Google, deurdat ons elkeen kry wat Google dink ons wil hê, eerder as die inligting wat ons werklik nodig het. Die internet soek jou aandag, want waar ’n produk gratis is, is jy gewoonlik die produk.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close