Algemeen -

Maar hoe gaan dit nog met jou?

Dit is Julie. Die blote gedagte daaraan is verstommend. Oor die algemeen vlieg elke jaar verby en dien die vinnige tydsverloop as goeie gespreksaanknopingspunt wanneer jy ’n ou kennis in Spar raakloop en nie weet waaroor om te gesels nie.

Dié jaar is egter anders. Veel anders.

Tyd beweeg baie vinnig, maar terselfdertyd net so stadig.

As skrywer spandeer ek groot dele van my dag om navorsing te doen oor verskeie onderwerpe en sfere in die samelewing. My dae hang grootliks af van gebeure waaroor ek byna nooit werklik beheer het nie. Goeie of slegte nuus – dit is iets wat ek jag (navors) en die vleis (nuus) bring ek huis toe (na my lesers toe).

Die laaste ruk is egter moeiliker. In my soektog na nuus, wil ek nes ’n grootwildjagter ook ’n enorme gedierte plattrek en die storie kom vertel. ’n Groot storie wat goeie nuus bring is altyd eersteprys. Goeie nuus is deesdae egter ’n bedreigde spesie wat al hoe skaarser raak.

In my soektog na goeie dinge wat vertel moet word, besef ek een ding. As daar nie sulke stories is nie, kan dit nie goed met mense gaan nie. Goeie nuus skep immers goeie beweegruimte en slaan mense nie hok soos wilde diere in ’n dieretuin nie. Die meerderheid stories wat oorbly is die nuus waaraan julle (die lesers) soms hard aan moet kou.

Ek wens ek kon jammer sê vir die slegte nuus daar buite. Ek wens daar was iets mooier om te vertel.

Goeie nuus word gekaap deur korrupte beamptes, misdadigers en leë beloftes van nuttelose politici. Slegte nuus is volop met werkloosheidsyfers wat styg, armoede wat toeneem en jongmense wat vasgevang word in ’n stryd oor hulle toekoms. Onsekerheid steel die gemoedsrus van hardwerkende mense.

Ek weet jy verdien beter. Jy verdien beter nuus; iets ligter om aan te kou. Jy verdien beter tye sonder enige onsekerheid. Jy verdien die geleentheid om vry te wees, in ongetemde landskappe waar hokke nie bestaan nie en jy vry is om rond te swerf. Jy verdien om veilig te wees, sonder enige verduideliking of nood of kreet. Jy verdien selfs om sonder die vraag “Waarom?” te leef. Jy verdien voorspoed: vandag, môre en in die toekoms.

Ek lees van koerante en tydskrifte wat nie meer gedruk word nie en oop spasies laat op die laaste paar hoekkafees se rakke. Dit word verruil vir eindelose spasies op die internet, waar sperdatums in die guns tel van dié wat die storie eerste kon vertel.  Koerantdrukkers se ink word droog voordat ’n joernalis die druppels in gedrukte woorde kon laat tel. Geen koerantverkopers op die straathoek nie  ̶  alles is op die internet, ou pel.

Ek lees van kettingwinkels wat jaarliks groot uitverkopings hou, en wat mense nou laat gaan. Werknemers word vinniger afgelê as wat grootskermtelevisies op Swart Vrydag van die rakke af verdwyn. Dit laat mense met ’n donkere gemoed.

Ek lees dat ons nie meer vir onsself mag lag nie en dat selfs ou Leon Schuster te bang is om agter die bos uit te duik. As ons dan nie saam mag lag nie, moet ons dan eerder alleen huil? Ek wag nou nog vir ou Leon om te sê: “Dis ek, ou Leon:  daar’s die kamera! Julle almal is ge-‘schucks’!”

Ek lees van mense se swaarkry, oumense wat hulle kleinkinders mis. My ouma vertel my van ’n tannie in die ouetehuis wat ’n beroerte gehad het en nie kan verstaan waarom haar kinders nog nie vir haar kom kuier het nie.

Reisigers word gevangenes in hotelle en regte gevangenes sit by die huis.

Kunstenaars het groot verhoë verlaat en pas aan by ’n nuwe soort normaal, soos hulle dit noem, en sing nou in jou sitkamer. Afrikaans is steeds groot en jy kan self besluit of jy Steve  in jou huis gaan toelaat.

Op die televisie is sepies vir die eerste keer byna meer realisties as die wel en weë van mense in die regte wêreld.

Jy mag ’n masker dra in die bank. André Stander, is dit jy?

Oorlaai met inligting. Elke dag. Elke uur. Oorvol.

Ek wou eintlik regtig net hoor: hoe gaan dit nog met jou?

 

 

  • 85
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close