Kultuur, Politiek -

Malema verwelkom onwettige immigrante, verjaag Afrikaners

“Laat die grense oop wees en as die hekke nie gaan oop wees vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nie, moet mede SAOG-mense asseblief kreatiewe maniere vind, want hierdie is jou tuiste, jou familie is hier.” So het Julius Malema, leier van die EFF, laasweek by ’n mediakonferensie gesê, na aanleiding van die grensposte wat gesluit is te midde van die Covid-19-pandemie. ActionSA, die politieke party met Herman Mashaba as leier, het intussen besluit om 'n formele klag by die parlement teen Malema, 'n parlementslid, te lê, wat vra vir onwettige optrede.

 

Ek waardeer die aksie wat Mashaba teen Malema neem, maar Malema se uitlating is vir ander redes 'n dolk in my en baie ander Suid-Afrikaners se harte; spesifiek my Afrikanerhart. Sien, sy uitlating het weer bekende frustrasies laat opvlam en ’n pen in my hand gesit om uiting te gee aan frustrasies wat baie Afrikaners ken, veral die jeug vir wie die Afrikanergeskiedenis, snaaks genoeg, volksvreemd is.

 

Malema verwys na ander lande se burgers as familie, terwyl hy onbeskaamd, verskeie kere vir van sy eie landsburgers – Afrikaners – sê, “gaan terug Europa toe.” Hy hits ook sy volgers aan om te sing, “kill the boer”, en te glo dat, “witmense in die see gejaag moet word.” Die kontras staan sterk. Dit word selfs sterker as mens uitlig dat Afrikaners 'n Afrikastam is wat sedert 1652 hier in Suid-Afrika, hul geliefde vaderland, hulle bestaan gemaak het. Dit is 369 jaar gelede. Dit is 9 generasies Afrikaners wat al bou aan Suid-Afrika. Dit is 124 jaar voor Amerika eers gevind is.Malema se uitlatings stel duidelik dat hy nie glo Afrikaners hoort in Suid-Afrika nie. Afrikaners is volgens hom “indringers” en “landdiewe”, maar onwettige immigrante is “familie” en Suid-Afrika is hulle “tuiste”.

 

Dis met uitlatings soos dié, dat ek graag vir Malema, die “vegter vir arm swart mense” met sy spoggerige, duur skoene 'n paar vrae wil vra:

  • Sê gou vir my, Julius, wat het hierdie onwettige immigrante gedoen om Suid-Afrika as tuisland te verdien?
  • Het hulle miskien onder uiters geharde omstandighede met ossewaens honderde kilometers afgelê as pioniers, om 'n toekoms te bou in 'n ongetemde land?
  • Het hulle dalk bloedige oorloë geveg teen die sterkste weermag, terwyl hulle vrouens en kinders van honger sterf in konsentrasiekampe?
  • Het hulle miskien die pragtige uniegebou, waar jy so graag wil sit, gebou?
  • Of, het hulle dalk, net dalk, die tegnologie van windpompe na Suid-Afrika gebring, sodat dit die ongeskikte landbougrond (wat meer as die helfte van Suid-Afrika se grond is) geskik maak vir boerdery?

Ek sal dan vir Julius die antwoord op hierdie vrae kan gee: Nee, Julius, hulle het nie. Wie wel dit gedoen het, is daai einste groep mense in Suid-Afrika wat jy beslis nie na verwys as jou “familie” nie – die Afrikaners.

 

Ongeag wat Julius verder kwytraak, weet ek dat die Afrikaner-familie nie net 'n ryk en merkwaardige erfenis hier in ons tuiste – Suid-Afrika – het nie, maar ook bou aan so 'n toekoms. Ek kan dit met soveel sekerheid sê, eerstens uit geloof en dan deur kennis van ons verlede. Soos dr. Dirk Hermann dit tereg noem: ’n verlede wat getuig van veerkragtigheid, waar ons volk selfs in die moeilikste omstandighede gebou en vooruitgegaan het.

 

Ek weet wie my familie is, waar ons tuiste is en wie ons God is, en ek is trots daarop met 'n vuur wat brand in my Afrikanerhart!

  • 1.9K
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close