Algemeen -

Mamma is moeg, maar gelukkig

As ma van ‘n drie-weke oue baba kan ek soms in die vroeë oggendure myself so klein bietjie bejammer. Daardie wakker ogies lyk nie of hulle vinnig weer gaan toeval nie en ek sien hoe die aand laaaaank voor my uitstrek. Dit voel of ek skaars my oë gesluit het, voor hy van vooraf begin huil en ek weer moet opstaan: doek, melk, winde.

Slaap is vir die voëls.

Dan besef ek net weer opnuut: Hierdie is ‘n voorreg wat baie ander nooit sal hê nie. Hulle sal wat wil gee om hier te kan sit…

Ja, die herhalende roetine van doeke ruil, melk gee, winde uitkry, aan die slaap maak, kan mens soms onderkry. Die min slaap (veral vir iemand wat baie lief is vir slaap) bly maar sleg.

Hierdie oomblikke gaan egter net nog ‘n rukkie aanhou en dan is hulle vir altyd verby. Hierdie kosbare tydjie waarin ek my kind kan troetel, is van korte duur. Een van die dae is hy ook te groot om so in my arms vas te hou.

Ek moet bieg: ‘n tweejarige in die huis wat sukkel om haarself uit te druk en haar frustrasies te verwoord, maak dit nie makliker nie… Tande kners en groot-oog-maak is aan die orde van die dag. Maar ook sy maak my elke dag dankbaar vir hierdie groot voorreg om Mamma te kan wees.

Haar borrelende geaardheid. Haar hardop lag en stories vertel (waarvan mens net hier en daar ‘n woord kan uitmaak.) Haar ryke verbeeldingswêreld waaraan ek my kan verkyk. Sy is so ‘n mooi mensie.

Ons is voorwaar geseënd en het só baie om voor dankbaar te wees.

Ek kan nie meer my wêreld sonder die tweetjies indink nie. Hulle maak my lewe vol. Hulle behoeftes kom eerste. Hulle gee my iets om voor op te staan elke oggend.

In die vroegoggend pajama-dril-sessie kon ek aan myself erken: Ek ís moeg, maar baie gelukkig.

  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close