Algemeen -

Mamma is ouer as 40!

Deur Colette Schultz

Ek lees eendag ‘n artikel van iemand wat skryf oor haar amper-30-sindroom en ek kon nie help om in my binneste te giggel nie. Dit laat my toe onmiddellik dink oor hoe dit is om ouer as 40 te wees.

“Liewe mens, as jy dink jou lewe verander so drasties in jou 30’s, wag ‘n reuseverrassing op jou as jy die dag jou middel-40’s haal!” (Dalk is daar êrens ‘n 50-plusser wat nou vir MY giggel).

Ek gaan seker nou bietjie oorreageer, maar om in jou veertigs te wees, beteken nie net dat jy al op kroniese pille en brille is nie, maar jy moet gereeld jou hare kleur om die grys te verbloem en met jou laaste besoek het die ginekoloog van ‘n historektomie gepraat. “Deap heat” is heel bo aan jou maandelikse inkopielysie en ‘n warm sakkie is jou beste vriend. Jy ken jou apteker op sy naam, want jy dring aan op afslag omdat jy so baie geld by hom spandeer. Jy ignoreer aspris ‘n persoon net omdat hulle jou “Tannie” noem. Dan moet jy weet, ou suster, jou jong dae is finaal getel, maar EK dink die lewe begin eintlik eers op 40!

My ma het destyds vir my gesê: “My kind, nou dat jy 40 is, hou ek baie meer van jou”. Ek weet steeds nie of dit ‘n belediging of kompliment was nie, maar ek stem wel saam met haar. Ek hou ook meer van myself vandat ek in my veertigs is. Ek bekommer en vererg my nie meer oor nietighede nie. Ek is gemaklik met myself, my liggaam, my gewig, en het baie meer selfvertroue as ooit tevore. Ek is rustiger, kalmer en raak nie meer so vinnig paniekerig of angstig oor klein dingetjies nie.

Om ‘n ma in jou veertigs te wees, het ook verskeie voordele. Ek hoef nie meer vuil doeke skoon te maak, agter peuters aan te hardloop en heeldag modderhandjies af te vee nie. Ek hoef nie meer met ‘n ‘vliegtuiglepeltjie’ te probeer om drie ertjies in sussie se keelgat af te wurg sodat sy tog net kos in haar siek lyfie kan kry om antibiotika te drink dat die dekselse oor-infeksie kan opklaar nie. Ek hoef nie meer vyf-uur op ‘n Saterdagoggend op te staan om tot vervelens toe vir die honderdste maal saam met kleinsus Barbie and the Three Musketeers te kyk nie.

My huis lyk nie meer soos ‘n kleuterskoolslagveld nie en ek struikel nie meer oor Lego-blokkies wat jou voete so kan vermink dat jy soos ‘n landmynslagoffer voel nie. Die huis bly nou relatief skoon en speelgoedvry, behalwe dat die skottelgoed en wasgoed nog steeds nie geleer het om hulself te was nie.

Die morsige eetkamertafel moes plek maak vir stapels handboeke, notas, skootrekenaars en tablette. (Ek troos myself ten minste daaraan dat hulle eienaars hul wel gebruik en dit gee my hoop dat die duur skool- en universiteitsgelde goed aangewend word).

Die sitkamer (voorheen “Speelgoedland”) word nou versier met leë koffiebekers wat ‘n bewys is dat die kafeïenverslaafde ywerige student bietjie energie nodig gehad het om haar Biochemie-werksopdrag betyds te voltooi.

Tannie Carike en Ghoempie se CD word al ‘n paar jaar verruil vir doodse stilte en ‘n sterk Wi-Fi-verbinding om al die elektroniese toerusting op een slag te akkommodeer (of daar nou heeltyd gewerk of studeer word, sal ek nie vir seker kan sê nie, maar die salige stilte is nou soos musiek in my ore – ‘n kenmerkende eienskap van ‘n 40-plusser).

My grootste bekommernis oor my kinders deesdae is na watter hoërskool ons hulle gaan stuur, wat hulle gaan studeer en die tipe maats met wie hulle meng, of om soms ongemaklike vragies te beantwoord. Mamma moes nou die dag vir kleinsus verduidelik wat ‘n “virgin” is. Gelukkig kon ek vinnig vir middelsus en ousus gaan vra of hulle kan onthou wat my antwoord aan hulle was toe hulle 10 jaar oud was. Ousus het sommer baie streng, maar beskermend beveel dat ek vir kleinsus moet sê dat ‘n “virgin” ‘n oefenplek is: Virgin active.

Maar as selfversekerde, verantwoordelike, vreeslose 40-plusser-mamma het ek gevoel kleinsus verdien ‘n reguit antwoord; kort en kragtig.

Om 40 plus te wees, beteken ook ek kan lekker slaap en deurslaap in die nag en ek hoef nie vir ‘n huilende baba op te staan of in die middernagtelike ure monsters onder sussie se bed gaan verslaan nie. En wanneer my tienerdogters soms uitgaan vir die aand, offer ek met liefde ‘n paar uur se slaap op tot hul veilig terug is by die huis. Ek verkies meestal om hulle self te gaan haal en ry heel selfversekerd sommer in my slaapklere en pantoffels. Ek hoop half moedswillig in my agterkop dat ek een aand deur die metropolisie gestop word, want dié grimeerlose gesig met ‘n tamaai ongekamde “Loréal Mahogany”-bolla op my kop sal hulle beslis weer in spoke laat glo.

Ek het ook besef dat hierdie ouderdom geen waarborg is dat my beursie nie beïnvloed gaan word nie! Alhoewel ek baie meer bekommerd was oor finansies toe ek doeke en melk moes koop, kon ek nooit voorspel hoe onbekostigbaar tieners sou wees nie. Maar, ek gee nie om nie, want ek is ouer as 40, onthou! Ek is gemaklik met dít wat ons het en dít wat ons nie het nie. Óf jy bekommer jou oor te min geld, óf jy bekommer oor hoe jy jou baie geld veilig gaan hou.

Materiële dinge is nie meer vir my belangrik nie – nie dat ek dit glad nie nodig het nie, maar ek het besef dat ‘n mooi huis, ‘n duur kar en skitterblink juwele nie jou waarde of menswees definieer nie, maar wel wat in jou hart aangaan. My gesin en die kosbare tyd saam met hulle is nou my grootste rykdom!

Om in my 40’s te wees, het ook iets in my binneste verander – my gees, my geloof, emosies en psige. ‘n Misterieuse volwassenheid. ‘n  Tevredenheid. ‘n  Rustigheid. ‘n  Vergenoegdheid. Aanvaarding en ‘n  gemaklikheid met myself.

Skinderstories ontstel my nie meer nie, ek vergewe makliker, ek is meer oopkop, respekteer dié wat van my verskil, en oordeel nie meer so vinnig nie. Ek aanvaar teleurstellings ook beter en my geluk hang nie meer af van mense nie, maar van myself en van my kosbare verhouding met my Skepper.

My 40’s is beslis die tyd van MY lewe!

So, wie is jou “tannie”?

  • 186
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close