Algemeen -

Mantashe is reg oor kernreguleerder

Gwede Mantashe is selde reg. Iemand wat dikwels reg is, sluit hom immers nie by die ANC aan nie. Maar oor sy weiering om anti-kernkragaktiviste in die Nasionale Kernreguleerder se direksie te hê is hy heeltemal korrek. Dit sal wees soos om 'n vleisraad vol veganiste te hê, of om iemand wat gevegshane teel in die DBV se raad te hê. Dit is onsinnig.

Die kernreguleerder se werk is om te reguleer, nie om 'n hindernis vir vooruitgang te wees nie. Dit is 'n skande dat Suid-Afrika, wat eens 'n reus op die gebied van kerntegnologie was, vandag onderling kyf oor of kernkrag 'n goeie idee is, al dan nie. Dit geld nie net vir kernkrag nie, maar vir alle metodes van kragopwekking. Tot so onlangs as 20 jaar gelede was Eskom nog beskou as een van die beste energiemaatskappye ter wêreld. Eskom was in 2006 nog 'n bekroonde werkgewer ook. Toe val alles uitmekaar. Vandag het ons nie genoeg energie nie en niemand in posisies van mag weet hoe om dit op te los nie.

Om alles te kroon baklei politici en Eskom se direksie, sowel as ander rolspelers, nou oor wat die oplossing vir die kragkrisis behoort te wees. Soos in my blog van verlede week bespreek is, is die oplossing eintlik heel maklik te bereik. Ongelukkig meen baie drukgroepe en ander vakbonde dat niks ooit maklik moet wees nie. Hulle staan dus in die pad van enige poging om 'n oplossing te kry. Steenkool is uiteraard omstrede en 'n mens kan die teenstand verstaan, maar Suid-Afrika gaan nog lank nie in 'n posisie wees waar ons meteens van steenkool ontslae sal kan raak nie.

Hernubare bronne is ook omstrede. Windturbines slaan voëls dood, beslaan te veel ruimte en is nie standhoudend nie. Dieselfde geld vir sonkrag. Hier kom die druk dikwels van vakbonde af wat meen dat die alternatiewe kragopwekking minder arbeidsintensief is en dat werksgeleenthede daarom tot niet sal gaan.

Die VSA, en spesifiek die deelstaat Kentucky, wys dat dit nie die geval is nie. Die probleem is egter dat werksverliese net voorkom kan word as mense reeds by die aanvang van 'n proses  met nuwe vaardighede toegerus word. Kentucky het geweldig baie steenkool geproduseer, maar dit is in talle gevalle die afgelope paar jaar deur hernubare bronne vervang. Teen alle verwagtinge en voorspellings in, werk daar vandag amper dubbel soveel mense in die energiesektor in Kentucky, dikwels in meer gespesialiseerde poste wat ook aansienlik hoër salarisse betaal.

Dit is maar een voorbeeld waar probleme hulself oplos sodra die druk op vooruitgang uitgeskakel word. In Suid-Afrika moet ons dringend ophou om te vra watter model ons moet volg, of wie watter tipe sentrales moet bou. En rolspelers 'n kombinasie van Eskom en privaat kragprodusente, moet dringend begin om enige vorm van opwekkingskapasiteit by te voeg. Ons kan nie langer wag nie. Ek verwag dat dit op die kort termyn 'n mengsel van die huidige steenkoolkapasiteit en hernubare bronne sal moet wees, met groot nuwe kernaanlegte wat op die langer termyn bykom. Die groter implikasies kan later uitgeklaar word, maar vir die huidige moet ons net begin bou. 'n Goeie begin sal wees om nie swaksinnige mense in rade en direksies van reguleerders te hê nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close