Algemeen -

Max du Preez en die ‘nuwe’ Vrye Weekblad: Kan dit hou?

Deur Dr. Eugene Brink

 

Oom Max du Preez het ná sy hoeveelste bedanking, uittrede of afdanking (of wat ook al) as rubriekskrywer vir 'n publikasie (hierdie keer News24) nou rondborstig verklaar dat die Vrye Weekblad vanaf April 2019 gaan herleef.

 

Vir diegene onder 40 (en vir baie mense bo 40 ook) sal hierdie naam nie allerweë 'n klokkie lui nie en 'n mens kan hulle nie verkwalik nie. Dit was 'n sukkelende Afrikaanse lefty-koerant wat vir 'n paar jaar tydens die laaste stuiptrekkings van apartheid uitgegee is en nooit veel van 'n oplaag gehad het nie. Die meeste van ons het die afgelope 20 jaar slegs daaroor in joernalistiek-handboeke onder die hofie “alternatiewe pers” geleer. Vrye Weekblad was dus net van akademiese belang gewees.

 

Bloot vanweë die feit dat dit in hierdie tydvak bestaan het, het die koerant en Oom Max as die redakteur ook heelwat krediet vir die ontmanteling van apartheid gekry as sou hulle Afrikaners se sieninge oor apartheid gewysig het. Die regering het hulle destyds waaragtig geboelie deur byvoorbeeld die koerant se registrasiefooi tot bo hul vuurmaakplek te verhoog. Daar het ook 'n bom in hul kantore in 1991 ontplof. Hulle is deur verskeie hoëvlakpolitici soos oudpres. P.W. Botha gedagvaar en genl. Lothar Neethling se lastersaak het die koerant in 1993 laat toemaak.

 

Dit kon nie altyd maklik gewees het nie, maar dan weer het hul eie optrede ook baie van hul teëspoed veroorsaak. Hulle glo daar was druk op maatskappye om nie in hul koerant te adverteer nie, maar in der waarheid het hulle nooit werklik wyd aanklank onder hul nismark (die meer liberale, hervormingsgesinde Afrikaners) gevind nie. Hulle het ook in 'n era gewerk waarin sensuur vanuit owerheidsweë al heelwat afgewater was en apartheid se einde reeds in sig was. Dit is soos om 'n rugbyspeler in die 78ste minuut van 'n wedstryd, wat reeds 'n gemaklike sege vir sy span is, op te stuur en om dan dié speler te prys asof hy al die punte aangeteken het.

 

Die idee om hierdie koerant nou as 'n “webkoerant” te laat herleef, is daarom interessant. Is dit 'n sinvolle idee? Die tyd sal leer, maar ek het 'n gevoel dit gaan nie lank neem om uit te vind nie.

 

Die laat 1980’s was die tyd van die Voëlvry-beweging en veral jonger Afrikaners was moeg vir apartheid en wou deel wees van die res van die wêreld. Baie Afrikaners het geglo hervorming moet bloot geskied en apartheid het in 'n politieke doodloopstraat geëindig. Die ekonomie het gestotter vanweë sanksies, Suid-Afrika (tesame met die Afrikaner) is as die wêreld se muishonde uitgekryt en die ANC was die demokrate.

 

Derhalwe het die Vrye Weekblad 'n vrugbare teelaarde gehad om in te werk. As hulle tien jaar tevore bestaan het, sou hulle as’t ware nie bestaan het nie. Hulle het bloot apartheid op sy knieë gevang en die golf gery.

 

Vandag is dinge anders gesteld en ten minste word dit nou ook deur die nuwe Vrye Weekblad se redaksionele span erken. In 'n verklaring oor die herloodsing van Vrye Weekblad raak Du Preez die volgende kwyt: “Die omgewing is vandag gans anders as in die turbulente laat 1980’s en vroeë 1990’s. Suid-Afrika is vandag 'n konstitusionele demokrasie, 'n oop gemeenskap met vryheid van spraak wat in die grondwet verskans is.”

 

Daar sou egter ook 'n “maar” moet wees, anders sou hulle mos nie weer hierdie tog aangepak het nie. Dan noem hulle hul nuwe teikens op: staatskaping, korrupsie, wanadministrasie, magsmisbruik, hebsug, goedkoop populisme, onverdraagsaamheid en rassepolitiek. Hulle gaan teen wit én swart etniese mobilisering veg. Hulle bly glo progressief en hang 'n oopheid vir nuwe idees, nierassigheid, lojaliteit teenoor die Grondwet ensovoorts aan.

 

Hulle stel dit onomwonde: “Ons missie vandag is fundamenteel dieselfde as in 1988: Soek die feite; wys geen genade vir diegene in magsposisies nie; sny deur die mis en rook en geraas en kom by die waarheid uit.”

 

Hulle weier ook om hulself 'n Afrikaner-publikasie te noem. Nee, hulle is 'n Suid-Afrikaanse webkoerant in Afrikaans en hulle is omgekrap oor die huidige stand van sake waarin die Afrikaanse media verkeer. 'n Gevange leserskorps beteken die huidige klomp het middelmatig geraak en hulle is so bang vir die lawaaieriges van regs dat hulle eerder by hulle witvoetjie soek. Hulle het geen energie nie en daar word nou net op celebs en misdaad gefokus.

 

Dit is maklik, maar lui, om alles goedsmoeds te verwerp wat Max en sy span wil doen. Dit is hoekom ek deur hierdie rook en mis wil sny om by die waarheid van hierdie nuutgevonde projek uit te kom.

 

Eerstens glo ek daar is 'n plek in die Afrikaanse mark vir slim, ondersoekende joernalistiek. Jacques Pauw, veteraanjoernalis en skrywer van The President’s Keepers, sowel as Anneliese Burgess van Special Assignment-faam gaan betrokke wees. Hulle kan 'n ondersoekende leemte vul wat tans effe afwesig is in die Afrikaanse media.

 

Ek is self ook baie moeg vir Afrikaanse publikasies se oordrewe fokus op geweldsmisdaad en glanspersoonlikhede se jongste skandes en egskeidings. Ek meen hierdie sensasiesoekery het ons as 'n gemeenskap enersyds net mismoedig en kwaad gemaak, en andersyds laat ophou dink aan belangrike kwessies en blywende oplossings vir ons probleme.

 

Dit is egter waar my lof opdroog. Die Vrye Weekblad gaan hom in 'n politieke muur van selektiewe woede en ook in 'n betaalmuur (ja, jy gaan daarop moet inteken) vasloop. Daar is egter ook 'n verskil tussen om te sê en te doen – veral waar Oom Max betrokke is.

 

In 1989 sou jy taamlik gewild onder veral jonger Afrikaners gewees het as jy bloot teen apartheid te velde getrek het en ons as braaivleis-en-brandewyn-karikature op jou voorblad uitbeeld. Vandag is dinge anders. Die ANC se sosialisme en korrupsie het selfs liberale Afrikaanse mense gebelgd gemaak.

 

As 'n mens enigsins gelees het wat Oom Max die afgelope paar jaar geskryf het, wys dit duidelik dat hy nie omgee as een etniese groep of politieke party 'n sekere groep demoniseer nie. Hy moedig dit selfs aan. Sy prekerigheid is saai en soms selfs belaglik en hy is lief daarvoor om sonder feite en bewyse oorvereenvoudigde stereotipes van Afrikaners te maak. Die publikasies waarvoor hy geskryf het, het dit aan hul lesers oorgelaat om dit te bevraagteken. En ons het. As dít my “regs” maak, dan is dit maar so.

 

Wit mense is altyd in die beskuldigdebank sover dit Max aangaan en enige kritiek teen swart rassiste kom altyd met 'n voorbehoud van onthou-daar-is-ook-wit-rassiste. Rubrieke oor wit rassiste (gewaand óf werklik) gaan slegs oor wit rassisme. Hy het eers die EFF begin aanvat toe die openbare mening en ander joernaliste teen hulle gedraai het. Voor dit het hy ons aangemoedig om net met die EFF te gaan praat om te hoor wat hul pyne is – iets wat hy nie self gedoen het nie.

 

Dit gaan nie eers net oor ras nie. Hy maak geen melding van linkse skynheiligheid, leuens en “lawaaierigheid” in sy verklaring nie. Sy rekord as joernalis en rubriekskrywer beaam dit. Nee, dit is net die sogenaamde regses (met “regs” natuurlik in hierdie konteks gedefinieer om almal in te sluit wat krities is oor die huidige toedrag van sake in die land en hulself “Afrikaners” noem) wat die probleem is. Ek kan sien hoe hierdie publikasie pal vir Solidariteit, AfriForum en Afrikaners as groep in hul meningstukke gaan bykom. Die kommentators wat hulle wil inspan om insig te verskaf, gaan net uit een stal kom – dit gaan die Pierre de Vosse, Christi van der Westhuizens en Piet Croucamps van hierdie wêreld wees. Dus: Almal wat vir die publikasies skryf waarmee hy nou skielik 'n probleem het.

 

Ek kan eenvoudig nie sien hoe Oom Max enigsins nou ewe skielik hierdie wanbalans gaan regstel nie.

 

Dan is daar die kwessie van finansies. Die Vrye Weekblad het aanvanklik heelwat geld uit Europa ontvang om aan die lewe te bly, ondanks Oom Max se aandrang dat hy huis en haard moes verkoop om die spulletjie aan die gang te hou. Nou gaan Tiso Blackstar dit finansier. Hulle gee Business Day en The Sowetan uit en weet niks van Afrikaanse joernalistiek af nie. Hulle dink seker Oom Max en Pauw se reputasies gaan die publikasie vanself dra. Daar wag 'n wrede ontnugtering op hulle – veral as hulle dink mense gaan maandeliks betaal om dit te lees.

 

Kortom twyfel ek sterk of Pauw se ondersoekende vernuf die publikasie gaan deurtrek. Oom Max was daarbenewens nog nooit 'n redakteur van 'n ander publikasie behalwe die Vrye Weekblad nie. En niks hou ooit lank met hom nie. Of dit nou goed of sleg gaan eindig, dit gaan waarskynlik nie lank neem om tot 'n einde te kom nie.

 

 

  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close