Ekonomie, Nuus, Politiek -

Meer dorings as rose in beleggingstuin

President Ramaphosa het die wêreld uitgenooi om in Suid-Afrika te kom belê. Hy het 'n rooskleurige prentjie van ons bekwame werksmag en ander ondersteunende infrastruktuur geskets in die hoop dat dit as lokmiddel sou dien.

 

Die president is nie verkeerd nie. Suid-Afrika het bekwame mense. Ons sit hier met vaardighede en kennis waarmee ons soveel kan vermag. Ons het die “gereedskap” vir vooruitgang hier op eie bodem.

 

Oor die infrastruktuur waarna hy verwys het, is hy ook nie ver verkeerd nie. Ons het goeie stelsels wat oor die kapasiteit beskik om sulke groei te kan hanteer en die nodige ondersteuningsdienste te kan bied.

 

Ongelukkig is daar dorings in sy roostuin wat hy versuim het om te noem. Die eerste is dat 'n groot deel van ons bekwame werksmag by die huis sit omdat die regering die ekonomie dood reguleer. Nie net is die regering verantwoordelik vir die steel van miljarde rande uit die staatskas nie, hy is ook verantwoordelik vir wanbestuur van talle staatsinstellings en -departemente. So weier die staat ook dat die beste kandidaat vir 'n posisie aangestel word en is die fokus eerder op velkleur of politieke konneksie.

 

Dit is natuurlik nie waar Ramaphosa se regering ophou nie. Hy voer dit selfs verder deur die privaat sektor te reguleer en sy rassekwotas ook daar af te dwing. Daarmee saam stel hy verdere regulasies soos 'n minimum loon in wat nóg werksverliese tot gevolg het.

 

Die rimpeleffek is ongelukkig nie hiertoe beperk nie. Ramaphosa se regering se onvermoë om voldoende te kan regeer en die instellings en departement doeltreffend te kan bestuur, het tot gevolg dat die infrastruktuur letterlik uitmekaar val. Paaie is vol slaggate en is op talle plekke onbegaanbaar, die watertoevoer na verskeie dorpe word soms vir weke aaneen onderbreek en om sonder krag te sit is nie meer iets nuuts vir enige Suid-Afrikaner nie.

 

En natuurlik besef buitelandse beleggers dat hulle nie hierdie regulasies en gebreke sal kan vryspring nie. Dit is hartseer omdat Suid-Afrika werklik wonderlike geleenthede het en kan bied. Ongelukkig is die regering tans self die afskrikmiddel wat hierdie beleggings verhinder en beleggers afskrik. Die regering wil absolute mag oor alle aspekte van die ekonomie hê. Hy wil bepaal hoe daar gewerk word en wie mag werk. Hy wil sy eie reëls maak en almal verplig om op sy voorwaardes aan die ekonomie deel te neem.

 

Dit is absurd. Dat 'n regering so arrogant kan wees dat hy aanneem hy het die reg om met sy ideologie mense uit werk en hulle uit geleenthede en 'n toekoms te kan swendel. Dit doen hy terwyl hy mooibroodjies op openbare platforms bak om sy werklike bedoelings te verbloem!

 

Die regering slaag egter nie daarmee nie. Te midde van sy onderdrukking en beperkings raak outonomie veel aanlokliker vir elke Suid-Afrikaner wat deur dié onbevoegdheid geraak word. Minderheidsgroepe vind maniere waarop hulle sonder inmenging kan groei. Mikro-ekonomieë raak sterker en mense word in en deur hierdie gemeenskappe bemagtig.

 

Die president kan hom en sy party voor die wêreld aanloklik laat lyk. Hy kan vooruitsigte daarstel wat belowend klink en selfs sy regulasies so inkleur dat dit die oor vir 'n oomblik kan flous. Maar dit is waar dit ophou. Die wêreld neem kennis en die wêreld sien. Hulle hoor, hulle neem waar en hulle reageer. Die geduld met onbehoorlike werkswyses en diskriminasie raak op. Beleggers onttrek en hulle soek die weivelde op van gemeenskappe waar vaardighede en kennis wel benut en waardeer word.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close