Algemeen -

Mentorskap in die Onderwys

Deur Anlia Archer

As blinkoog, pas gekwalifiseerde onderwyser in my eerste jaar van onderwys gee was ek kinderlik opgewonde oor die massiewe verskil wat ek in kinders se lewens sou maak. Ek het immers geswot en weet mos alles wat ek moet weet. Ek is mós lief vir kinders en het 'n sagte hart. Ek het drome gedroom van soet kinders wat na my gaan luister, en vir wie dit altyd lekker gaan wees om in my klas in te stap. In my droomwêreld sou ons skaterlag, grappies maak en hard werk. Ek sou altyd van hulle hou en hulle sou altyd van my hou, en om skool te gee sou elke dag 'n absolute fees wees. Hier en daar sal daar dalk 'n luide applous wees vir die fantastiese lesse wat ek sou aanbied, maar ek doen dit mós vir die kinders… Dit is nie wat gebeur het nie – om dit sagkens te stel. Met die intrapslag in my heel eerste periode, in my heel eerste klas by my heel eerste werk, was daar 'n botsing op die rooster en het ek myself voor 84 graad 11-kinders bevind. En ék, met my oulike ysbreker-idees en kwansuise deeglike beplanning het verstar voor 'n klas vol kinders gestaan, met 'n mond vol tande. Hulle het vir my gekyk, ek het vir hulle gekyk en ek het gewéét:  “I’m in over my head”. Die dae wat gevolg het, was … rof, om die minste te sê. Kinders skreeu – baie! Kinders is onvoorspelbaar en het dissipline nodig, en om beheer te neem van jou eie klas, is wêrelde verwyder van die beskermde omgewing om as student voor die kinders te staan. Ek was totaal oorweldig. Jy kan beplan totdat jy blou is in die gesig, maar jy moet leer om aan te pas!

Ek het dikwels gehoor dat ander onderwysers sê dat die eerste jaar van onderwys vir hulle 'n absolute nagmerrie was. Ek besef nou, 'n mens weet nie totdat jy weet nie. Agterna beskou besef ek dat 'n goeie mentor waarskynlik vir my 'n lewensredder sou wees. Ek is uiters dankbaar vir my departementshoof in daardie tyd wat my onder sy vlerk geneem het en jammer was vir die nuwe juffroutjie wat die heeltyd sit en huil.

Die realiteit is egter dat nie alle skole die kapasiteit het om mentors aan te wys nie. Skole neem aan dat onderwysers alles weet, en die res moet jy maar vir jouself uitpluis. Verder is elke persoon nie noodwendig daarvoor aangelê om 'n mentor te wees nie.  As 'n mens die uitdagende klimaat in ag neem waarin onderwysers hulself vandag bevind, glo ek dit is 'n absolute noodsaaklikheid om 'n opgewasse mentor te hê – iemand wat hulle kundigheid en “wenke en truuks” kan deel. Iemand wat verstaan hoe dit voel as 'n kind jou herhaaldelik uittart. Iemand wat die moegheid verstaan as jy nagte wakker lê omdat jy bekommerd is oor iemand anders se kind. Iemand wat kan erken dat hulle eens op 'n tyd hulself in daardie nuwe, onpraktiese, skoene bevind het. Jy weet nie, totdat jy weet nie.

Mentorskap in die onderwys is van onskatbare waarde, maar moenie onderskat wat dit vir jou as mentor kan beteken nie. Dit het vir my die unieke geleentheid gebied om voorraadopname van my loopbaan te doen. Ek het besef hoe ver ek eintlik gekom het en wat ek alles geleer het. Ek het die kans gekry om na te dink oor wat vir my uitdagings was, en ek kon duidelik sien hoe ek daardie uitdagings te bowe gekom het. Dit het vir my 'n terugblik gebied op my loopbaan en het opnuut waardering gebring vir al die struikelblokke wat ek baasgeraak het. Ek het die metamorfose van my onderrigfilosofie gesien en ek het weereens tot die besef gekom dat tyd en retrospeksie uitstekende leermeesters is! Ek het natuurlik ook tot die besef gekom dat elke tree van my loopbaanpad tot dusver geplavei is met oorweldigende genade. Om iemand te kan mentor is 'n besonderse voorreg, want dit beteken ek het iets geleer en my ondervinding maak saak.

Daarom wil ek elke onderwyser uitdaag – en hierby sluit ek natuurlik afgetrede onderwysers in: Word 'n mentor vir iemand. Deel jou kundigheid, jou slim truuks, jou snaakse uitkyk en praktiese raad met 'n onervare jongmens. Kry die nodige perspektief op jou eie loopbaan. Jy kan natuurlik die formele óf die informele roete volg, maar moedig 'n assistent of jongwerkende aan om deel te word van 'n mentorskapprogram. Gee vir 'n jong, onervare onderwyser die broodnodige ondersteuning sodat hulle deur die dag kan kom. En gee vir jouself die geleentheid om 'n bietjie voorraadopname te doen en om weer dankbaarheid te ervaar vir hierdie besonderse en immer veranderende beroep.

As jy daarin belangstel om 'n mentor te word, stuur 'n e-pos aan:

As jy 'n studenteonderwyser/-assistent is wat graag by ons Jongwerkendes wil aansluit en 'n mentor wil hê, stuur 'n e-pos aan:

 

  •  
  •  
  •  
Deur Anlia Archer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close