Godsdiens -

Met die geduld van 'n 1400

Ek was vandag laat vir 'n vergadering. Dit is omdat ek onderskat het hoe stadig my pa se Nissan 1400-bakkie ry.

 

Ek het hom juis nou die dag al as “geduldsbeproewer” bestempel. Hardkoppig, eiewys en stadig. Seker oor my pad gekom om aan my geduld te leer; dat die lewe nie een groot gejaag hoef te wees nie en dat daar eintlik baie genot in die kleiner dinge van die lewe te vind is … soos in die bakkie self.

 

Ek kon dit skaars glo toe ek vanoggend agter die stuur – wat nie kragstuur is nie – inskuif. Ek hou nogal van die ou tjorrietjie. Hoekom kan ek nie sê nie. Hy is warm en die enigste lugverkoeling is 'n oop venster. Tog geniet ek die (warm) wind in my hare en die pas waarteen hy aankruie.

 

Tot dusver was hierdie jaar (van die 2de tot die 19de) werklik vir my rampspoedig. Bouers en hulle kwale, 'n drein wat in my kelder opstoot en my meubels en ander dinge verwoes … 'n verhouding wat nie uitwerk nie en 'n vriendskap wat sneuwel … 'n nuwe skooljaar en al die uitgawes wat daarmee saamgaan … nog skade aan die huis … nog 'n vriendskap wat verbrokkel … die lys gaan aan en aan …

 

Een van die swaarste dinge was my motor. Na 'n ongeluk met 'n hek het ek hom hierdie week in die bekwame hande van die paneelklopper oorgegee. Vir iemand so onafhanklik soos ek was dit moeilik. Gelukkig het Oupa (my pa, maar trotse oupa van 9 kleinkinders) meer as een voertuig. Ek vra toe vir die klein bakkie. Eintlik het ek gehoop hy kry my jammer en bied die groot bakkie aan, maar dit het nie gebeur nie … So daar gaan ek toe, goed opgevoed in die kuns van die bestuur van hierdie besonderse voertuig.

 

Ek gaan eerlik wees, dit was moeilik. Ek het gevoel of ek saam met die rioolwater in die kelder ronddryf, op moedverloor se vlakte waar geen uitkoms wink nie en die son se opkoms deur diep donker wolke verswelg word.

 

Die huisrampe wou nie minder word nie. Die laaste strooi was toe die kinders se stortkop mors-af breek en op my kop neerval. Ek moes in hulle badkamer stort want my eie stort het êrens 'n gat wat vog trek tot in die houtvloere. Daardie middag het die bakkie ook besluit hy vat my nie huis toe nie. Die krag by die werk was af. Die bakkie se krag was af, en my eie krag het onbeheerst in strome by my oë uitgevloei. Die Here en sy vrede het net so ver gevoel …

 

En skielik, asof uit nêrens, onthou ek die woorde van my goeie vriend en mentor: moenie afkyk as jy vlieg nie.  Ek het vir maande lank gesukkel om myself en my lewe net oor te gee. Ek het gebid maar ek kon net nie vertrou nie. En in daardie oomblik het ek iets besef: my probleme, al die moeilik en al die seer, lê onder my. En ek vlieg. Ek moet opkyk, want dit is waar die oplossings lê; dit is waar my toekoms lê en dit is waar ek vrede sal vind. God het die res.

 

En skielik, sonder waarskuwing, het daardie vrede oor my neergedaal. Dit het my wese omsingel en my hart binnegesyfer. Vir die eerste keer hierdie jaar, letterlik, kon ek asemhaal. Ek was vry. Ek het skielik weer vertrou en ek het skielik net geweet dat alles oukei sal wees.

 

Die volgende oggend het ek die Nissan so tien minute voor ons skool toe moes ry, aangeskakel sodat die battery bietjie kon laai. En rustig het ons skool toe gesuiker. En daarna het ek lekker gewerk. En selfs die middag daardie vriendskap herstel.

 

Die lewe voel skielik rustiger. Ek dra nie meer self aan die bekommernisse en moeilikhede nie. Ek vertrou op die beloftes van God. Ek fokus op die toekoms wat Hy aan my gegee het. Ek het oorgegee. En ek is geduldig.

 

My kar kom volgende week terug. Nou, net nadat ek die Nissan en sy nukke aanvaar het. Ek het nogal geheg geraak aan die plat motortjie met sy warm sitplek en handbriek wat my velle van my kneukels afskuur. Hy het my geleer dat alles op die regte tyd en teen die regte tempo in plek sal val, en dat jy werklik op genade kan lewe.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close