Tans doen ons Staat verskeie stappe om ons samelewing te transformeer. Die stappe word bemagtig deur amptelike staatsbeleid, onderskryf deur die grondwet en die volle mag van die Suid-Afrikaanse regering. Is dié stappe reg en hoe kan ons die vraag oor regmatige staatsingryping in oënskou neem?

 

Dit is seldsaam dat die hedendaagse populêre openbaremenings die Staat in geheel sal bevraagteken. Die hoofstroomdebat sentreer meer om die legitimiteit van die moderne Staat se optrede: wat hy mag of nie mag doen nie, of eerder, wat hy by magte is om nog verder te doen om die samelewing na sy wil te skoei. Vrae oor hoeveel meer hy mag belas. Hoeveel meer hy mag beperk. Kortom, hoeveel meer hy mag ingryp.

 

Sulke vrae neem implisiet aan dat daar wel 'n punt is waar die moderne Staat 'n lyn kan oortree, maar om daardie punt van oortreding te bepaal is baie moeilik in 'n ideologiese klimaat wat verwag dat 'n Staat moet ingryp, transformeer en welvaart skep.

 

Sienings oor die regmatige mag en optrede vandie moderne Staat verskil wesenlik. Daar is diegene wat glo dat 'n Staat 'n absolute noodsaaklikheid vir 'n ordelike samelewing is. Diegene se ondersteuning van staatoptrede word oral gesien, veral in die media, onder politici, akademici en belangegroepe wie se bestaan van die Staat afhanklik is.

 

In teenstelling is daar ook individue wat glo dat samelewings sonder 'n groot oorkoepelende sentrale Staat kan voortbestaan. Diegene se standpunte word nie gereeld gehoor nie. Beskouinge wat die Staat se voortbestaan in geheel bevraagteken is immers tans ongewild en geniet betreklik min lugtyd in die openbaremeningsruimtes.

 

Verskillende beskouinge oor die regmatige rol van regerings lê wyd oor die politieke spektrum: van die geen-staat-anargiste tot die klein-staat-minargiste wat die territoriale Staat drasties wil verklein en selfs uit die weg wil ruim, tot die dissipels van 'n groot sentrale Kinderoppasserstaat, wat wette wil afdwing op byvoorbeeld hoeveel sout individue mag eet, wat en waar hulle mag rook, en hoe groot hul gaskoeldranke mag wees.

 

Duidelik is daar nie eengesindheid oor die rol van die regmatige Staat nie. Waaroor meeste mense wel saamstem is die noodsaaklikheid van een of ander regering. Die bestaan van regerings word gewoonlik nie bevraagteken nie.

 

Kom ons aanvaar argumentsonthalwe die siening dat 'n Staat wel nodig is. Kom ons aanvaar ook dat sekere staatsbeleid, beperkings en ingrypings in ons lewens legitiem is, maar dat totalitêre oorheersings verkeerd is. Ons neem daardeur 'n middeweg-posisie aan tussen 'n geenstaat- en oppasserstaatbeskouing. Dit is mos dié redelike posisie wat algemeen aanvaar word.

 

Volgens só 'n beskouing sal sekere van 'n staatsoptreddes legitiem wees, ander sal illegitiem wees.

 

Die vraag word dan eerder gevra oor die onderskeid tussen legitieme en illegitieme staatsbeleid en -optrede. Hoe bepaal ons of staataksies legitiem of illegitiem is? Omdat die lyn van regmatige staatsingryping nie duidelik vasgestel is nie, is die antwoord hierop nie só eenvoudig nie.

 

Mense verskil ook in hul sienings oor regmatige staataksies. Die handhawing van wet en orde en nasionale veiligheid word tipies as redelike staatsbedrywighede aanvaar. Daarvolgens is howe, polisiedienste en 'n weermag vanselfsprekend. Verder kan ons dink aan munisipale dienste of die voorsiening van paaie, wat ook merendeels as vanselfsprekend aanvaar.

 

Maar wat van wette wat byvoorbeeld die handel in dwelms reguleer? Of wette wat die verbruik van sigarette, sout, of suiker wil beperk? Of beleid wat sondebelasting op drank en sigarette, of selfs kitskos instel? Miskien nog meer ekstreem. Wat van 'n Staat wat algemeen inluister op jou foongesprekke? Of beperk met wie jy mag sake doen? Hoe jy moet sake doen, of erger nog, met wie jy mag trou. Of selfs, soos in Sjina, hoeveel kinders jy mag hê.

 

Aanvoerings wat op die oog af oortuigend klink kan, en word ook, in die naam van openbare veiligheid, openbare gesondheid of sosiale welvaart juis in die guns van soortgelyke bogenoemde staatsingryping gemaak. Medisyne, sigarette, besigheidsbedrywighede, wapens, handel in drank saam met 'n breë reeks ander menslike bedrywighede word reeds streng gereguleer. By iedereen van die beperkings sien ons 'n opweging van individue se regte tot die sogenaamde publieke belang. Die uiteinde van die saak is van nature dat die regte van individue beperk word.

 

Vanuit 'n middeweg-posisie moet ons besin of al dié beperkings en opwegings billik is, maar dit is nie só maklik nie. 'n Middeweg-posisie aanvaar dat 'n Staat 'n legitieme mate van dwang gebruik, maar dwang kan ook onredelik raak. Op die uiterste kan illegitieme dwang die staat in 'n onderdrukker, mishandelaar en moordenaar van sy eie mense verander. Die uiterste voorbeelde van magsmisbruik is egter nie die probleem nie, dit is vanselfsprekend verkeerd. Die probleem is om te bepaal waar die grenslyn tussen regmatige en onregmatige dwang gekruis word.

 

Nazi-Duitsland, die Sowjet-Unie en Sjina is sprekende voorbeelde waar die Staat sy eie en ander lande se mense mishandel en vermoor het. In dié lande het die Staat duidelik die lyn tussen legitieme en illegitieme optrede oortree. Sulke optrede vorm 'n uiterste op die skaal van legitieme/illegitieme staatshandelinge.

 

'n Staat wat sy mense vermoor word deur meeste mense as onaanvaarbaar beskou. So ook word die totalitêre handelinge van 'n Staat wat die vryhede van sy mense onderdruk– soos onder Apartheid gesien is – as uiters illegitiem beskou.

 

Wat dan van 'n regering wat stelselmatig die ruimte van mense om oor hulle eie bestaan te besluit versmoor deur hewige voortdurende staatsinmenging? Waar op die skaal begin 'n Staat mense afknou? Waar raak dwang onredelik? Waar kruis 'n Staat die spreekwoordelike lyn?

 

Begin dit by die moord van landsburgers soos in Duitsland, Sjina of Rusland gesien is? Sekerlik nog lank voor dit. Begin dit dan by dwang-segregasie, of iets soortgelyks, soos wat tydens Apartheid gesien is? Indien dit wel die geval is, wat dan van dwangintegrasie en dwangtransformasie, wat tans in die naam van sogenaamde gelykheid plaasvind? Wat ook van die idee wat tans heers, wat reken dat die hele land op alle fasette die nasionale demografie moet weerspieël? Waarvolgens is die sosiale manipulasie reg? Kruis dit nie ook die lyn nie?

 

Soos ons sien plaas 'n middeweg-posisie moeilik remme op staatsingryping. Só 'n posisie beantwoord ook moeilik die vraag oor die legitimiteit van staatsoptrede. Dit wat veronderstel is om remme op die vergrype van staatsmag te plaas, soos 'n grondwet, is juis in wese geprogrammeer met die middeweg-DNA van verdere staatsingryping. Dit bemagtig daardeur juis staatsingryping. Middeweg-denke, wat só algemeen aanvoor word, gaan daarom nie kruipende staatsingryping kan stuit nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close