Algemeen, Ekonomie, Politiek, SNI -

Minimum loon – suiwer bedoelinge, skadelike gevolge

Producing laws is not an easier problem than producing cars or food … So if the government’s incompetent to produce cars or food, why do you expect it to do a good job producing the legal system within which you are then going to produce the cars and the food?

David Friedman – economist

 

'n Onlangse artikel op Maroela Media het die nasionale minimum loon (NML), wat in Mei 2018 deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, onder die loep geneem. Hierdie huidige stuk bied 'n samevatting van wat die SNI beskou as kernwanopvattings en onjuisthede wat dikwels aan die publiek rondom sulke beleidsrigtings opgedis en vertroetel word. Die belangrikste beswaar wat ek wil opper, is dat die skrywer van die Maroela-artikel veronderstel dat die instel van 'n NML uit “suiwere bedoelinge” plaasvind.

Daarmee veronderstel sy verder dat sulke ingrepe in die markekonomie sinvol kan wees as dit “reg” ingestel en “reg” bestuur word deur burokrate. Ons wil daarvan verskil. Die NML is by uitstek 'n katastrofiese gedagte in 'n land met meer as 9 miljoen werkloses waar die staat skandalig misluk in sy aangenome opleidingsfunksie.

Ons stem heelhartig saam met die skrywer se siening dat die NML ernstige gevolge vir werkgewers kan inhou, maar anders as in die geval van iets soos 'n natuurramp, is die NML 'n dreigende ramp wat doelbewus deur die burokratiese regulatoriese elite op ons almal, nie net op werkgewers nie, afgedwing word.

In effek veronderstel ondersteuners van dié beleid dat jy by werknemers en lone kan inmeng sonder dat dit enige nadelige ekonomiese newe-effekte inhou. Dit veronderstel verder dat regeringsinmenging in die vryheid van markte die norm eerder as die uitsondering behoort te wees – iets wat sekerlik tog indruis teen die klassieke opvattings van vryheid.

Dit verloor uit die oog dat dit, weens die realiteite waarmee Suid-Afrika opgeskeep sit (soos die meer as 9 miljoen werkloses en die patetiese opvoedingsuitkomste), maklik aan die nalatenskap van omvangryke en toenemende staatsinmenging, en nie aan laissez-faire nie, toegedig kan word.

Die NML is nog 'n hou wat die sakesektor sal moet absorbeer. Natuurlik is die hou nie eweredig oor alle besighede versprei nie. Waar besighede proporsioneel meer werknemers het wat in die laer inkomstevlakke val en wat aan die minimum loon onderhewig is, sal sulke besighede natuurlik meer blootgestel wees.

Die skrywer maak ook die waarneming wat, eenvoudig gestel, beteken dat sommige sektore (soos landbou) harder as ander deur die NML getref sal word.

Die NML verhoog uiteraard die risiko’s wat verbonde is aan sake doen. Beleggers sal ons vertel dat groter risiko natuurlik 'n groter opbrengs verg om 'n belegging die moeite werd te maak. Hoër risiko vir sakelui sal uiteraard ekonomiese gevolge inhou.

Ontleders verskil wel oor die omvang van die ekonomiese gevolge wat die NML inhou.

Soos wat hierdie soort dinge gemeet word, is dit sekerlik moontlik om heelwat van die skade wat die NML gaan aanrig in makro-ekonomiese modelle, syfers en totale te verbloem. Dit is klaarblyklik die taak wat talle ekonome wat oor die NML-projek geraadpleeg is, vir hulself opgelê het.

Dit is wel moeiliker om daardie modelle op grondvlak aan die klein sakeman wat byvoorbeeld 'n tuindienstebesigheid bedryf, te verduidelik, veral as die NML gaan meebring dat hy van sy mense sal moet aflê om die styging in sy arbeidskoste wat op hom afgedwing is, te kan absorbeer. Die persoon beleef die skerpkant van staatsdwang eerstehands.

Die werker wat weens hoër arbeidskoste afgelê word, sal ook nie baie beïndruk wees met so 'n model nie – selfs al word sy kollegas nou meer betaal vir minder ure se werk.

Insgelyks sal die laaggeskoolde persoon wat oor min werksvaardighede beskik kwalik getroos word deur modelle as die sogenaamde “suiwere bedoelinge” van NML-beleidmakers meebring dat haar kanse om enigsins in die formele sektor werk te vind, nou soveel skraler is.

Wat in effek aan so 'n persoon gesê word, is: Moenie jou bekommer nie. As jy ooit werk vind wat die staat as goed genoeg vir jou ag, sal jy nie uitgebuit word nie. Die NML ontneem baie mense in der waarheid van die enigste middel tot hul beskikking om vir 'n werkgeleentheid te onderhandel en dit is deur vir minder vergoeding vir die werk as ander werkers te beding.

Daarvolgens kan die mate waartoe die motivering vir die minimum loon as “suiwer” beskou word, sekerlik bevraagteken word.

Suiwere bedoelinge?

'n Mens kan jou afvra hoe edel dit regtig is om by wyse van staatsdwang tussenbeide te tree waar twee partye vrylik besluite maak oor werk en vergoeding.

Gestel Persoon A is bereid (of het dalk net) R15 per uur om iemand vir 'n spesifieke taak te betaal. Gestel Persoon B is bereid om daardie taak vir R15 per uur te verrig. Gestel albei partye stem – om watter rede ook al – vrywillig in om so 'n ooreenkoms aan te gaan, op grond waarvan kan 'n ingryping soos die minimum loon dan op hierdie partye afgedwing word?

Die magsbalans wat natuurlik hier misken word, is die magsbalans wat tussen Persoon A (en Persoon B) en die staat bestaan.

Gestel ek reken my kollega moet sy huiswerker meer betaal as wat hy tans doen. Gestel ek spreek hom daaroor aan en hy weier steeds om dit te doen. Is ek as 'n privaat persoon daarop geregtig om my kollega se geld by hom af te neem, of om hom selfs te ontvoer en iewers toe te sluit? Sekerlik nie. Sover ek weet, sal die howe reken dat ek my daardeur aan 'n ernstige misdryf skuldig maak.

Maak dit dan 'n verskil aan dié morele vraagstuk as ek statisties kan aantoon dat 'n winkel op die hoek en die winkel se personeel beter sal vaar as my kollega sy huiswerker 'n hoër loon betaal en sy dan die bykomende inkomste by daardie winkel kan spandeer?

Gestel nou ek en tien van my medewerkers besluit om oor dié kwessie te stem.

Kan ons my kollega laat opsluit of beboet as die meerderheid van ons gestem het dat hy sy werknemer meer moet betaal en hy het dit nie doen nie? Die meeste mense, reken ek, sal steeds meen dat dit in so 'n geval ook nie geregverdig is dat ons die kollega wil toesluit of sy geld wil afneem nie.

Gestel nou 51% van die Suid-Afrikaanse bevolking stem saam met my oor hierdie aangeleentheid. Aangesien ons deeglik wil wees, raadpleeg ons ook kundige ekonome wat vir ons aantoon dat die winkel op die hoek werklik beter sal vaar as my kollega sy huiswerker meer betaal (selfs al beteken dit ons misken my kollega se voorkeure wat sy eie besteding betref, maar dit daar gelaat).

Indien die meerderheid saamstem, is dit dan moreel regverdigbaar om my kollega toe te sluit of te beboet? Dit kan mos nie die aantal mense wees wat oor iets saamstem wat iets moreel regverdig nie? Indien dit wel so is, hoekom dan?

Kom ons voer die argument selfs verder. Gestel ek kan kategories deur middel van 'n ekonometriese model of iets dergeliks bewys dat die ekonomie werklik sal baat by so 'n ingryping en dat Suid-Afrika se groeikoers drasties sal verbeter, sou dit op sigself regverdiging bied om persoonlike vryhede met dwang tot nuut te maak?

Om tot die huidige onderwerp terug te keer – gestel die 51%-meerderheid delegeer hul seggenskap om wette te maak aan afgevaardigdes. Gestel ons noem hierdie afgevaardigdes “die regering”. Is sulke wette of regulatoriese ingrepe nou outomaties wenslik, edel of moreel as “die regering” dit instel?

Is dit dan die naam van 'n groep wat so 'n dwangmaatreël regverdig?

Dit is moeilike vrae wat tot die kernprobleem van politieke gesag deurdring, maar prakties gesproke is dit wat in wese gebeur as beleidmakers 'n minimum loon en ander ekonomiese ingrepe teen talle landsburgers se sin in afdwing.

Daarmee probeer ek sê dat net omdat beleidmakers iets bepaal het, dit nie outomaties as moreel suiwer beskou kan word nie. In ons eie geskiedenis is wette uitgevaardig wat nou as afstootlik beskou word.

In effek is die NML niks anders nie as 'n dwangmaatreël wat op 'n groot aantal mense en ondernemings afgedwing word. Soos met alle ingrepe van so 'n aard moet werkgewers maar ingee of die moontlike gevolge dra.

Suiwere bedoelinge vrywaar beleidmakers egter nie van die denkbare skadelike gevolge van swak beleid nie.

Denkbare gevolge

Selfs met “suiwere bedoelinge” is die NML 'n dwangmaatreël wat nie kosteloos op die sakesektor ingestel kan word nie.

Die beste resultaat vir beleidmakers is dat ondernemings meer aan arbeid bestee. Dit is nie te sê dit gaan wel gebeur nie, want arbeidskoste hang tog af van die ure wat mense werk en die aantal mense wat by 'n onderneming werk. Albei (mense en ure) kan gesny word om stygende arbeidskoste te absorbeer.

Voorts kan die voordele wat mense in die werkplek ontvang (soos verlof, gunstige werksomgewings, ensovoorts), wat ook 'n koste vir die werkgewer is, gesny word. Dit beteken dat wat effektiewe vergoeding betref, een groep werkers minder ontvang sodat die ander groep daarby kan baat. Dit kom met ander woorde neer op “herverdeling”.

Daar is sommiges wat meen dat ondernemings outomaties meer doeltreffend gaan raak as hulle meer aan laervlaklone bestee. Dit is te betwyfel of so 'n effek moontlik is, maar as dit wel gebeur, sal dit sekerlik nie oral outomaties van toepassing kan wees nie. In die lig van al die tersaaklike faktore, en die bykomende ekonomiese koste, is dit uiters moeilik om te glo dat die NML ekonomies voordelig, of selfs net 'n nulsomspel (zero sum game) gaan wees.

Dit is waansin om te dink dat 'n mens bykomende arbeidskoste op 'n onderneming kan hef sonder dat dit nie uiteraard nagevolge gaan inhou vir die besigheid se totale kostestruktuur nie.

Indien werkgewers dan wel meer aan arbeid moet bestee, sal aansienlike koste tog iewers gesny moet word. Dié besnoeiings kan onder meer kom in die vorm van verminderde dividende wat toekomstige beleggers kan ontmoedig; verminderde interne belegging (byvoorbeeld in toerusting en instandhouding) wat produktiwiteit en selfs veiligheid kan kortwiek; of verminderde lone van hoërvlakwerkers, wat ook weer nadelige gevolge kan inhou.

Die denkbare gevolg van sulke besnoeiings is dat blootgestelde maatskappye se doeltreffendheid en volhoubaarheid met verloop van tyd swakker word as wat die geval sonder 'n NML sou wees.

As sulke uitwerkings, tesame met die verhoogde bokoste vir die regering verbonde aan komitees bestaande uit arbeidsburokrate en die salarisse wat aan hulle betaal moet word; hoër belastings wat uit die privaat sektor gehef moet word om dit te befonds; bykomende rompslomp rondom kwessies soos aansoeke om NML-vrystelling; en die algehele voldoeningskoste verbonde aan byvoorbeeld die toenemende swak ingrypingsbeleid in ag geneem word, laat die “suiwere bedoelinge” 'n bitter smaak in die mond.

Die NML dui miskien op 'n kardinale denkfout wat soms by regslui waargeneem word en dit is die gedagte dat lande hulself ryker kan reguleer. Dit is 'n denkfout wat as’t ware die kar voor die perde span. Dit is 'n poging om die verdienstelike resultate van werkende vrye ekonomieë (soos hoër lone) op 'n vrugtelose wyse op 'n samelewing af te dwing. Dit is 'n projek wat tot mislukking gedoem is want dit belemmer juis die markproses waardeur 'n samelewing in die geheel tot by die punt van groter rykdom kan ontwikkel.

Welvaart word deur sake en werk geskep; nie deur sulke wette nie.

Om mense per kop meer te kan betaal, moet ons meer produkte en dienste wat in aanvraag is, produseer. Om dit reg te kry, moet ons beleid instel wat seker en positief is en wat sake en belegging in ondernemings ondersteun. Dit is iets waarmee die Suid-Afrikaanse regering klaaglik bly misluk.

Die NML voer ons nog verder weg van 'n verdienstelike en werkende ekonomie. Dit is 'n bykomende hindernis op die pad na welvaart. Kort daar nie juis meer werkgewers om kompetisie vir potensiële werknemers te verhoog nie? Leer 'n goeie ekonomie ons nie juis dat lone sal verhoog namate produktiwiteit en kompetisie vir werknemers verhoog nie?

Om welvaart en lone in Suid-Afrika te verhoog, moet sakelui nie eerder gewaardeer en aangemoedig word, of ten minste nie met voortdurende inmenging belemmer word nie? Het dit nie tyd geword om op te hou om die gegewe perd – wat reeds werk skep en lone betaal! – in die bek te skop nie?

  •  
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close