Algemeen -

Minister vra: “Hoekom is swart bestuurders so ondoeltreffend?”

Dit is nie 'n vraag wat ek sommer sou vra nie, maar ná die minister van finansies, Enoch Godongwana, dit gevra het, mag ek seker ook. Volgens hom is dit vreemd dat net sowat 15% van bestuurders in die privaat sektor swart is.

Hy noem dat bykans alle munisipale bestuurders swart is en dat dit veral daar duidelik is dat hul bestuur van uiters swak gehalte is. Minister Godongwana hoef nie vreeslik ver te gaan soek vir bewyse van daardie swak bestuur by die meeste munisipaliteite nie. In party dorpe en stede hoef 'n mens glad nie te soek nie – die verval is ooglopend.

Maar om na die minister se vraag terug te keer: Hoekom is swart bestuurders so swak? Dit geld beslis nie vir alle swart bestuurders nie en die probleem is waarskynlik ook nie dat hulle swart is of dat hulle bestuurders is nie. Die probleem is dat die regering 'n situasie geskep het waar talle swart bestuurders in hul poste beland het op grond van politieke konneksies en beleid wat hulle nie net bevoordeel nie, maar wat hulle in hoë poste ingelanseer het.

Onder normale omstandighede begin niemand op die boonste sport in 'n organisasie nie. 'n Mens begin deur te studeer of deur in 'n relatief junior pos te begin werk. Dan word ervaring opgedoen, foute word gemaak en daar word uit foute geleer. Gelukkig is 'n mens nog in 'n pos waar die uitwerking van foute redelik klein is. So word 'n mens afgerond tot waar jy gereed is om 'n bestuurspos te beklee. En selfs dan beweeg 'n mens gewoonlik nie direk van die eerste bestuurspos na 'n senior pos nie. 'n Kassier spring nie sommer oornag na die pos van uitvoerende hoofbeampte nie. Dit is hoekom die meeste senior bestuurders al redelik lank in die werkplek is en reeds baie ervaring opgedoen het. Daardie ervaring word nie oornag opgedoen nie. Dit is ook hoekom net omtrent 15% van bestuurders in die privaat sektor swart is.

Munisipale bestuurders, om die minister se voorbeeld te gebruik, is dalk die beste voorbeeld van hoe dinge dikwels vir swart bestuurders werk. 'n Mens sluit by die ANC aan, vaar goed in jou tak, of jy koop die regte mense om en siedaar – jy beklee 'n senior pos in die staat. Swart ekonomiese bemagtiging en die ANC se beleid van kaderontplooiing maak die deure wawyd oop vir enigeen, hoe onbevoeg ook al, om reguit na die bestuursvlak te spring sonder dat enige geleenthede vir opleiding benut of ervaring opgedoen is.

As dit nie moontlik was om so 'n sprong te maak nie sou baie van die onbevoegde persone dalk goeie bestuurders kon wees. Die ANC ontneem baie mense die geleentheid om hul beste te lewer, want die ANC verkies om transformasieteikens bo prestasie te stel. 'n Slaggat vra nie na die ras van die persoon wat besluit om dit te laat opvul nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close