Algemeen, Ekonomie, Politiek, SNI -

Miskien het dit tyd geword dat ons die ANC maar net glo

Ockham se skeermes, 'n beginsel wat ontleen is aan die 14de eeuse filosoof, Willem van Ockham, se leerstelling lui dat wanneer daar verskeie hipoteses is wat 'n verskynsel in 'n gelyke mate kan verduidelik, die hipotese gekies moet word wat die minste aannames bevat en die minste entiteite veronderstel. Anders gestel, in die lig van verskeie moontlike verduidelikings vir 'n verskynsel, is dit gewoonlik die beste om die eenvoudigste van die hipoteses te aanvaar.

Op 28 Februarie 2018 het die Suid-Afrikaanse parlement 'n mosie aanvaar om die proses vir onteiening van grond sonder vergoeding van stapel te stuur. Oombliklik het verskeie politieke kommentators weggespring met allerlei komplekse politieke ontledings en teorieë: Dit is net om die EFF se radikale wind uit hul seile te neem; dit is net vir verkiesingsdoeleindes; die ANC weet dit sal 'n ramp wees en wil dit nie regtig doen nie; dit is net om die Zuma-faksie tevrede te stel, en talle ander teorieë is aangevoer. Te midde van al hierdie teorieë lees 'n mens amper nooit die mees eenvoudige verduideliking raak nie, naamlik dat die ANC sê hulle ondersteun hierdie beleid en wil dit implementeer omdat hulle hierdie beleid inderdaad ondersteun en dit wil implementeer.

Dit is 'n probleem wat dikwels in die media na vore kom. In plaas daarvan dat skrywers bloot verslag doen oor wat gesê word, moet hulle dieper delf om te ontleed wat eintlik bedoel word. Dit geld vir die hele spektrum – Solidariteit sê dalk mooi dinge, maar hulle bedoel eintlik … [Geagte leser, voeg sommer jou eie kreatiewe, alternatiewe motiewe hier in. Hulle is almal ewe ongeldig.] Insgelyks mag Cyril se woorde dalk kommerwekkend wees, maar as die gepeupel net sy gedagtes kon lees soos wat ek kan, dan sou hulle gesien het dat hy dit eintlik nie bedoel nie.

Dalk het die tyd nou aangebreek dat ons die ANC eenvoudig glo wanneer hulle iets sê. Die beste verduideliking vir hoekom hulle iets sê, is immers omdat hulle werklik so dink. Die ANC wil grond sonder vergoeding onteien; hulle wil gesondheidsorg nasionaliseer; hulle dink dat alle grond in wit besit gesteel is. Hulle is, om dit eenvoudig te stel, primêr 'n sosialistiese party wat glo dat die staat bykans perkelose mag moet hê en dat die staat daardie mag moet gebruik om te transformeer, reg te stel en te vergeld. Ek weet dit, want hulle sê dit.

  • 221
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close