Mites en planne

Na afloop van die mosie oor onteiening sonder vergoeding in die parlement is Suid-Afrika in verwarring gedompel. Burgers van die land het verskeie baie ernstige vra: “Wat presies het gebeur? Wat het nie gebeur nie? Wat kan ons doen?”

Dit is 'n bitter ernstige saak, private eiendomsreg is die hoeksteen van enige ekonomie. Indien private eiendomsreg aangetas word, gaan dit alle Suid-Afrikaners ongelooflik nadelig raak. Zimbabwe en Venezuela se ondergang het begin toe daar aan private eiendomsreg gevat is.

Tog moet ons versigtig wees om paniek te saai, en seker maak ons werk met feite. Sodoende kan ons werkbare oplossings, gegrond op werklikhede, uitvoer en implementeer.

Mite 1: Die raak slegs landbougrond, dit gaan dan oor grondhervorming!

Artikel 25 van die grondwet handel oor alle eiendom. Daar is geen beperking tot landbougrond nie, daar is nie eers 'n beperking tot grond nie. Indien die mosie deurgaan dan stel dit die regering in staat om enige eiendom te onteien sonder vergoeding. Dit impliseer – pensioenfondse, buitelandse valuta, masjinerie en meenthuise in die stad.

Die mosie in die parlement was kommunisme vermom as rassisme.

Julius Malema, leier van die EFF, het op die trappe van die parlement verduidelik dat hulle droom van 'n land met geen private eiendom nie. Daar gaan geen herverdeling aan swart mense wees nie – die staat sal alles besit, en dit dan aan jou allokeer soos nodig.

Inteendeel – die ANC weet ook dat hierdie nie oor herverdeling of grondhervorming gaan nie. Kgalema Motlanthe, voormalige president van Suid-Afrika, het 'n ondersoekpaneel gelei wat bevind het dat vergoeding nie 'n struikelblok vir grondhervorming is nie. Die paneel bevind verder dat grondhervormingsdoelwitte bereik kan word binne die bestaande grondwet, as korrupsie uit die weg geruim word. Daarom is dit verbysterend dat die ANC 'n kommunistiese mosie steun wetend dit is nie die oplossing nie.

Ironies genoeg is hierdie pad al goed deurtrap deur talle ander lande. Die internasionale debat oor kommunisme is al jare terug beslis.
Miljoene mense wat gesterf het van honger in Sjina, Rusland, Zimbabwe en Venezuela het altyd die laaste sê oor die werkbaarheid van kommunisme.

In kort – hierdie mosie raak alle eiendom, nie net landbougrond nie, nie net grond nie, alle eiendom.

Mite 2: Hulle mag dalk die wet verander, maar Cyril sal dit nooit doen nie! Julle bekommer verniet!

Verbeel jou die volgende situasie.

Daar kom 'n mosie voor die parlement om die grondwet te verander. Die voorgestelde verandering laat die president van die land toe om te enige tyd enigiemand te vermoor. Hy kan enigeen in die land se teregstelling beveel of behartig – sonder enige vervolging daarna.

Die mosie gee hom in praktyk die mag om mense se reg op lewe te ontneem.

Sal jy gemaklik wees daarmee as die totale verweer is – “maar Cyril sal dit nooit doen nie!”? Wat van die president na Cyril, en die een daarna? Wat van 25 jaar van nou af? Sal jy gemaklik wees met Julius Malema wat sulke mag het, indien hy president word in die toekoms?

Dit is tog logies – mens beskou die reg op lewe as ononderhandelbaar. Geen president moet eers daardie opsie tot sy beskikking hê nie.

Waarom is die reg op lewe relevant tot private eiendomsreg? Die universele menseregteverklaring wat deur die VN aanvaar is in 1948 vervat die reg op lewe as artikel 3 en private eiendomsreg as artikel 17. Dit is hoe belangrik private eiendomsreg beskou word wêreldwyd.

Private eiendomsreg is nie onderhandelbaar nie, hierdie is nie 'n punt waarop mens toegee en kyk wat gebeur nie. Dit is 'n fundamentele basiese mensereg waar mens nie hoef in te gee nie.

Presidente word vervang, soos Jacob Zuma en Thabo Mbeki uitgevind het. Daarom durf mens nie toelaat dat jy op iets so gewigtig soos private eiendomsreg uitgelewer word aan die goedgunstigheid van die huidige regering nie.

In kort – private eiendomsreg is 'n ononderhandelbare mensereg, mens durf nie die beginsel prysgee nie.

Mite 3: Die proses is onstuitbaar, ons kan in elk geval niks doen nie. Dit is tyd om te emigreer

Daar is 'n reuse gaping tussen wette maak en wette implementeer. Die parlement kan wette maak tot hulle blou in die gesig is, sonder 'n staatsdiens wat daardie wette kan implementeer beteken dit niks nie.

Die gaping tussen wat die regering wil doen en wat hy kan doen vergroot deurentyd in Suid-Afrika. Inteendeel, ons sit met 'n uitstekende voorbeeld in die mislukking van e-tol. Ten spyte van goeie wette en ongelooflike boetes, kon die regering nie e-tol afdwing nie. Dit impliseer die Suid-Afrikaanse regering beskik nie oor die vermoë om 'n wet af te dwing as die algemene publiek weerstand bied nie.

Soos met e-tol, kan onteiening sonder vergoeding ook gestuit word.

'n Besonderse breë front word tans opgetrek teen onteiening sonder vergoeding. Dit bestaan uit Suid-Afrikaanse burgers van oor die hele spektrum, tradisionele stamhoofde, burgerregteorganisasies, politici en ambassadeurs is besig om saam te drom om die aanslag op private eiendomsreg te stuit.

Die gedagte dat hierdie regering oor die vermoë beskik om private eiendomsreg van 'n onwillige publiek af te neem is nie realisties nie. Jy praat van dieselfde regering wat nie handboeke by 'n skool kon aflewer nie.

In kort – 'n breë front van burgerlike weerstand het e-tol gesink, dit kan onteiening sonder vergoeding ook sink.

Plan 1 – Stem!

Die heel vinnigste manier om die mosie te stuit, is as die ANC uit die kussings gelig word in die 2019 verkiesing. Let wel – nie dat 'n ander party alleen regeer nie, net dat die ANC onder 50% daal.

Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel beteken dat elke liewe stem tel. So, maak doodseker jy is geregistreer om te stem, en stem dan vir een van die partye wat teen die mosie gestem het in die parlement. Dit is die DA, VF+, COPE en ACDP.

Indien die ANC onder 50% val in 2019, gaan hulle in koalisie moet regeer. Ideaal wil mens hê dat hulle dan noodgedwonge in koalisie met een van daardie vier partye moet gaan. Daardie party kan dan, selfs met slegs 2% steun, voorwaardes stel. Een van hierdie voorwaardes sal wees dat onteiening sonder vergoeding herroep word, anders kan die ANC nie regeer nie.

Daar is genoeg pragmatiese politici onder die ANC wat nie hardnekkig aan ideologie gaan vasklou ten koste van mag nie.

Plan 2 – Word hof-fiks!

Weens die opspraakwekkende aard van die wetgewing, gaan daar vir seker gelitigeer word. Inteendeel, daar is duisende organisasies wat die oomblik wat die wetgewing deur die parlement gaan reguit by die howe gaan instap.

Helaas is dit duur om hof toe te gaan, veral as jy die regering met hulle onuitputbare beursie aanvat. Die beste ding wat jy as burger kan doen tans is om sulke organisasies finansieel te begin ondersteun. Maak wel doodseker dat die organisasie wat jy steun wel teen onteiening sonder vergoeding is.

Suid-Afrika is nie 'n eiland nie, daar is verskeie internasionale verdrae wat ons onderteken het wat private eiendomsreg vereis. Dit beteken dat die hof nie net klakkeloos in die regering se guns kan beslis nie, daar is meriete in litigasie oor die kwessie.

Sterk die hande van organisasies wat hierteen gaan baklei, ons moet alles wat ons het in die stryd werp.

Plan 3 – DRUK!

Die grondwet is nog nie verander nie – die mosie het slegs die grondwethersieningskomitee getaak daarmee om te gaan kyk na moontlike veranderings.

Dit impliseer dat met genoegsame druk die regering nog afstand kan doen van hulle posisie. Die ANC onder Ramaphosa is baie meer vatbaar vir eksterne druk as onder Zuma. Veral as jy in ag neem dat die ANC self verdeel is op die kwessie – met genoegsame druk kan jy 'n verdeelde ANC forseer om terug te krabbel op onteiening sonder vergoeding.

Private eiendomsreg is so belangrik dat ons as burgers druk op enige en alle maniere moet uitoefen op die regering om afstand te doen van hierdie beleidsrigting.

Hoe lyk doeltreffende publieke druk?

As deel van die proses gaan die grondwethersieningskomitee geleenthede vir openbare deelname skep. Maak doodseker dat jy jou steun gee aan enige en alle organisasies wat deel gaan neem aan hierdie openbare deelnameproses. Hier is waar ons stem hard en duidelik gehoor moet word.

Wanneer die wetgewing oopgegooi word vir kommentaar, maak seker dat jy kommentaar lewer. Indien mens die parlement kan toegooi onder honderde duisende Suid-Afrikaanse burgers wat nie hierdie wetgewing wil hê nie, staan mens 'n kans om dit om te keer. Veral as dit vir die regering duidelik word dat wat hulle voorstaan glad nie deur die breër publiek ondersteun word nie. Die nuutste peilings van die Instituut vir Rasseverhoudinge wys dat slegs 2% van Suid-Afrikaners grondhervorming as prioriteit beskou, publieke druk sal hierdie werklikheid vir die regering tuisbring.

Uiteindelik gaan jy aan 'n optog of twee moet deelneem. Indien die regering roekeloos voortstoom op hierdie pad, is dit ons volste reg en verpligting om openbare protes aan te teken.

Die belangrikste is om seker te maak jy bly op hoogte van waar die proses trek, en dat jy deurentyd betrokke bly ten einde soveel druk as moontlik op die regering toe te pas.

In hierdie verband sal Solidariteit moeite doen om ten alle tye te kommunikeer wat die volgende stappe is en wat jy kan doen. Volg ons op sosiale media of sluit aan om seker te maak jy bly betrokke by die geveg.

Gevolgtrekking

Onteiening sonder vergoeding is 'n bitter ernstige bedreiging vir almal in Suid-Afrika se welstand.

Indien jy gaan onttrek en eenkant sit, gaan hierdie wetgewing deurgevoer word en met of sonder jou goedkeuring jou wesenlik affekteer. Raak betrokke en probeer dit stuit met alles moontlik.

Onthou – soos Dr. Pieter Groenewald van die VF+ in die parlementêre debat gesê het – jy mag dalk klaar wees met die politiek, maar die politiek is nie klaar met jou nie.

  • 181
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close