Algemeen -

MiWay-baas klap Afrikaners en toe klap hulle terug

Die uitvoerende hoof van MiWay, René Otto, het ’n twiet – nadat hy die boek The Lost Boys of Bird Island gelees het, uitgestuur wat Afrikaners en sosiale media gebruikers behoorlik ontstel het. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, reageer in ’n opebrief op Otto se twiet.

 

Beste René

Ek sien jy het om verskoning gevra vir jou twiet wat jy uitgestuur het nadat jy The Lost Boys of Bird Island gelees het. Ek wil graag deur die brief 'n perspektief bied oor hoekom Afrikaners so woedend op jou twiet gereageer het.

Dit is mos deesdae hoogmode om Afrikaners te kriminaliseer. As jy dit self doen, dink jy mos jy het jouself van die smet van die bose gemeenskap gereinig.

So het jy met jou twiet ook by die koor van stemme ingeval. Jy gebruik 'n boek, wat oor 'n pedofielnetwerk handel en op wankelrige bene staan, om sommer in die proses 'n klap uit te deel in die rigting van die Afrikaners van vandag wat glo hulle is die uitverkore volk van God en steeds in ontkenning leef oor die vernietiging van die apartheidsera.

Dit ten spyte daarvan dat twee sentrale karakters in die verhaal, naamlik die besigheidsman van Port Elizabeth, Dave Allen, en die voormalige NP-minister van omgewingsake, John Wiley, Engelsprekend was.

Of die feite in die boek glad nie, gedeeltelik of die volle waarheid is, is nie hier relevant nie. Jou klap na die hedendaagse Afrikaner was onvanpas en eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Die reaksie op jou twiet was oorweldigend en jy het om verskoning gevra vir die manier hoe jou twiet geïnterpreteer is. Volgens die verklaring wat later uitgereik is, was dit nie jou bedoeling om enige persoon of kultuur seer te maak nie.

Jy sê ook jy het die boodskap in jou persoonlike hoedanigheid getwiet, maar jy kan jouself en jou posisie by MiWay nie van mekaar skei nie. Jy het jou magsposisie misbruik. Jy is die uitvoerende hoof van MiWay en ek is bekommerd dat jou “opregte” berou dalk te make het met die skade wat MiWay gely het. Die probleem is nie die interpretasie van jou twiet nie; dit is jou twiet.

Afrikaners is moeg daarvan om geboelie en gekriminaliseer te word en jy het dit onderskat. Wat jy selfs meer onderskat het, is Afrikaners se reusekoopkrag. Wat jy onderskat het, is dat Afrikaners steeds meer as 30% van die finansiëledienste-koopkrag in Suid-Afrika het. Ek weet nie hoeveel Afrikanerkliënte MiWay het nie, maar ek vermoed dit is heelwat.

Hoewel hulle 'n klein groep is, maak dit van hulle 'n formidabele faktor om mee rekening te hou in die sektor waarin jy werk. Ek sou ook jammer gewees het as ek dié groep woedend gemaak het.

Om een of ander rede het jy egter steeds gedink dit is in orde om 'n klap in hul rigting te mik. Dit is mos polities korrek om dit te doen. Op sosiale media het die Afrikaners teruggeklap.

Daar is drie instellings wat 'n groot invloed op jou lewe gehad het. Die eerste is jou alma mater, die Universiteit van Pretoria (Tukkies). Deur Tukkies het jy jou kennis verwerf en is jy aan sekere waardes blootgestel wat jou gevorm het. Dit het jou in staat gestel om vandag die hoof van MiWay te wees.

Die ander twee instellings is Santam en Sanlam, wat geboorte aan MiWay gegee het.

Die drie instellings is instellings wat uit die Afrikaner se swaarkry gebore is. Dié instellings het hul destydse omstandighede te bowe gekom en het dit uitpresteer. Hul stories is merkwaardige stories. Dit is asof jy met jou twiet hierdie geskiedenis net eenvoudig wil ontken, al is dit Afrikanerinstellings en -waardes wat jou help vorm het.

Die drie instellings se stories is in breë trekke in der waarheid ook maar die storie van die Afrikaners. Dit is ook die stories wat my gevorm het en ek is ongelooflik trots daarop. Die volle Afrikanerstorie is my storie – die swaarkry, die opstaan, die kampe, die helpmekaar, die hartseer, die vreugde, die armoede en die reddingsdaad. Insgelyks was daar ook vergrype en verryking; 'n honger na mag en magsmisbruik; vernedering en uitsluiting van ander. Dít alles het my gevorm. Die goeie maak egter nie ons volle storie heilig nie en die slegte kriminaliseer ons nie.

Net so is daar goed en ook heelwat kwaad te vind onder alle volke in die wêreld – dink maar aan die Engelse, Duitsers, Russe, Japannese en, hier op eie bodem, aan die Zoeloes en die Afrikaners.

Dit is hoekom die wyse president Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed en edel is en bou daarop die toekoms.”

Jy het dit nie gedoen. Jy het verval in die goed-kwaad-beoordeling van die geskiedenis en Afrikaners is aan die kant van die kwaad. Die geskiedenis is nie so simplisties nie en Afrikaners is moeg vir die soort beoordeling van hul geskiedenis. Ek is moeg daarvan om net as boos uitgebeeld te word, veral deur mense wat wil wys: “Ek is nie so nie”.

Jy het Afrikaners onnodig geklap. Hulle het teruggeklap, want Afrikaners is nie te klap nie.

 

  • 1.2K
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close