Algemeen -

Moenie val vir leuens oor deregulering nie

Solidariteit, en ek self, voer sedert die einde van verlede jaar 'n veldtog teen prysvasstelling in die brandstofbedryf. Eers het ander burgerregtegroepe en organisasies gesê ons is mal. Deregulering sou nooit gebeur nie en ons mors ons tyd, het hulle gesê. Toe kom die aankondiging op 31 Maart 2022, in die parlement en in 'n mediaverklaring deur die betrokke ministers. Hulle kondig aan dat brandstof vanaf 1 Junie gedereguleer word – diesel heeltemal en 93-oktaan-petrol op kleinhandelvlak. Skielik moes die brandstofbedryf sy fokus verskuif, eers deur druk op die regering om hul besluit te hersien, wat gewerk het, en toe deur kunsmatige paniek, onsekerheid en blatante leuens te versprei.

Buiten hul eie verklarings het hulle ook 'n paar prominente ekonome gekoöpteer om hul saak aan te voer. Hulle voer aan dat deregulering tekorte en selfs hoër pryse tot gevolg sal hê. Daar is net drie redes om so te sê: oningeligtheid; 'n ongesonde verknogtheid aan die status quo; en 'n weersin in verandering, of meer waarskynlik, 'n belang in of vriende met belange in die brandstofbedryf.

Gesonde mededinging het nog nooit hoër pryse tot gevolg gehad nie, dus gaan ek nie eers daaraan aandag gee nie. Wat die moontlikheid van tekorte betref, word ons blatant mislei Ek kan nie dink dat ons kritici opreg glo aan die snert wat hulle tans kwytraak nie. Kom ons kyk na twee voorbeelde van tekorte in Suid-Afrika: Marmite en elektrisiteit.

Onder normale omstandighede is Suid-Afrika nooit 'n land wat onder groot tekorte gebuk gaan nie. Dit is grotendeels omdat ons 'n vryemarkomgewing het. Selfs tydens die vroeë fase van die pandemie kon ons nog, sonder 'n groot gesukkel, toiletpapier en saniteermiddels koop. Toe begin die regering om produkte baie streng te reguleer. Die ergste was waarskynlik die skielike oorregulering van die drankbedryf. En skielik is daar 'n tekort aan Marmite, want dit word van gis uit die bierbedryf gemaak. As daar nie oortollige gis is nie, is daar nie Marmite nie. Tekorte kom saam met regulering.

Elektrisiteit en die prys daarvan is waarskynlik die mees gereguleerde deel van ons ekonomie. Dit is ook verreweg die segment waar daar die meeste tekorte voorkom. Ook hier is dit as gevolg van die oorregulering van die bedryf dat Eskom 'n monopolie het, ten spyte daarvan dat die bedryf amptelik oopgestel is vir mededinging. Die probleem is dat die regulasies onsekerheid laat ontstaan. Wie sal die elektrisiteit van nuwe kragstasies versprei? Sal Nersa regverdige pryse toestaan? Hoe lank sal dit neem om aan die netwerk gekoppel te word? Omdat hierdie besluite aan staatsinstellings oorgelaat word, is dit amper onmoontlik om hierdie vrae te beantwoord.

Brandstof is anders. Ons het reeds 'n gediversifiseerde waardeketting, met verskeie maatskappye wat brandstof invoer en vervaardig. Dan is daar ook verskeie groothandelaars en kleinhandelaars waarvan die meeste aan die invoerders of vervaardigers gekoppel is, en ander wat volkome privaat is en van leweransiers kan verander. Deregulering sal die deur vir mededinging oopmaak, wat laer pryse tot gevolg sal hê. Ons het dit reeds in die dieselmark gesien met die kleinhandelderegulering. Ons wil dieselfde sien op groothandelvlak – dié keer nie net vir diesel nie, maar vir petrol ook. Ons wil nie vyande van vulstasie-eienaars maak nie, maar ons wil ook nie meer betaal as wat nodig is nie. Ek gaan nie daarop aandring dat my plaaslike vulstasie-eienaar honger ly nie, maar ek gaan ook nie langer toekyk hoe hy deur die staat gedwing word om 'n buitensporige wins te neem nie.

Dit isdat baie van hierdie eienaars destyds op die grens geveg het teen kommunisme en vandag die grootste kampvegters vir kommunistiese ideologie soos prysvasstelling is.

Deregulering lei tot 'n meer effektiewe markomgewing met laer pryse. Dit is ook nie net ons navorsing wat dit sê nie. Die VN se navorsing het dieselfde bevind vir die brandstofbedryf. So ook navorsing deur ons tesourie self. Moenie vir leuens uit die bedryf val nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close