Uncategorized @af -

Moet jy die leer klim of die fondasie lê?

Nie te lank gelede nie sou mense sê dat iemand wat kort-kort van werk verander, besig is om rond te val, en hulle sou geykte uitdrukkings gebruik soos “a rolling stone gathers no moss,” of “’n swerwer bly 'n derwer”. Mense het dit as deugsaam beskou as iemand aftree by dieselfde plek waar hy of sy hul loopbaan begin het.

Vandag is mense se grootste vrees dikwels eerder om te stagneer. Iemand sê nou die dag sy reël is om nooit langer as drie jaar in 'n pos of tien jaar by 'n instansie te bly nie.

'n Mens kan nie veralgemeen nie, maar vir die meeste mense wat loopbane met bevorderings en variasie nastreef, is laasgenoemde dalk nader aan die waarheid. Dieselfde geld gewoonlik vir die hele samelewing. As iemand nie iewers begin nie, is daar niks om op voort te bou nie. So 'n beginnerspos dien dan as fondasie wat goed gelê moet word. Heel dikwels is dit goed om langerig aan te hou om aan vaardighede te skaaf voordat 'n loopbaan op die fondasie gebou kan word. Dit maak daarom sin om soveel geleenthede as moontlik te skep.

Ongelukkig is dit selde effektief wanneer geleenthede op kunsmatige wyses geskep word. Wanneer poste sommer net geskep word om werkloosheid te verlig, het dit selde die gewenste uitwerking. 'n Voorbeeld daarvan is die Wet op Petroleumprodukte wat Suid-Afrikaners verbied om hulle eie petrol in te gooi. Behalwe dat dit die prys van petrol opjaag, het dit na alle waarskynlikheid nie die gewenste effek op die ekonomie nie. Ja, daar word werk geskep, maar dit is nie werk met vreeslike bevorderingsgeleenthede nie. Die lang ure wat petroljoggies werk, verhoed hulle ook om ander werk te soek, so dit is selde net 'n wegspringplek.

So stagneer 'n hele ekonomie. Die meeste van ons kan uit eie ondervinding daarvan getuig dat werksoek 'n voltydse werk is. Dis ook nie lekker nie. Jy moet met elke aansoek 'n dekbrief skryf, en gewoonlik hoor jy nooit weer iets nie. Dan kry jy dalk 'n onderhoud, wat gewoonlik ook nie op veel uitloop nie, want vir elke pos word 'n paar mense oorweeg, maar net een kry dit. Tot jy dit kry. Dan hou jy ook op om nuwe werke te soek, want jy het mos een, en soos ek gesê het, werk soek is nie lekker nie.

Dan loop 'n mens natuurlik die gevaar om te stagneer in 'n pos wat in die eerste plek nie die droom was nie. Dit maak dit nog belangriker om nie kunsmatige werke soos vlagswaaiers by padwerke te skep nie. Daardie geld kan beter bestee word en daardie persone kan hul talente veel beter elders gebruik. Sulke werke is die laaste plek waar 'n mens iemand wil laat stagneer.

'n Veel beter plek om te begin sou wees om alle regulasies wat mense uit werke hou, te skrap. Die selfde geld vir wette en regulasies wat werke skep. As die mark nie bepaal dat 'n  werk moet bestaan nie, is dit altyd beter om dit maar te laat gaan. As 'n werk egter wel moet bestaan, maar die staat is in die pad, is dit amper altyd tot nadeel van die hele land. In ons geval veroorsaak dit armoede, misdaad en ekstra belastings om toelae te betaal.

Foto bron: Nick Fewings on Unsplash

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close