Moet nooit die Afrikaner afskryf nie

Geskryf deur: Eugene Brink


Dit is ongetwyfeld so dat Afrikaner as groep tans op talle vlakke in ʼn oorlewingstryd betrokke is. Fisiek word ons onder meer op plase vermoor en ook op kampusse geteiken. Sielkundig word ons geteiken met holle maar gevaarlike frases soos “radikale ekonomiese transformasie”, wat natuurlik fasette soos die onteiening van plase sonder vergoeding insluit. Ons geskiedenis word gekriminaliseer en op eensydige wyses aangebied en ons kinders moet dit dan op skool leer.

 

Onlangs het dr. Frans Cronje, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding (SAIRV), ontstellende en fatalistiese gegewens oor die wit bevolking in Suid-Afrika se demografie in Rapport gegee, ʼn ontleding oor emigrasie en aanwaskoers gedoen en ʼn ontstellende gevolgtrekking gemaak: Dat die land sy wit bevolking teen 2040 kwyt sal wees.

 

Dat die wit bevolking se aanwaskoers nie rooskleurig lyk nie en dat Afrikaner-emigrasie ook skadelik is vir ons voortbestaan as groep, is gewis. Dit mag dalk so mag wees dat Suid-Afrika se wit bevolking teen 2040 heeltemal weg is of weglaatbaar klein geword het, maar hierdie ontleding en gevolgtrekking word gemaak deur huidige tendense in die toekoms in te projekteer sonder om onbekende en onverwagse toekomstige faktore – wat baie waarskynlik is – in ag te neem. Ons sal maar moet wag en sien wat gaan gebeur.

 

Nog altyd ʼn oorlewingstryd

 

Afrikaners was eintlik nog altyd beleërd en onder druk. En ons is ook uiters uniek. Ons is ʼn wit volk wat op sy eie aan die onderpunt van Afrika met sy eie taal en kultuur ontstaan het. Ons kon nie nie soos die Franse, Portugese, Belge en Engelse op bote of vliegtuie klim en teruggaan na ons vaderlande toe nie, want Afrika is ons heimat.

 

Ons voorvaders het die Groot Trek onderneem om weg van Britse bewind te kom en meer politieke en kulturele vryheid vir hulself te bewerkstellig. Tydens die Groot Trek het hulle groot ontberinge en verliese gely weens konflik met die swart stamme, maar vryheid en selfstandigheid was ononderhandelbaar vir hulle. Later in die 1800’s sou hulle oorlog moes voer teen die ou vyand, Groot Brittanje, en ná die Tweede Anglo-Boereoorlog sou dit maklik gewees het om ʼn verslane volk, wat ekonomies ook onderontwikkeld was en baie van sy bates in die oorlog verloor het, af te skryf as ʼn voetnota in die geskiedenis. ʼn Britse militêre en politieke sege het ook ʼn kulturele en ekonomiese sege geword soos Lord Milner sy verengelsingsbeleid met mening wou uitvoer. Hierdie druk kon dalk net ʼn beleërde en verslane volk se moed en rug oplaas breek.

 

Maar dit het nie en ek kan met groot selfvertroue aanvoer dat ʼn Hoër Hand ander planne vir hierdie volkie aan die suiderpunt van Afrika gehad het. Want ondanks daardie druk en ontberinge, of liewer wééns daardie druk en ontberinge, is die Afrikaner finaal tot volk gesmee en het hulle ongekende suksesse behaal. Milner se beleide het tot die stigting van private Hollandse skole met ʼn Christelike karakter gelei. Afrikaans is sy status as amptelike taal in 1925 verwerf, te midde van Afrikaner-armoede en verlies. Instellings vir besigheid en kultuur is in die eerste helfte van die 20ste Eeu met ongekende welslae opgerig. Dit het gebeur in weerwil van Britse vyandigheid. Daar was mans en vroue wat geweier het om op te gee – nes ʼn ander generasie ʼn tevore geweier het om op te hou – en wat besef het die enigste pad is vorentoe. Hulle het hard gewerk, risiko’s geneem, hul mense polities bearbei en georganiseer, in hulself en ook hul volk en God geglo en geduldig aan iets groots gebou en hul geloof in die toekoms behou.

 

Natuurlik was daar in daardie tye ook diegene wat nie geglo het dit is nie die moeite werd nie en dat ons voorvaders hul tyd mors en eerder net moet verengels en lojaliteit aan die Britse kroon betuig. Maar die Boer wou nie gaan lê nie en het vasberade voortgebeur, geval, opgestaan en weer voortgebeur. Dit is net nog ʼn bewys van hoe die geskiedenis heeltemal anders verloop as wat baie keer verwag word.

 

Dit wil blyk asof die Afrikaner aan die begin van elke eeu ʼn krisis van oorlewing ervaar. Nou is dit die ANC, EFF en hul meelopers, eerder as die Britte, wat hul bes probeer om ons kultureel te laat ontbind en ons in ekonomiese en politieke knegskap te hou. Hulle wil ons bestaan hier as illegitiem uitbeeld en ons onwelkom in ons eie land laat voel. Maar nes vorige generasies is hierdie geslag Afrikaners ook besig om ten spyte van, maar ook wééns, hierdie druk hul selfvertroue terug te kry en suksesvol by die nuwe omstandighede aan te pas. Weer eens het hulle selfstandige en sterk instellings gevestig en besef die staat is nie die antwoord nie, maar deel van die probleem. Dit wat net in die Solidariteit Beweging geskep is, is niks minder nie as ʼn wonderwerk en tekenend van ʼn gemeenskap wat weier om boedel oor te gee.

 

Die Afrikaner is dood. Lank leef die Afrikaner!

 

Deesdae is daar heelwat doodsberigte oor die Afrikaner as groep en volk – veral deur onkundige oorsese joernaliste en ontleders. Hulle kyk oppervlakkig en vlugtig na die land en Afrikaner se situasie en skryf ons af – so asof hul eie situasies perfek met ons sʼn strook. Maar hulle besef nie waarvandaan ons kom nie. Hulle besef nie dat ons juis presteer en gedy wanneer ons beleërd is. Ons gebruik struikelblokke as boustene. Die vermaarde historikus prof. Hermann Giliomee het juis onlangs in ʼn onderhoud in Rapport gesê wat sy lewe sin gegee het, is om deel te wees van ʼn klein groepie wat al telkens in die verlede afgeskryf is, maar elke keer op onverwagse maniere terugkom. Amen.

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close