My Gesondheid -

MPV-immunisering – noodsaaklike beskerming teen servikskanker

Die menspapilloomvirus of MPV is die hoofoorsaak van servikskanker – die tweede algemeenste tipe kanker naas borskanker by Suid-Afrikaanse vroue. Bykans 80% van die meer as 5 000 gevalle wat jaarliks aangemeld word, waarvan meer as 3 000 fataal is, word deur MPV veroorsaak.

Internasionale en plaaslike navorsing het bewys dat die beste ouderdom vir MPV-inenting van nege tot 13 jaar is. Op hierdie ouderdom kan die mens se liggaam die beste op immunisering reageer, wat die optimale vervaardiging van beskermende teenliggaampies tot gevolg het. Die inenting word in twee tot drie dosisse – afhangend van die pasiënt se ouderdom – binne ’n sekere aantal maande toegedien. Twee produkte is tans in Suid-Afrika beskikbaar, naamlik Cervarix en Gardasil.

Behalwe vir servikskanker kan MPV ook die genitale area, mond en keel aantas en die virus word hoofsaaklik deur seksuele kontak oorgedra. Hierdie feit het kontroversie oor die MPV-inenting laat ontstaan en sommige organisasies is selfs teen die inenting gekant, omdat hulle meen dat dit vroeë en riskante seksuele gedrag by jong meisies aanmoedig.

Volgens data van inentingsveldtogte in Amerika en Australië sedert 2007 is daar egter geen bewyse dat meisies wat ingeënt is verhoogde, vroeë of riskante seksuele aktiwiteit getoon het nie. Die data het wel ’n skerp afname in serviks-abnormaliteite gewys.

Wits se Instituut vir Reproduktiewe Gesondheid en MIV (WRHI) stem saam dat daar baie min bewyse bestaan dat die inenting vroeë seksuele aktiwiteit kan aanmoedig. Die instituut beklemtoon dat die inenting teen die aanbevole ouderdomme toegedien moet word voordat jong meisies seksueel aktief raak, want dan is hulle nog nie aan die virus blootgestel nie.

Die Suid-Afrikaanse nasionale departement van gesondheid het vroeër ’n veldtog geloods om meisies by skole teen MPV te immuniseer om die voorkoms van servikskanker te verlaag. Data van hierdie veldtog dui reeds op ’n afname in die voorkomssyfer van hierdie siekte ongeag bewerings tot die teendeel wat op sosiale media verskyn het, maar sulke bewerings is nie op wetenskaplike navorsing gebaseer nie. Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MCC) het ook die skeduleringstatus van die entstof gewysig van skedule 4 na skedule 2, wat aandui dat die MCC gerus is oor die veiligheid van hierdie inentings. Dié wysiging bevorder ook toegang tot die immunisering, aangesien jy nie ’n voorskrif vir ’n skedule 2-produk benodig nie.

Feite oor servikskanker

  • Na raming word 500 000 vroue jaarliks wêreldwyd met servikskanker gediagnoseer.
  • Een uit 42 Suid-Afrikaanse vroue word met servikskanker gediagnoseer.
  • Meer Suid-Afrikaanse vroue sterf van servikskanker as van enige ander soort kanker.
  • Die meeste sterftes weens servikskanker kom voor in ontwikkelende lande waar toegang tot toetse en behandeling beperk is.

Feite oor MPV-inenting

  • Die entstof word vervaardig van een van die proteïene van die virus om die liggaam te help om teenliggaampies te vervaardig.
  • Inenting kan nie MPV-infeksie of kanker veroorsaak nie.
  • Dit teiken die MPV 16- en 18-stamme – die vernaamste oorsaak van servikskanker.
  • Dit het geen uitwerking op toekomstige vrugbaarheid nie, maar kan tot 90% beskerming bied teen servikskanker wat deur MPV veroorsaak word.

Moontlike newe-effekte van MPV-inenting

Soos met enige ander inenting kan MPV-inenting ook newe-effekte veroorsaak. Die meeste newe-effekte wat aangeteken is, is slegs gering, soos rooiheid waar die entstof toegedien is, en dit het vinnig opgeklaar.

Die algemeenste newe-effekte is:

  • Teerheid, rooiheid of effense swelling waar die entstof toegedien is
  • Hoofpyn of effense moegheid
  • Koors
  • Naarheid
  • Gewrig- en/of spierpyn

Medihelp bied voordele vir MPV-inenting vir sowel manlike as vroulike pasiënte op die Dimension-reeks van voordele-opsies as deel van die voordele vir voorkomende sorg. Jy kan jou voordele op die Medihelp-toepassing vir lede nagaan, Medihelp se beveiligde webtuiste vir lede besoek of met ’n konsultant by Medihelp gesels by 086 0100 678.

Toediening van die MVP-entstof is onderhewig aan mediese protokolle wat jou dokter of apteker sal toepas na gelang van jou kind se ouderdom.

  •  
  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close