Algemeen, Gemeenskappe, Kultuur -

My toekoms is hiér en net hiér!

Deur Reon Janse van Rensburg

 

Geliefde mede-bouers

 

“Afrikaners het nie meer leiers nie.”

“Ons kort leiers.”

 

Klink die woorde bekend? Het jy dit self al langs die braaivleisvuur genoem?

 

Waarom is die Afrikaanse gemeenskap so gepla met die idee van leierskap? Is dit 'n teken dat ons ons vertroue in ander plaas omdat ons onseker is oor ons eie vermoë om die daad by die woord te voeg en die probleme wat ons in ons eie gemeenskap raaksien nie self aan te pak nie?

Regdeur die lewe word leiers gekies. Leiers dien op verskeie platforms. Hulle word geïdentifiseer en daar word aan hulle vertel dat hulle eienskappe het wat ontgin moet word. Die ontwikkeling van hierdie eienskappe is goed en ook nodig, maar iewers is daar fout.

Iewers in ons lewens begin ons in onsself twyfel, dalk omdat ons vertel word dat almal nie leiers is nie. Dit maak dit ook moeilik om jouself te vereenselwig met leiers omdat 'n leier jou vertroue moet wen.

As ons dan nie leiers kort nie en ons nie almal leiers is nie – wat kort ons dan?

Die antwoord lê by mense wat in tye van nood hul hande opsteek en help waar dit nodig is en wat op enige manier 'n verskil maak in 'n tyd van krisis of in 'n tyd van wanhoop.

Hierdie mense is beter bekend as helde. Dit is mense wat nie weghardloop van onsekerheid of gevaar nie, maar wat na die gevaar toe hardloop, die oorsaak soek en ten spyte van onsekerhede die probleem takel en met 'n plan vorendag kom om hierdie probleem op te los en te voorkom dat dit weer gebeur.

Helde is nie noodwendig slegs die mense wat groot dinge aanpak en om dié spesifieke rede bekendheid verwerf nie. Helde is alledaagse mense soos ek en jy – die onderwysers wat in die aand lesse voorberei vir die volgende dag en hul eie tyd met hul eie mense in die proses prysgee.

Helde is die polisiebeamptes wat ten spyte van baie jare se diens en ondervinding nie bevorder word nie, maar steeds opdaag vir hul skofte om seker te maak dat jy vanaand veilig kan slaap.

Helde is die boere wat steeds saai al weet hulle nie of daar reën gaan wees wat die saad sal laat groei nie. Sonskyn is 'n sekerheid, maar water is skaars en geloof, dié is 'n noodsaaklikheid!

Helde is die mense wat mekaar in die verkeer 'n kans gee sodat jy vanaand veilig by jou mense kan kom.

Helde is die mense wat leer om mekaar te groet, in meer as twee van die amptelike tale. Helde reik uit na ander gemeenskappe en bou brûe waar daar nie voorheen brûe was nie.

Helde weet dat hul eie vermoë om 'n verskil te maak in hul gemeenskappe en ook in Suid-Afrika nie van ander afhanklik is nie en dat hulle self dinge kan laat gebeur!

Oral om my sien ek helde raak. Ons hoor in die nuus van helde, ons sien hulle op TV en nou ook in jou brein! Suid-Afrikaners se harte is dié van helde. Helde wat oplossings vir probleme soek en nie mislukkings is op soek na probleme by die oplossings nie.

As jy nie die held in jouself raaksien nie, gaan kyk in die spieël en sê die woorde vir jouself op:

DIT IS MY MENSE; DIT IS MY TYD!

Jy is 'n held! Glo dit, doen dit en leef dit!

 

Hier om te bly

 

Raak betrokke, al begin dit klein.

Wees wie jy is, maar moenie verdwyn.

Bly hier, net waar jy is.

Hier by jou mense,

word jy geroep.

 

Helde gee antwoord,

kom staan vas hier langs my,

bou hier saam,

nêrens anders,

hiér en hiér om te bly!

 

  • 2
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close