Algemeen -

My tweede jaar van werk

Ek werk 'n jaar lank… Wat nou?

Die meeste mense het baie dinge te sê oor jou eerste jaar van werk, soos byvoorbeeld dat jy sal moet aanpas, dat jy harder as ander sal moet werk, dat jy die minste moet wees en dat dit heel moontlik nie 'n baie lekker jaar gaan wees nie.

Maar het iemand al ooit met jou gepraat oor jou tweede jaar van werk? Verander alles ewe skielik?

Ek is tans in my tweede werkjaar – en die antwoord op hierdie vraag is volgens my 'n bietjie meer ingewikkeld as dit.

Nee, dinge verander nie plotseling die dag wanneer jy 'n jaar lank gewerk het en jou tweede jaar binnegaan nie. Of altans, dit het nie vir my nie. Wat ek wel kan sê, is dat dinge eintlik begin verander sodra jy die eerste dag van jou heel eerste werkjaar betree.

Van die eerste dag wat jy begin werk, begin die wiel draai. Jy leer elke dag dinge wat jy nog nie vantevore geleer het nie. Jy voel onseker tot jy 'n ding een of twee keer gedoen het, en dan is dit waarskynlik ou nuus. Die verskil tussen jou eerste en tweede werkjaar is egter dat jy die tweede jaar met 'n volle jaar se ervaring agter jou naam betree.

In my tweede werkjaar het ek baie meer verantwoordelikhede as in my eerste jaar, maar dit maak my nie bang nie, want nou kan ek hierdie dinge met selfvertroue doen. Ek leer steeds elke dag, en ja, ek maak steeds gereeld foute.

Ek dink dis maklik om te voel dat jy weinig in jou eerste jaar bereik het. My raad hiervoor is egter om 'n oomblik agteroor te sit en te kyk waar jy was toe jy die eerste keer by die werk ingestap het, en waar jy nou is. Dink dan waar jy in jou derde jaar sal wees as jy in jou tweede jaar net soveel groei, en dan lyk die prentjie ewe skielik nie meer so donker nie.

Wanneer 'n mens 'n jaar lank gewerk het, ontstaan die vraag ook of dit tyd is om dalk na 'n nuwe werk toe te skuif. Wel, niemand kan vir jou sê wat jy moet doen nie. Vra jouself die volgende vrae af wat jou moontlik met hierdie keuse kan help:

  1. Word ek uitgedaag en gestimuleer waar ek tans is?
  2. Is daar geleentheid om te groei en bevorder te word waar ek tans is?

Onthou, dis normaal om steeds oor baie dinge onseker te voel as jy reeds vir 'n jaar lank werk. Om een jaar te werk is 'n baie klein deel van jou loopbaan wat waarskynlik 40 jaar lank gaan wees. Kyk vorentoe met hoop, en onthou waar jy begin het!

  •  
  •  
  •  
Deur Chereé Meyer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close