Al is jou werk soms veeleisend of uitdagend moet dit steeds vir jou lekker wees om dit te doen en om hard te werk. Om soggens vroeg uit die vere te wees, werk toe te ry terwyl jy dink aan die opwinding wat die nuwe ’n nuwe dag vir jou gaan bring, 'n dag met nuwe moontlikhede, uitdagings en suksesse, is ’n teken dat jy vreugde by die werk vind.

Dit is belangrik om te besef dat vreugde wat jy by die werk beleef nie 'n bestaande voordeel is wat saam met die pos kom nie. Dit word bewerkstellig deur jou eie optrede en houding teenoor die werk.

Om volkome vreugde in jou werk te ervaar, moet jy besef dat jou lewe en werk ’n gawe uit die Here se hand is en iets is wat jy moet koester en geniet. Dit is baie maklik om in ’n roetine vas te val. Aanvanklik is jy opgewonde omdat die werk nuut is, maar as jy nie die uitdaging in elke dag soek nie, kan jy in ’n groef beland wat die vreugde uit elke werksdag sal haal.

Hier is drie wenke wat jy kan volg om vreugde uit jou werk te put:

  1. Ontwikkel 'n sosiale sirkel

Jy gaan baie meer vreugde by die werk ervaar as jy omring is deur kollegas wat ook 'n positiewe uitkyk het. Raak betrokke by die kollegas, gesels met hulle, deel jou probleme en uitdagings met hulle. Hulle sal jou help as jy sukkel of as jy dalk 'n bietjie perspektief verloor het.

  1. Wees op die uitkyk vir geleenthede om te groei eerder as om op mislukking ingestel te wees

Dit is belangrik om jouself te beskerm in die werkplek, maar soms kan ’n mens jouself té veel beskerm en dan is jy skepties oor nuwe geleenthede. Gevolglik geniet jy nie die voordeel wat hierdie geleenthede jou kan bied nie. Moet nooit ophou soek na nuwe geleenthede nie; gryp dit aan en maak die beste van elke saak.

  1. Lê genoeg moed aan die dag om te praat

Moet nooit te bang wees om te praat nie. As jy nie geniet wat jy doen nie, of as jy verveeld is met jou werk en op soek is na groter uitdagings, praat met jou bestuurder. Hy of sy gaan nie daarvan weet as jy hulle nie sê nie. Deur oop kaarte te speel, kan dit baie deure vir jou oopmaak wat beteken dat jy nuwe dinge omtrent jouself gaan ontdek.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close