Algemeen -

'n ANC-resep vir zombie-kapitaal

Hoe skep jy 'n ekonomie wat met zombie-kapitaal deurspek is? Die ANC-regering het 'n resep daarvoor. Die plan is eenvoudig: vergiftig die sake-omgewing met skadelike beleid en onteien ondernemings, soos die plase, wat doeltreffend in die vrye mark presteer, en plaas hulle onder ondoeltreffende en korrupte staatsbeheer.

 

Wanneer dit later aan die lig kom dat sulke ondernemings nie op hul eie voete kan staan nie, wyk dan nie af van swak beleid nie; inteendeel, hou eerder sulke mislukkings met subsidies en belastinginspuitings kunsmatig aan die lewe. Dit gaan beteken dat vele van dié “ondernemings”, soos die wandellende dooies in gruwelfilms, ronddwaal met 'n ewige honger, nie vir harsings nie, maar vir belastinggeld en regeringhulp.

 

Zombie-kapitaal kan aansluit by die gedagtes van die Peruaanse ekonoom Hernando de Soto oor “dooie kapitaal”, wat verwys na bates wat weens onbestendige of swak eiendomsregte nie doeltreffend aangewend kan word nie. Dit gebeur omdat bykans niemand geld en arbeid wil belê waar eiendomsregte baie swak of in uiterste gevaar is nie.

 

Zombie-kapitaal is nie net dooie kapitaal nie. Iets wat dood is, is onaktief. Soos die groot banke wat in die VSA belastingreddingsboeie ontvang het, is Zombie-kapitaal rolspelers wat die ekonomie aktief beskadig. Zombie-kapitaal verhoog ekonomiese ondoeltreffendheid. Dit slurp hulpbronne op en verkwis dit ekonomies gesproke.

 

Om Zombie-kapitaal te skep, is makliker as wat mense dink.

 

Die resep is soos volg: verswak eenvoudig mense se sekerheid oor hul besitregte – dit sal reeds sakelui en beleggers die skrik op die lyf jaag, wat sekere bedrywe en ondernemings sal doodmaak. Dit kan egter 'n paar stappe verder geneem word.

 

Skep terselfdertyd 'n samelewing waarin die waarde van jou produk of diens nie die grondslag van sakesukses is nie, en waar toegang tot vele bedrywe tot ‘n groot mate deur regulering en burokrate (en uiteindelik kornuite) bepaal word. Skep verder ‘n kultuur waarin belasting tot ‘n uiterste mate gebruik word om sekere ondernemers of ondernemings in die ekonomie regstreeks te bevoordeel.

 

Moenie skrik wanneer sakelui en hul beleggings onttrek nie, of wanneer doeltreffendheid afneem en ekonomiese uitset uiteindelik verswak word nie. Die dooie kapitaal, wat jy self veroorsaak het, kan kunsmatig aan die lewe gehou word; draai net as’t ware die ‘belastingkrane’ oop sodat die zombies opstaan. (Moet ook net nie moeilike vrae vra oor waar die belasting vandaan kom nie.)

 

Landbou is 'n regstreekse voorbeeld van die proses in wording. Wette soos die huidige Wetsontwerp op Landbougrond en die Eiendomswaardasiewet laat dit blyk dat landboubates op 'n groot skaal vir onteiening en herverdeling gemerk is.

 

Sou so 'n proses voortgaan, gaan dit nie doeltreffende landbou-ondernemings vestig nie. Dit is eerder 'n resep om landbou minder doeltreffend en meer afhanklik van belastingsubsidies te maak. Sou die planne voortgaan, gaan hier nog baie honger zombies gesien word.

  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close