Die meeste van ons kinders gaan daagliks na openbare skole toe. Dit is nie privaat skole nie en die regering (die Departement van Onderwys) het daarom ’n bepaalde sê en verantwoordelikheid oor die skool. Die regering befonds ook ’n gedeelte van onderwyser se salarisse – anders as in die geval van privaat skole, waar ouers en bestuur self vir alle uitgawes van dié skole verantwoordelik is.
’n Beheerliggaam is ’n komitee wat deur ouers van die betrokke openbare skool saamgestel word. Ouers nomineer en verkies mekaar en dit is daarom belangrik dat alle ouers hierdie beheerliggaamverkiesing bywoon.
Die beheerliggaam, wat deur ’n voorsitter bestuur word, lei die skool in samewerking met die skoolhoof. Die beheerliggaam sorg vir bykomende befondsing om dié skole op te knap en te verbeter, byvoorbeeld deur ’n Graad R-kampus op te rig of ’n astrohokkiebaan te bou. ’n Beheerliggaam voorsien waar die onderwysdepartement nalaat om hul verantwoordelikhede na te kom, byvoorbeeld met die aanstel en betaling van beheerliggaamonderwysers. Dit verseker dat kinders gehalte-onderrig ontvang en voorkom oorvol klaskamers weens ’n tekort aan onderwysers wat deur die Departement van Onderwys aangestel word. Die beheerliggaam is ook verantwoordelik vir die skool se taal- en godsdiensbeleid.
’n Beheerliggaam beskerm ouers en kinders se belange in die skool. Daar waar die hoof, personeel of onderwysdepartement oor die onderrigtaal of godsdiensbeoefening verskil, is die beheerliggaam daar om ouers by te staan en te verteenwoordig. Voorbeelde hiervan is wanneer die onderwysdepartement ’n skool dwing om kinders in te neem as dié skool reeds vol is; as die skool onder druk geplaas word om sy taalbeleid te verander, en kinders nie meer in Afrikaans kan onderrig kry nie; of wanneer die skool nie meer Christenskap mag uitleef nie en die skooldag nie meer met gebed geopen of afgesluit mag word nie, of selfs wanneer rugby- en hokkiespanne nie meer openlik voor wedstryde mag saambid nie.
Dit is in hierdie gevalle waar die beheerliggaam gewoonlik ingryp, regsopinies inwin en uitdagings die hoof bied wat jou kinders se skool en hul onderrig bedreig.
Verkies ouers wat bereid is om vir al die kinders in die skool se regte op te staan – die reg om in hul moedertaal te leer; die reg tot gehalte-onderrig; vrye keuse van geloofsbeoefening; veiligheid; sport- en kultuurontwikkeling; vernuwing, instandhouding en uitbreiding van skoolgeboue en -gronde; tegnologiese vooruitgang; en vernuwing van leermateriaal. Dit moet ouers wees wat trots is op hul kinders se skoolkultuur en -tradisies; wat glo in die missie en visie; en wat hul tot die skool verbind om tydens hul ampstermyn die beste vir die skool en die leerlinge te bewerkstellig.
Dit moet ’n verskeidenheid van ouers wees wat oor kennis en vaardighede in verskeie gebiede beskik. Dit sluit in kennis van finansies (byvoorbeeld rekenmeesters, ouditeurs, geoktrooieerde rekenmeesters en beleggingsbestuurders), die Suid-Afrikaanse regstelsel (byvoorbeeld regsadviseurs, prokureurs, advokate, regsdosente en regskenners), administrasie en organisasie (byvoorbeeld projekbestuurders en -koördineerders, kommunikasiepraktisyns en besigheidsbestuurder) en infrastruktuurbestuur (byvoorbeeld ingenieurs, argitekte en konstruksiebestuurders), asook vaardighede soos redevoering en logiese denke, en die vermoë om situasies te ontleed, oplossings te vind en planne te maak.
Beheerliggame moet ook kennis van belangrike aspekte van die skoolomgewing hê, byvoorbeeld hoe om die kapasiteit van ’n skool te bepaal, dissipline in die skool te bestuur en beheerliggaamonderwysers aan te stel, asook wat die skool se regte is en hoe dit beskerm kan word. Ouers wat tot die skool se beheerliggaam verkies word, dien vir ’n tydperk van drie jaar op die beheerliggaam. Indien ’n ouer ná 'n jaar nie meer kan dien nie weens verplasing of kinders wat die skool verlaat, mag ’n ander ouer met 'n tussenverkiesing in die daaropvolgende jaar in dié vakature ingestem word.