Uncategorized @af -

’n Beleidsverklaring vir die terugneem van die Afrikaanse studentelewe.

Daar is reeds vir langer as 'n dekade  'n konstante aanval op Afrikaans by Suid-Afrikaanse universiteitskampusse waar Afrikaans voorheen die voertaal én die primêre taal van onderrig was.  In my posisie as koördineerder van Solidariteit Jeug het ek al vele kere met SR-lede van verskeie kampusse te doen gekry wat weier om in Afrikaans te kommunikeer en selfs botweg weier om 'n Afrikaanse e-pos na relevante partye aan te stuur. Hierdie fenomeen dat Afrikaans op voormalige Afrikaanse universiteitskampusse afgeskeep, afgeknou en afgejak word, is vir baie min van ons 'n skok – miskien skok die venyn en geniepsigheid waarmee dit toegepas word ons nog, maar die algemene beleidsposisie dat Afrikaans die stiefkind in die buitekamer van ons ouers se universiteite geword het, verbaas ons lankal nie meer nie.

'n Volgende vraagstuk is wat met die georganiseerde studentelewe op sodanige kampusse gebeur. Tipies is die eerste stap, wat meeste universiteite lankal gedoen het, dat polities-radikale studenterade die gebruik van Afrikaans tydens koshuisvergaderings verbied. Afrikaanse projekte, wat natuurlik van kampus tot kampus verskil, wat tradisioneel deur die studenteraad gereël word, vind skielik nie meer plaas nie omdat die studenteraad enersyds onbevoeg is wanneer dit by die praktiese uitvoering daarvan kom omdat hulle die spreekbuise van politiese partye is wat geen behoefte het om studente se lewens te verbeter nie. Andersydes het hulle ook nie die trots om dinge soos Jool, Afrikaanse debat, rugbyligas, sokkies, en soortgelyke aktiwiteite te organiseer nie omdat hulle nie die nut daarvan insien, of wil insien nie.

Daar is dan nou slegs twee gevolge van hierdie afknouery van studenteleweprojekte wat vir amper 'n eeu vir die meeste studente aan voormalig Afrikaanse universiteite 'n vormende rol gespeel het:

  1. Die projek word gelaat om 'n vinnige dood te sterf of te versmoor as gevolg van 'n tekort aan die basiese, nodige hulpbronne. 'n Voorbeeld hiervan sou wees dat 'n universiteit se kunstekomitee, wat vir 50 jaar lank Afrikaanse debat tussen koshuise georganiseer het en dan 'n span na die nasionale kompetisie gestuur het, weier om dit te doen omdat die voertaal Afrikaans is en dus, volgens hulle, eksklusief is. Laasgenoemde is natuurlik onwaar, tensy dit eksklusief is om van iemand te verwag om te kan sing as hulle in die koor wil wees.  Hierdie voorbeeld is nie fiktief nie, dit is aktueel; dit het verlede jaar gebeur.  In hierdie scenario val die spesifieke studenteleweprojek weg en dit word dikwels vervang met 'n meer politiese geleentheid, of dit word nie vervang nie sodat die studenteraad meer tyd het om hul rewolusionêre agenda uit te voer.
  2. Die tweede opsie is iets wat reeds plek-plek sy kop uitsteek, en dít is waarvoor ek hier argumenteer. In hierdie scenario besef die Afrikaanse studente op 'n kampus dat die studenteleiers wat hulle moet verteenwoordig nie omgee nie, en besef hulle dat die tyd ryp is om hul studentelewe in hul eie hande te neem.  As daar by 'n universiteit 10 000 studente is wat Afrikaans by die huis praat en slegs vyf studente wil graag debat in Afrikaans voer, of 'n Afrikaanse toneelgeselskap, of 'n Sokkie wil reël, sou ek voorstel dat daardie groep nie aanhou wag vir 'n studenteraad om vir hulle ruimte te gee om voort te gaan nie – hulle moet net voortgaan!

Op hierdie punt is dit beide goed en nodig om te noem dat daar op verskeie kampusse reeds strukture in plek is wat sonder afhanklikheid van die radikale studenteraad die studentelewe organiseer.  AfriForum Jeug is 'n goeie voorbeeld van hoe studente om die politieke partye op hul kampusse mobiliseer – en vir jou as leser kan dit dalk die antwoord bied.  Indien jou vereniging egter met 'n spesifieke aktiwiteit wil begin waarvoor daar nog niks in plek is nie, is die res van hierdie meningstuk spesifiek vir jou geskryf.

As jy 'n Afrikaanse student is, al studeer jy in Engels, moet jy besef dat jy nie net op universiteit is om 'n graad te kry nie.  Jy moet leer om met mense te werk, leer om te dink, en leer wie jy is, en waar jy inpas. Hierdie dinge vind mens dikwels nie in handboeke nie, maar eerder by 'n toneeloefening, om die braaivleisvuur, of op die podium.  'n Goeie universiteit wat vir jou omgee, sal hierdie geleenthede vir jou skep, juis omdat hierdie “sagte vaardighede” tydens die vierde industriële rewolusie uiters belangrik raak.  Meeste universiteite in Suid-Afrika is egter so besig om internasionale graderings na te jaag of politici gelukkig te hou, dat hulle lankal vergeet het van die mense wat saak maak: die studente.

Die tyd het gekom vir Afrikaanse studente om dinge self te doen – en dit is makliker as wat jy dink.  Hier is 'n paar stappe wat jy kan volg om jou vereniging te begin:

  1. Besluit wat die vereniging gaan doen. Wat is die aktiwiteit wat julle wil beoefen?  Wil julle bier drink en volksliedjies sing?  Wil julle in grotte rondkruip, of wil julle bymekaar kom en die beste gedigte van N.P. van Wyk-Louw lees?
  2. Soek mense wat soos jy dink. Kry mense wat saam met jou aan hierdie vereniging sal bou, of gaan na die mense toe wat teleurgestel is deur die verval van die georganiseerde studentelewe – hulle het dikwels 'n klomp kennis wat nuttig kan wees.
  3. Organiseer julleself. Kies 'n bestuur wat gewoonlik aan die begin maklik is en skryf 'n grondwet wat aantoon wie julle is, wat julle doen, hoe julle verkiesings en vergaderings werk, en hoe julle vordering meet.
  4. Nader die studenteraad en stel hulle in kennis van julle vereniging. As hulle julle registreer en toelaat om op kampus te oefen, wonderlik! Gebruik die fasiliteite waarvoor jy of jou ouers baie duur betaal. As hulle om een of ander rede met betrekking tot julle aktiwiteit of omdat julle Afrikaans is, weier om julle as vereniging te registreer, draai julle rug op hulle en doen dit in elk geval.  Soek 'n kerkgebou wat julle sal toelaat om daar te oefen, praat met die laerskoolhoof oor die skoolsaal se beskikbaarheid, oefen in jou slaapkamer as jy moet, maar moenie laat logistieke uitdagings jou keer nie.
  5. Soek soortgelyke verenigings op ander kampusse of in ander dorpe, smee bande en bou verhoudings. As julle die Afrikaanse Gedigtevereniging van Bloemfontein is, is daar miskien 'n soortgelyke vereniging in Pretoria of Johannesburg. Stuur vir hulle 'n e-pos en verneem of julle by mekaar kan leer.
  6. Soek borge en hou kompetisies. Hierdie stap is van kardinale belang, want om jou vereniging se standaard te verbeter, is kompetisie uiters belangrik.  Reël 'n kerksaal in jou dorp, maak 'n ooreenkoms met 'n gastehuis of twee, nooi die ander dorp of kampus se studente, kry beoordelaars, en doen jou ding!  Kompetisie dryf ons om beter en beter te word, dit leer ons nuwe metodes, en wys vir ons hoe ander mense doen wat hulle doen.

Die beste van alles is, die aktivistiese studenteraadslede wat asblikke omgooi en brandblussers in jou klas kom uitspuit kan nie veel doen om jou te keer nie.  Jy leer leierskapvaardighede aan, jy maak beter vriende as wat jy sou gemaak het as jy maar net jou beursie leeg gaan drink het of in jou kamer op jou rekenaar na ander mense gekyk het wat hulle lewens leef. Bowenal, jy kry broodnodige vorming as mens!  Wat meer is, jy sal vind dat daar baie vriende is wat bereid is om te help!

Hou op klein dink as jy wil groot gaan.

Hou op probleme soek, vind oplossings.

3,2,1 – gaan!

  • 25
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close