Algemeen, Ekonomie, Politiek, SNI -

'n “Blou golf” tref Trump se “rooi muur”

Die Amerikaanse midtermynverkiesing is afgehandel, en soos wat verwag kon word in 'n erg verdeelde land, was daar 'n erg verdeelde uitslag en reaksie. Al 435 lede van die Amerikaanse kongres en 35 senators van die Amerikaanse senaat het in die verkiesing vir herverkiesing gestaan. Die kongres is soortgelyk aan ons parlement en die senaat is 'n groter weergawe van ons raad van provinsies.

Alhoewel talle ontleders en kommentators groot gewag gemaak het van die demokratiese blou golf wat kom om president Trump te ontsetel, het daar op die ou end slegs 'n paar blou druppels gespat in 'n besonder normale midtermynverkiesing.

Die party wat die presidensie gewen het, verloor gemiddeld ongeveer 30 tot 35 setels in die midtermynverkiesing. Die Republikeine gaan in alle waarskynlikheid omtrent 35 setels verloor as alle resultate ingereken is. Wat opmerklik is, is dat die Republikeine setels in die senaat bygekry het. Tradisioneel verloor die president setels in sowel die kongres as die senaat. Om setels by te kry het slegs drie keer die afgelope 50 jaar gebeur.

Ter wille van konteks moet genoem word dat Barack Obama in 2010 63 setels verloor het; Bill Clinton het 54 setels in 1994 verloor; en Warren Harding het 'n allemintige 77 setels in 1922 verloor. Dus – in die lig van die geskiedenis is hierdie uitslag geensins 'n buitensporige verlies van setels vir die Republikeine en vir Trump nie.

Dit beteken nie dat alles rooskleurig is in Trumpistan nie. Kwessies wat hom wesenlik moet bekommer is die feit dat die Republikeine in Michigan, Wisconsin en Pennsylvanië verloor het. Al drie die deelstate het in 2016 teen die norm in vir Trump as president gestem. Gevolglik is dit hoegenaamd nie seker dat Trump in 2020 gemaklik herverkies gaan word nie en daar lê baie werk vir hom voor.

Tog – kan die Republikeine eintlik besonder tevrede wees met die uitslag. Ten spyte van 'n ononderbroke media-aanslag teen Donald Trump en die Republikeinse party, Trump se vreemde uitlatings en sy lae goedkeuringssyfers, het hulle verbasend goed gevaar.

Vir die Demokrate was die verkiesing 'n teleurstelling, maar nie noodwendig 'n volslae mislukking nie. Alhoewel hulle aansienlik swakker gevaar het as wat hulle gehoop het, het hulle steeds beheer oor die kongres teruggekry. As die verkiesing in wese 'n referendum oor Trump was, dan moet die Demokrate bekommerd wees.

Wat die Demokrate besonder seer gemaak het, was die hele Kavanaugh-storie. Demokratiese kiesers was besonder energiek om van Donald Trump ontslae te raak, met Republikeinse kiesers wat traag was om vir Trump te stem. Die absurde posisies wat die Demokrate met die bevestiging van Brett Kavanaugh as regter ingeneem het, het bloot daarin geslaag om die Republikeinse kiesers te mobiliseer. Die Demokrate se belaglike optrede in die Kavanaugh-sage het eintlik in hul gesig ontplof, met dié dat feitlik elke Demokratiese senator wat teen Kavanaugh gestem het in die verkiesing uitgestem is.

Die enkel grootste probleem vir die Demokrate is dat geen held in hierdie verkiesing na vore getree het nie. Beto O’Rourke in Texas was veronderstel om 'n sprokiesverhaal te wees. Hy moes Texas teen die verwagtinge in wen om dan in 2020 vir Trump te stormloop as 'n nuwerwetse JFK wat skateboard ry. Toe verloor hy redelik ver teen Ted Cruz, ten spyte van 'n veldtog van ongeveer 70 miljoen dollar.

In Florida was Andrew Gillum veronderstel om Florida se eerste swart senator te word. Sy opponent was Ron DeSantis. Gillum sou dan met sy agtergrond kon aanspraak maak op groter dinge. In die stryd met Ron DeSantis was Gillum voor tot bitter na aan die einde, toe DeSantis hom met Trump se hulp verbygesteek het.

Dit laat die Demokrate steeds met geen antwoord op die Trump-verskynsel nie en die party het geen persoonlikheid wat groot genoeg is om hom in 2020 te kan aanvat nie. Die blote feit dat daar steeds sprake is dat Hillary Clinton dalk weer kan staan, dui op die absolute tekort aan moontlike kandidate.

Wat nou?

Vir die volgende twee jaar kan 'n mens verwag dat 'n Demokraat-geleide kongres komitee op komitee gaan aanstel om alles wat met Donald Trump se lewe te make het, te ondersoek. As Kavanaugh enige aanduider is, kan dit lelik in die Demokrate se gesig opblaas. Vir Trump bly dit die geleentheid om alles in Amerika se politieke heelal om homself te laat aanhou draai.

Met die senaat ferm in Republikeinse beheer, gaan Trump wel sonder te veel probleme regters kan aanstel. Veral in die lig daarvan dat die hooggeregshofregter, Ruth Bader-Ginsburg, waarskynlik bitter na aan uittrede is, kom daar dalk nog 'n geleentheid vir Trump om 'n hooggeregshofaanstelling te maak en kan hy die Amerikaanse hooggeregshof vir die volgende dekade of wat in die konserwatiewe rigting swaai.

Hierdie midtermynverkiesingsuitslag mag een van die beste dinge wees wat met Trump kon gebeur. Hy kon realisties gesproke nie veel meer bereik het as wat hy bereik het nie. Selfs die Republikeine was huiwerig oor die muur en het teen sy gesondheidsorgplanne gestem. Nou kan hy die Demokrate na hartelus blameer vir alles wat nie gebeur nie, en letterlik net verkiesingsveldtog hou met die oog op 2020.

Alhoewel hy reeds twee jaar in die amp is, weet die Demokrate, die media en selfs die Republikeine steeds nie wat om te maak van hom, of hoe om hom te hanteer nie.

'n Paar blou druppels teen sy rooi muur gaan hom allermins die skrik op die lyf jaag.

  • 217
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close