Deur Paul Joubert

 

Volgens 'n berig op Moneyweb, aanvanklik met die opskrif “The Plan” en later verander na “12 things SA needs to get right”, het Elias Masilela, 'n voormalige lid van die Nasionale Beplanningskommissie, vandeesweek gesê dat die Kommissie agtergekom het dat talle Suid-Afrikaners nie die Nasionale Ontwikkelingsplan gelees het nie. Hy het ook blykbaargesê dat Die Plan se opstellers nie in 'n hoekie gesit het en dink nie, maar dat die proses om Die Plan op te stel elke Suid-Afrikaner betrek het. Hoe hierdie twee stellings gelyktydig waar kan wees, weet nugter alleen, maar dit daar gelaat.

 

Masilela het ook 12 probleme wat in Die Plan geïdentifiseer is, genoem. Dit sluit dinge soos werkloosheid, te min spaargeld/belegging, armoede, korrupsie en swak gesondheidsorg in. Die meeste van hierdie probleme is korrek gediagnoseer, maar dis tog geen prestasie nie. Dit verg nie 'n Kommissie om te identifiseer dat daar probleme soos werkloosheid, armoede en korrupsie in Suid-Afrika is nie. Dit is die reaksie op hierdie diagnose wat saak maak.

 

Solidariteit, en so ook die Instituut vir Rasseverhoudinge, het reeds kort ná die vrystelling van Die Plan gewaarsku dat, anders as wat die meeste analiste (wat waarskynlik, soos Masilela uitgewys het, nie Die Plan gelees het nie) gesê het, Die Plan glad nie so 'n wonderlike en markvriendelike dokument is nie, maar eerder groter staatsbeheer en sentralisering voorstaan. Tog word Die Plan steeds, wanneer dit so nou en dan in herinnering geroep word, meestal voorgehou as 'n markgedrewe oplossing vir die probleme wat gediagnoseer is.

 

Wat Die Plan egter meestal voorstaan is presies die soort regeringsbeleid wat die regering sedertdien implementeer: sentrale beheer, die skending van alle vorme van eiendomsreg asook die “regulering” van alles wat leef en beef, met die gepaardgaande inperking van ekonomiese vryheid en kreatiwiteit wat die lewensaar van entrepreneurskap en vooruitgang is.

 

Die oplossing vir die probleem van werkloosheid is nie sentrale beheer nie, dit is vryheid vir elke mens om te kan kies om te werk. Die oplossing vir armoede is nie sentrale insameling van belasting en eiendom om dit polities te “herverdeel” nie, dit is vryheid om entrepreneuries te kan wees. Die oplossing vir korrupsie is nie om die staat se polisiëringsmagte uit te brei nie, maar om die staat se beheer oor aspekte van mense se lewens en geld te verminder, sodat die onvermydelike korrupsie daarmee saam sal krimp.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close