Godsdiens -

‘n Knap vrou

Ek het onlangs Spreuke 31 gelees. Daarin word “’n Knap vrou” in al haar glorie beskryf. Direk daarna lees ek ‘n skrywe wat dié skrifgedeelte bespreek.

 

Wat my opgeval het, is hoe verward die bespreking eerder as die skrifgedeelte my laat voel het. Dit het getuig van ‘n onmoontlike strewe wat elke vrou binne haar ervaar en waarby sy uiteindelik net nooit kan uitkom nie; ’n onmoontlike taak wat haar net soos ‘n mislukking sal laat voel.

 

My gevoel, toe ek die woorde in die Bybel lees, was egter een van hoop. Spontaan het energie uit my hart begin borrel en met hernude ywer het ek uitgesien na die nuwe jaar.

 

Skielik uit nêrens wou ek daardie vrou wees; die een wat met soveel selfvertroue dinge aandurf en ‘n sukses daarvan maak.

 

Ek glo elke vrou wil so wees. Dit is natuurlik vir elke vrou om haar maat te wil ondersteun, om haar kinders te wil versorg en om te strewe na uitnemendheid binne haar huis en haar gemeenskap. Die van ons wat ook loopbane kies, voel gerat vir die uitdagings wat dit bied en het ‘n behoefte om elke projek met ywer aan te pak. Ons put meer energie hieruit as die energie wat ons gebruik om dit te vermag.

 

Vir my voel dit of dit die bevrediging van ‘n behoefte is; om iets te beteken vir ons binnekring maar ook vir ons gemeenskappe en die wyer samelewing. Om die knap vrou van Spreuke 31 te word voel nie vir my soos ‘n onklimbare berg waarvan ek sal aftuimel as ek probeer nie, inteendeel, dit voel vir my soos ‘n uitdaging van iets wat ek wil en sal vermag.

 

En hoe maklik is dit in werklikheid nie? Daar, waar ons lees van die knap vrou, is die aanwysings om die pad te stap en een te word. Daar vind jy die balsem vir jou siel wanneer jy die lewe se seer moet trotseer, daar vind jy die woorde wat jy oor ander uitspreek en daar vind jy die Lig wat jou wys waar om te trap wanneer dit donker is.

 

Om ‘n knap vrou te wees gebeur nie oor nag nie. Dit is lewenslange proses. Dit gebeur dag vir dag en deur deurentyd aan God vas te klou. En dan, wanneer jy eendag jou oë vir ‘n laaste maal toemaak en afskeid neem van hierdie wêreld, dan is jy uiteindelik die knap vrou waarna jy gestreef het en sal jou toewyding tot in ewigheid beloon word.

  • 35
  •  
  •  
Johnell Van Vollenhoven Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close