Politiek -

'n Land is van mense gemaak

Ek lees professor Kok se middelblad-artikel in die Beeld van 2 Februarie 2016, “Afrika-manne praat van Afrika-renaissance”, en kan nie anders as om droewig en pessimisties hieroor te voel nie.  Dinge in Suid-Afrika het baie vinnig, baie drasties verander.  Beide kante van die munt is kwaad en 'n baie warm pot borrel kokend oor. Daar is volgens die artikel twee tipes Suid-Afrikaners, nl. dié wat om braavleisvure kla oor die dinge in die land – hulle is die “Euro-Afrikane” en die ander groep staan om konkavure in die township en bepeins en begeer om die swart gees te herontdek – hulle is die “mede-Afrika-vriende”  Hulle praat van die Afrika-renaissance.

Ek is en was nog nooit 'n “Euro-Afrikaan” nie.  As ek in Europa gebore was en my heenkome hier kom soek het en iemand anders se land en sy werk “gesteel” het, sou ek die “renaissance” verstaan het, maar ek is hier gebore, my ouers en hulle ouers, en hulle ouers is ook hier gebore.  Basta met wie eerste en tweede waar was.  Ons is almal in die land en die land is van mense gemaak – nie net mense om konkavure en braaivleisvure nie, maar mense wat branders ry, juweelwinkels besit, bier brou en aartappels plant.

Die Afrika-intellektuele, dit is nou nie die Euro-Afrikane nie, voel die weste domineer steeds die stelsels.  Maar die vraag wat dan ontstaan is: Wat moet gebeur?  Vir wie moet die “Afrika-intellektuele” nou eintlik kwaad wees?  Dit help nie om elke keer die “Euro-Afrikane” te blameer en 'n rassis onder elke klip uit te krap nie.  Gaan kyk na die vergrype die laaste 20 jaar, gaan kyk na selfverryking in die land van melk en heuning, dan kan mens sinvol praat.  Hierdie land is van mense gemaak, my vriend, en prof. Kok  meen tereg dat dit nie mooi is nie, maar eerder 'n opportunistiese spel is dat die “Euro-Afrikaan” altyd aan die verloorkant is.

Nou kan mense my aan my keel ophang en die woordjies “white privilege” na my kant toe gooi.  Ek het nuus vir jou.  Ek het NIE by die staat 'n lening ontvang nie, my ouers het ook nie geld gehad vir my om te studeer nie.  Ons het geld by banke geleen vir my om te studeer.  Ek het naweke in 'n plaaswinkel vir sakgeld gewerk, ek het (met leninggeld) oorsee gegaan en daar gewerk om hierdie skuld vinniger af te betaal, ek het teruggekom en as 'n onderwyser kom werk aangesien ek nie voldoen het aan enige BEE-vereistes in my geboorteland nie.  En ja, ek was die eerste persoon in my familie wat vir 'n graad gaan studeer het.  Die vreugde was groot!

Prof. Kok skryf dat die gees van die swart man huil.  Hy huil omdat dít wat belowe is, nie waar geword het nie.  Aan die ander kant van trane is woede en daar word gesê: “As jy trane met 'n paplepel skep, drup woede op die grond.”  My gevoel is dat trane nie in kleur kom nie.  Almal se trane lyk dieselfde.  Pyn ken ook nie kleur nie, elkeen se hart pyn kleurloos dieselfde.  Die swart man wat sonder opleiding en werk by die konkavuur staan, se hart pyn en sy trane val net soos die kinderlose weduwee op die plaas wie se man en kind “execution style” vermoor is.  Die swart vrou wie se seun by die myn doodgeskiet is, se trane lyk dieselfde as die wit man wat op 40 sy werk verloor het weens afleggings en nie weer werk kan kry nie as gevolg van stelsels wat in plek is wat hom verhoed.

'n Bekende sangeres het 'n aantal jare gelede 'n lied vir Suid-Afrika geskryf, waarin sy skryf dat hierdie land van mense gemaak is en dat ons dit saam sal moet laat werk.  Ons moet vergeet van vergewe, vergeet van vergeet.  Vergeet van beloftes en vergeet van politiek.  Vergeet van outydse stomp retoriek.  Ons ken hierdie land en elkeen wat krag het, moet help waar hy kan. 'n Land is van mense gemaak en voor mense is ons trots en voor God is ons naak.

Ek stem saam met prof. Kok.  Hierdie goed moet in die openbare diskoers bespreek word en nie om konkavure en braaivleisvure nie.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close