Algemeen -

'n Land met byna 56 miljoen grense

Geagte landsburgers, die linkses, regses, die wat in die middel staan en wie ook al nog 'n etiket wil dra. Ek wil graag met jou gesels – op die man af. Jy sien ek is keelvol vir etikette. Dit is vir my amper soos 'n grenspos waarvoor ek nie 'n paspoort het nie. 'n Normale grenspos wat lande skei is noodsaaklik vir verskeie redes. Een van die redes is dat dit 'n groot groep mense wat saam 'n groep en 'n nasie wil vorm 'n identiteit gee asook 'n rede om saam aan die land te bou. Wat egter in ons geval nie goed is van dié grenspos nie (d.w.s. etikette), is die feit dat die grenspos ons weerhou om ons eie grense oor te steek en ander te aanvaar. Ons almal bly dus in ons eie land a.g.v. ons verskeie etikette. Ek kan jou deur die grensdraad sien, maar ons kan nie werklik gesels nie.

Binne die letterlike grense van die land en ook die grense wat ons vir mekaar gestel het met etikettering, is ek en jy anders. Ons lyk nie net anders nie, maar ons dink ook anders. Daar is niks fout om anders te dink, lyk of sommer net wees nie. Dit maak ons almal uniek. Ek en jy is al so deur die samelewing geskaaf deur middel van faktore binne en buite ons beheer, dat ons van mekaar verskil en dat ons ideale verskil, en daarom is beide van ons geëtiketteer. Ons kan nie stry dat ons boonop nog verkillende rasse ook in hierdie grense het nie, almal ewe pragtig, ewe hardkoppig en ewe talentvol. Wat ons almal egter ook het, is menslikheid, maar ons almal is skuldig daaraan om dit so nou en dan by die huis te vergeet wanneer ons ons huise verlaat. As ons nie menslikheid teenoor mekaar het nie, hoe kan ons dan werklik soos alledaagse normale mense oor kwessies gesels?

Daar was 'n tyd toe dit besonder uniek was om 'n etiket te ontvang, veral as jy as links geklassifiseer was. Jy was deel van 'n unieke klub wat werklik vir iets gestaan het. Om links te wees was nog nooit koel nie en ek verkies dat dit so bly. Jy was 'n rebel teen 'n sisteem as jy links was – 'n “lefty”. As jy in die middel was dan is jy as 'n draadsitter geag (of miskien kon jy net beide kante se argumente insien), en as jy regs was, wel dan was jy regs en verdomp hardkoppig daaroor. Die sisteem waarvoor jy as linkse geveg het, het egter intussen inmekaar gestort, maar ek glo dat jy dit reeds weet. Of jy dit sal erken is 'n ander vraag.

Om iets so ernstig soos dit te erken gaan bietjie introspeksie neem. Jy gaan eerstens 'n paar dinge moet erken, aan en van jouself, want dit is waar alle oplossings begin. Jy weet, die storie van die balk in jou eie oog…

Dit is maklik om 'n etiket om iemand se nek te hang indien jy hulle nie ken nie. Jy kyk na iemand se paspoortfoto en omdat hy of sy anders as jy lyk of dink, laat jy hulle nie toe om jou land te bewoon of te besoek nie.

Deesdae voel ek dat ek ook rebelleer teen etikettering. Ek wil nie 'n etiket dra nie, want om 'n etiket te dra moet ek voldoen aan die etiket se norms en standaarde, en kan saamstem met alles wat daaronder verkondig word. Ek sal ook al die bagasie wat opgegaar word op 'n daaglikse basis saam met my moet dra. Jy sal moet aanvaar dat iemand namens jou praat én doen, en die woorde of dade namens jou in jou tas pak. Wat dit erger maak is dat die tas deurskynend is en die inhoud kan deur almal gesien word. Daar is dus geen plek om die geraamtes weg te steek nie.

Ek doen graag sélf introspeksie. Ek beskou dit al as 'n stokperdjie. Ek sien foute by mense, maar ek sien ook foute by myself. Ek kyk daarna soos ek na 'n kaart sal kyk. Ek sien die foute raak en wil daarheen reis om 'n verskil te maak, om dit reg te maak en ook om iets nuuts te leer, maar van die foute is buite my grense. Ek wil graag dié grense oor steek, maar ek benodig 'n paspoort om na ander se lande te reis. Die verskille binne die grense lê ver uitmekaar en om almal ordentlik te besoek en elke land se geskiedenis te verstaan gaan ek heelwat grense moet oor steek.

Ek is bereid om te reis en te luister, na elke land waar ek kan kom, maar in 'n land met amper 56 miljoen mense in sy grense is dit byna 'n onbegonne taak om dit alleen aan te pak. Daarom nooi ek jou uit om saam met my te reis. Bring jou paspoort, jou deurskynende tas en gooi weg jou etikette.

Kom leer en luister. Dalk breek ons só die grense af en word weer 'n land met 56 miljoen mense sonder grense (etikette) wat op ons geplaas word.

Kom ons gesels as mense sonder grense.

  •  
  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close