My Gesondheid -

’n Lewe met bipolêre gemoedsversteuring

Deur Karin van der Watt

 

Wat weet ek en jy van bipolêre gemoedsversteuring? Dit is ‘n siektetoestand wat gekenmerk word deur gemoedskommelinge.

 

Dit is wat die meeste van ons weet, maar kom ek vertel jou so bietjie uit eerstehandse ondervinding hoe deurmekaar dit 'n mens regtig maak.

 

Vir jare en jare het ek nie verstaan wat met my aangaan nie. Ek het gedog ek is maar net so besluiteloos en veranderlik. My man en familie is ongelooflik daardeur verwar en hulle het gesukkel om by my wisselende gemoedstemmings aan te pas.

 

My lewe was soos 'n wipplank, maar ek het gedink dit is normaal.

 

Ek sou vir maande aaneen betrokke raak by al wat 'n projek is en elke stokperdjie aanpak wat ek in die hande kon kry: van verf tot brei, hekel en krale ryg – enige iets om ’n verskil te maak en enige iets om besig te bly. Ek kon skryf en leer en het goed gedoen in alles wat ek aanpak. Vir rukke was ek elkeen se beste vriendin en het sommer by almal gaan kuier, maar dan het daar weer maande gekom waar ek nie eens uit die bed kon opstaan nie; ek kon nie konsentreer nie en het nie kans gesien vir mense en hulle dinge nie. Ek het my foon geïgnoreer en vir die wêreld weggekruip. Ek het my betrokkenheid by die kerk en ander instansies summier beëindig en vriendskappe een na die ander verbreek. Mense moes my net uitlos.

 

Ek het vreeslike onstabiliteit beleef weens my buierigheid, wat my man soms my nukke en grille genoem het.

 

Ek het die mense in my lewe ongelooflik verwar, en die wipplank het al hoe hoër en vinniger begin wip, van die een na die ander kant. Op en af, op en af.

 

Ek het mense seergemaak en instansies in die steek gelaat.

 

Kyk, wanneer ek betrokke wou wees, het ek die wêreld se verskil gemaak en het ek baie goed gedoen, maar dit is die teleurstelling daarna wat die ergste was.

 

Diegene wat onder hierdie toestand ly, ondervind gemoedsversteurings geheel en al buite hulle beheer; vanaf ‘n opgewekte “maniese” toestand tot ‘n toestand van algehele depressie.

 

Ek het myself gereeld in situasies bevind waar ek verward was en dit voel of iets of iemand my jaag. Paniekbevange en gejaagd.

 

Ek het eers hierdie jaar uitgevind dat ek bipolêre gemoedsversteuring het. Dit is ’n genetiese toestand wat 'n mens van 'n ouer erf en die geen word aktief gemaak deur trauma.

 

Die dokters het aan my verduidelik dat die bipolêre geen onaktief in iemand se sisteem kan wees sonder dat die persoon enige simptome van 'n gemoedsversteuring het, maar dat trauma die geen kan aktiveer. Met my ouers se dood het my simptome vererger. Die simptome was nog altyd daar as gevolg van my traumatiese kinderlewe, maar dit het regtig eers in 2011, toe albei my ouers tragies oorlede is toe ek 26 jaar oud was, lewensgevaarlik erg en ondraagbaar vir my mense om my geraak.

 

Solank ek my medikasie stiptelik neem, voel ek 100% normaal en ervaar nie die simptome so erg nie. Ek vergeet nie en kry nie die angsaanvalle nie.

 

My maniese fases is steeds daar, maar ek voel nie asof ek my hele lewe wil verander en die wêreld wil aanpak nie. My depressie is steeds daar, maar ek voel nie die nood om my eie lewe te neem nie.

 

Ek raak wel effens menssku en voel soms in die aande asof die dag te veel was, en dan gaan slaap ek sommer baie vroeg.

 

Ek dink nie die toestand affekteer my tans so erg nie, behalwe dat ek vreeslik baie gewig opgetel het aangesien ek graag meer (en verkeerd) eet as ek gelukkig is en goed voel, asook wanneer ek baie sleg voel. Dus het ek met die tyd saam 20 kg opgetel terwyl ek deur die tydperk tot die diagnose asook die behandelingstydperk gegaan het.

 

Ek het ook 'n baie sterk ondersteuningsnetwerk wat my werkgewer en my man insluit, asook my beste vriendin wat my baie mooi bystaan. My werkgewer en my lynhoof is groot steunpilare in my lewe aangesien hulle my baie mooi bygestaan het deur die moeilikste fase, wat was om by die diagnose uit te kom en die regte behandeling te verkry. My aflosdame wat ook 'n vriendin is, het vir my ingestaan, en toe ek terugkom werk toe, is ek behandel asof ek nooit weg was vir behandeling nie. Niemand het my sleg of sku hanteer nie en almal het my baie mooi bygestaan.

 

Ek het ook 'n aanlyn vriendegroep wat almal mooi weet wat aangaan in my lewe en my sodoende baie mooi ondersteun. Ek speel baie graag XBOX en die vriende wat daar saam met my speel, is baie ondersteunend.

 

Ek noem die XBOX-spelery, want ek voel regtig dat dit 'n baie groot deel uitmaak van my daaglikse behandeling vir my kondisie aangesien dit 'n groot deel uitmaak van hoe ek ontspan en myself help wegbreek na 'n besige, vol dag. Die speletjie wat ek speel, gaan oor oorlewing in die oerwoud tussen baie wilde diere en ook dinosourusse; dit help my regtig baie om te voel asof ek ten volle in beheer is en dit help my om stresvolle situasies te oorkom. Die wegbreek van my eie realiteit is 'n groot deel van my daaglikse behandeling aangesien dit ongelooflik ontspannend is vir my. Ander brei of lees; ek speel graag videospeletjies.

 

Ek is bly dat ek my ervaring van bipolêre gemoedsversteuring met julle kon deel. Dit is nie die maklikste ding om deur te gaan nie en aan die begin was ek vreeslik in die verleentheid daaroor, maar diegene in my lewe wat die heel belangrikste is, verstaan en staan my by, dus is dit nou net nog een van die dingetjies wat uitmaak wie ek is. Ek kan nie toelaat dat die kondisie my definieer nie, maar ek kan dit aanvaar en daarmee saamleef en aanvaar dat dit  'n deel is van my.

 

Soos die sielkundige dr. Johan Ferreira op RSG gesê het, nie alle mense  het die vermoë om die gemoedversteuring te hanteer nie; diagnose neem soms lank, maar dit is behandelbaar en 'n mens kan 'n hoër kwaliteit van lewe lei.

  • 3
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close