Algemeen -

‘n Lewe van dankbaarheid

Deur Brigitte Raath

Wanneer die sluise van die hemel oopgaan en die Here die aarde met reën seën, is my hart normaalweg dankbaar. Ek verlustig my in die reuk van nat grond, die lofsimfonie van die voëls in die bome en die lekker grilgevoel wanneer ek kaalvoet oor die nat gras na die reënmeter loop om te sien hoeveel reën geval het. Donderdag was dit anders. Laatmiddag staan ek in 'n informele nedersetting en die reën kom swaar op die sinkdak neer. Kindertjies skarrel vervaard rond om potte onder die lekplekke in die dak neer te sit. Die reuk van nat hond gemeng met stof en swaarkry slaan in my neusgate op. Ek hoor 'n hees hoes vanuit 'n agterste vertrek en kyk in die soveelste paar dowwe kinderogies van die dag vas.

Oom Jorrie ontvang ons met sy kenmerklike breë glimlag die oggend by die kerk, sy bakkie swaar gelaai met kruideniersware, alles skenkings vanuit die gemeenskap. Hy jaag ons gemoedelik aan: “Ons moet vandag by baie plekke stop en my mensies wag.” My mensies is die 70 gesinne vir wie hy die afgelope ses jaar daagliks getrou op sy jeugdige ouderdom van 85 sorg.

Johantjie is twintig. Hy kan nie lees of skryf nie want sy ouers het hom nooit skool toe gestuur nie. Oom Jorrie het hom belowe dat wanneer hy sy naam kan skryf, hy vir hom 'n Bybel bring. Johantjie het aanhou oefen en oefen tót hy sy naam kon skryf en vandag is sy trotste besitting sy klein rooi Bybeltjie. Hy lees vir ons 'n paar woordjies, slaan die moeilikes oor en wys vir ons sy bokke wat hy deur die dag vir die hoewe-eienaar versorg om vir sy kamer te betaal. Ek sien 'n te groot broek wat met 'n wit nylontou om sy middel vasgebind is, ruik die sweet van hard werk en min seep en sien die opregte dankbaarheid in 'n paar ysblou oë van 'n mens wat té jonk té veel klappe van die lewe ontvang het.

Oom Allan was twee maande in die hospitaal, hy loop met sy stoma-sakkie in sy hand en vertel hartseer van sy hondjie wat hom doodgetreur het terwyl hy weg was. Terwyl hy vir 'n foto poseer, loer ek vinnig in die karavaantjie waar hy bly. Die naarheid wil-wil in my opstoot, nie net oor die reuk wat daarbinne hang nie; meer 'n suurskok wat in my keel vasslaan oor die omstandighede waarin hy leef. Ek hoor die verlange in sy stem as hy oor sy kinders praat wat nie kom kuier nie; sien die liefde in sy oë vir sy twee weggooibrakke en ek ruik die reuk van dood wat besig is om saggies uit 'n onversorgde kolonwond nader te kruip.

Die donker krulkoppie druk trots haar babawoefie, Lulu in my hande. Lulu se lyfie is oortrek met vlooi- en bosluisbyte en sy lyk maar siekerig vir my, maar ek sê eerder niks. Ek vra haar waar Lulu slaap en sy gaan wys my. My oë gly vinnig oor die vertrek, neem die klompie kaal matrasse en vaal komberse in en ek tel 11 slaapplekke. Ek sien haar en Lulu se matrassie in die hoek en ek wonder wat sy alles hoor as die son sak.

Johnny is ses en wil saam met my huis toe gaan. Nes die nete in sy sussie se hare klou hy verbete aan my been vas toe ons moet ry. Sy mamma het hom weggegooi. Hy het haar twee jaar laas gesien, vertel hy terwyl sy sagte bruin bokkie-oë my stukkende hart verder skeur. Ek dink aan die twee ekstra slaapkamers in my huis, die spenskas vol sesjaaroudlekkernye, skopfietse en 'n trampolien in die agterplaas en 'n stuk van my bly agter op 'n hoewe waar 'n borselkopseuntjie in sy slaap na sy mamma roep.

'n Groot man met growwe hande huil toe hy sy kartondoos vat. Ek huil saam. Hy vertel sy storie van jare se lojale diens, regstellende aksie, vrugtelose ure se gespook om ander werk te soek, skuldeisers, alles-verloor en moed-verloor. Sy skouers ruk nes my binneste. Sy oë laat my dink aan die stukkende vensterruite om hom en ek sien 'n siel voor my wat die lewe hard geslaan het en waar swaarkry die slag gewen het.

Laatmiddag vee ek die reën van my wange af, die lastige knop in my keel wil net nie wyk nie. Ek gaan staan 'n entjie weg en ek weet vandag was nie sommer toevallig nie. Elkeen van ons se lewe het 'n dieper betekenis en soms, uit selfsug, vergeet ek om vir ander en nie vir myself nie te leef. Ek neem bestek van my lewe – herinneringe, vermoëns, familie, vriende, gesondheid, besittings – en is opnuut dankbaar vir al my onverdiende seëninge en die guns en God se groot genade wat ek ontvang. Van al die maniere om God te aanbid, is dankbaarheid waarskynlik die een wat die meeste oorgesien word.

Vandag kies ek om 'n lewe van dankbaarheid te lei, nie net wanneer dit goed gaan nie. Daar is 70 gesinne wat dit regkry. Ek en jy kan ook.

 

Psalm 23

Die Here is my herder

‘n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

U laat my by ‘n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos ‘n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

 

 

  • 57
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close