Algemeen -

’n Moeder se opebrief

My naam is Maria, ma van ’n pragtige jong man. Hierdie brief is om dankie te sê vir almal wat ons uit ’n krisis gehelp het. Ons storie begin toe my seun matriek geskryf het. Ons was so opgewonde dat deure sou oopgaan en hy sommer gaan instap by die myn en sy ambag doen.

Net daar het dit gevoel ons loop in ’n muur vas. Geen werk op die myn nie. Ek en Adaan was in sak en as. Ons het nie geweet wat om te doen nie. Adaan was platgeslaan. Kon nêrens werk kry nie. Hy hoor toe van Sol-Tech. Ek is dadelik na ons Solidariteit-kantoor vir inligting. Die Ontvangsdame, Petro Watson, was dadelik bereid om ons te help met inligting. Sy help om Adaan te registreer vir die volgende Opedag. Sy doen als aanlyn, dit was puik!

So kom die Opedag. Die hoof van Sol-Tech praat met die ouers en toe hy koste begin praat, toe dink ek, ja-nee Maria, julle is op die verkeerde plek. Waar gaan ek, ’n enkelma, daai geld kry? My inkomste is skaars genoeg om net die nodige te koop en ek kry ’n Sassa-pensioen. Hulle sal nooit my kind help nie. Ek staan toe sommer op terwyl die hoof praat en wou uitbeweeg en daar kom ’n engel en vra: “En nou mevrou?” Ek sê toe vir haar, nee ons sal dit nie kan doen nie. Ek sal nooit vergeet nie. Haar naam was Michelle, sy sê doen my ’n guns en luister klaar na die hoof. As jul klaar is, kom soek my, ek sal jou help. Maar ek sit daar saam al die ouers maar my gedagtes hol so rond want Adaan was so opgewonde oor Sol-Tech. Michelle vat my toe dadelik na Helpende Hand se stalletjie. Ons het gesels en daar was hoop. Met baie trane en baie inligting in my hand kon ek vir Adaan moed gee en nadat hy deur al die werkwinkels geloop het, het hy gesê: “Asseblief, Mammie, ek wil so graag hier kom leer.” Ons het deur al die inligting gegaan en toe weer. Die Toolbox vir ’n Meulmaker se prys was R8 000 en dis ekstra. Ek het so gebid en gevra Here, asseblief, maak vir my kind ’n deur oop.

Ek is terug Solidariteit Carletonville-kantoor toe. Daar kry ek toe vir Wally en huil so oor al die koste en die Toolbox, blyplek en al die dinge. Wally was só behulpsaam en het my dadelik gerusgestel. Hy en Petro was dadelik aan boord. Hulle sê toe vir my wat ek moet bymekaar kry vir Helpende Hand. Al die papierwerk bymekaar, aansoek gedoen by Helpende Hand se Studiefonds. Wally sê toe vir my ons het nie duur nuwe gereedskap nodig nie, ons kan met tweedehandse gereedskap begin. Hulle het my gehelp om al die gereedskap bymekaar gekry, en nog meer. Ons bid en vra Here, asseblief, laat Helpende Hand Studiefonds ons help, asseblief. Sol-Tech laat weet ons Adaan het sy keuringstoets geslaag. Adaan kon op 8 Januarie 2018 by Sol-Tech begin. Volgende uitdaging – blyplek. Eers het Adaan by familie gebly, maar hy moes baie ver loop en soos die Here dit reeds beplan het, sê Wally ons moet by Helpende Hand aansoek doen vir ’n verblyflening.

En toe kom die groot nuus – Helpende Hand het ’n studielening toegestaan vir Sol-Tech. Wow, ons het gehuil en gespring van blydskap. Die eerste deur het oopgegaan. Dit was so wonderlik om te weet daar is nog mense wat omgee. Ons het blyplek gekry vir Adaan by baie goeie mense. So begin Adaan by Sol-Tech. Ek help hom met ’n R1 000 per maand vir die nodige kos en uitgawes maar R1 000 gaan ook net sover. Die vroutjie by wie hy bly, help met ’n bord kos in die aand. Helpende Hand het ook toe sy huur betaal. Dit alleen was ongelooflik, want my kind moes veilig wees en ek kon nie genoeg dankie sê nie. Ouma en Oupa het so nodige goedjies gekoop en ek het begin huise skoonmaak vir ekstra geld om Adaan te help.

Hy kry toe ’n saamrygeleentheid van een van die seuns wat naby bly, want Adaan se karretjie het op 9 Januarie die tweede dag van Sol-Tech gebreek. Ons was verstom hoe alles net gebeur – as daar ’n probleem opduik, volg die oplossing dadelik. Petro by Solidariteit bel my en sê daar wil mense my kontak in verband met Adaan en sy vra of hulle my kan bel. Ek sê toe dis reg. Paar minute later bel ’n vrou my en sê hulle wil graag help om vir Adaan deur die dag by Sol-Tech van kos te voorsien. Ek het so gehuil oor die foon, die vroutjie moes terugbel. En so is daar vir Adaan voorsien om elke dag ietsie te ete te kry by Sol-Tech. Dit was so wonderlik, want vir ’n ma as sy weet haar kind leef net op noedels, dit was groot en ek wil ook vir die mense sê baie, baie dankie vir die hulp met kos. Julle het deel aan Adaan se sukses.

Ten spyte van al die uitdagings, al die swaar, het Adaan hard gewerk en geleer. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en gedoen wat hy wou. Ek het altyd vir hom gesê doen jou bes en Jesus doen die res.

Sonder Solidariteit, Helpende Hand, Sol-Tech, Michelle, Petro en Wally sou ons nie die sirkel van armoede kon verbreek nie. Hulle het ingespring en gehelp. Trane afgedroog, moed ingepraat en so beweeg ons. Tot end uit het Helpende Hand ons finansieel gedra met die rentevrye lenings. Ek is só dankbaar om te sê Adaan het nou begin werk as ’n gekwalifiseerde Meulmaker! Al die mense het bygedra tot Adaan se suksesverhaal. Ons was hopeloos, ons was hartseer, want waar en hoe kry ons kinders in dié land werk?

Skep moed, daar is ’n weg, daar is hoop, daar is ’n plek in die son vir ons kinders saam met Solidariteit, Sol-Tech en Helpende Hand.

Dis ’n kort weergawe van Adaan se suksesverhaal. En die Here was so getrou en het elke keer die regte mense op ons pad gesit.

My gebed in die begin was “Here, asseblief maak vir my kind ’n deur oop!” en saam met die span het die regte deur op die regte tyd oopgegaan!

 

  • 766
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close