Algemeen -

’n Normale lewe vereis ’n normale land. 2021

Wat is ons almal se grootste begeerte? Dis tog om net ’n normale lewe te lei. ’n Normale lewe vir enige mens ter wêreld is sekerlik orals dieselfde. In ’n neutedop, die meeste mense wil –

  • ’n veilige bestaan voer en met oop vensters kan slaap;
  • werk wat en waar jy wil sonder rassekwotas wat jou inperk;
  • ’n gelyke bestaan voer, sonder om bó of ónder ’n ander groep behandel te word;
  • normale vryheid geniet om te doen wat jy wil sonder staatsvoorskrifte;
  • in ’n werkende land met werkende dienste bly waar dinge nie verval nie;
  • eerlike en bekwame regering hê, en waar slegte regerings uitgestem word;
  • inspraak kry in die besteding van jou belasting, en waarde vir jou geld;
  • ouerinspraak kry in jou kinders se onderwys en opleiding, sonder dreigende politici;
  • gesonde rassebetrekkinge handhaaf, waar mense met wedersydse erkenning en respek saamleef;
  • reg en geregtigheid ondervind, waar wetsgehoorsame burgers teen misdadigers beskerm word;
  • ’n bedeling belewe wat jou taal, kultuur en geskiedenis respekteer;
  • ’n normale toekoms verwag waar mense nie wonder of daar nog ’n toekoms is nie.

Abnormaal

Die uitdaging in ’n land soos Suid-Afrika is dat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede hier en in ander lande as vanselfsprekend aanvaar. Dis nie volhoubaar om as minderheid te leef wat weens die bevolkingsamestelling ewig uitgesluit sal wees van besluite wat jou lynreg raak nie. Dis nie normaal om altyd bekommerd te wees oor wat die regering beplan om met jou pensioengeld te doen, of dat hulle jou in ’n staatsmedies wil indwing waarvoor jy betaal maar waar jy nie diens kry nie. Dis glad nie normaal as staatsondernemings jare lank misluk en die regering steeds aan hulle vasklou op die rekening van belastingbetalers nie.

Dis abnormaal as ’n regering wat die land so wanregeer dat ons nou die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld het, weer en weer verkies word. Die welstand van ’n land word deur die welstand van sy werksmag bepaal. Die regering regeer so swak dat miljoene mense nie werk kan kry nie, en vervang boonop werk met welsyn om stemme te koop om sy swak regering voort te sit. Dan word die hardwerkende minderheid teen wie gediskrimineer word, nog beskuldig dat die ellende in die land hulle skuld is! Dis totaal abnormaal!

Normaliteit

Dinge kan nie aangaan soos nou nie – ons almal kan sien die land is op ’n glybaan na Zimbabwe. As staatsbestuur misluk, is selfbestuur die enigste oplossing. Suid-Afrika se grondoppervlakte is so groot soos die gesamentlike oppervlakte van Brittanje, Duitsland, Italië, Nederland, België, Griekeland, Ierland en Denemarke. Dis heeltemal te groot en te kompleks om te dink dat die ANC so ’n groot landstreek kan regeer. Niemand sal dit eers oorweeg om al hierdie lande onder een sentrale regering te probeer indruk nie. Dit sal nooit eers in Europa werk nie, laat staan nog hier. Suid-Afrika is veel eerder ’n landstreek as ’n normale land.

Afrikaners

Afrikaners se bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding, wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme het.

Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland (Eswatini), Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid.

Dis nonsens dat daar boonop van ons verwag word om te ontbind as Afrikaners – ons moet kwansuis opgaan in ’n Suid-Afrikaanse geheel. Dis nie eers van die Duitsers na die wêreldoorloë verwag nie. Hulle is vandag nie net Europeërs nie, maar steeds Duitsers wat hulself regeer en nie onder rassewette en ’n korrupte wanregering ly nie. Boonop sluit die rasseformules van transformasie ons uit van opgaan in die groter geheel. Die ANC beskou en behandel wit mense as tweedeklasburgers. Hul eie beleid sê duidelik dat die ANC se doel die bevryding van Afrikane in die besonder en swart mense in die algemeen is. Hulle spel ook uitdruklik ’n beleid van “Afrikaan-oorheersing” in hulle dokumente uit.

Apartheid onder nuwe bestuur

Ons kan nie meer vir die skynheilige “nie-rassigheid” val van ’n party wat ’n hele rassebedeling hervestig het nie. Apartheid is nie in 1994 afgeskaf nie. Dis net omgekeer en onder nuwe bestuur geplaas.

Ons kan nie net méér van dieselfde doen nie, want dit gaan net dieselfde uitkomste hê. Dr Anton Rupert het tereg gesê dat ’n klein volk groot moet dink en groot sal moet doen om te oorleef. Daarom sal die Solidariteit Beweging ons konsentrasiestrategie moet verskerp om groter normaliteit te bewerkstellig. ’n Maglose yl verspreide minderheid se vryheid, veiligheid en voorspoed gaan altyd bedreig word deur die leiers van ’n demografiese meerderheid wat belasting-melkkoeie en sondebokke vir hulle mislukkings soek. Ons sal onder hierdie onbevoegde korruptes moet uitkom. Ons kinders verdien ’n normale toekoms.

 

  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close