Algemeen -

'n Positiewe houding maak alle laste lig!

Die meeste van ons wat die voorreg gehad het om in 'n stadium 'n standerdsessie of eerstejaarstudent te wees, het met hierdie sinnetjie kennis gemaak. Die oomblik wanneer jy veronderstel was om dit in groepverband kliphard te skree, was ook wanneer jou emosionele stand dit doodeenvoudig nie wou doen nie, maar jy het geskree – 'n positiewe houding maak alle laste lig!

Die ingesteldheid van positiwiteit wanneer dit nie goed gaan nie, is deel van die meeste van ons se samestelling en ek glo dit is ook die rede hoekom ons as Afrikaners meer as een keer al suksesvol was met die bewaring van soveel kosbare kultuurskatte.

Ons ingesteldheid tot die samelewing en manier van dinge doen is die afgelope twee jaar werklik beproef. Ingesteldheid, of “mindset”, geniet die afgelope tyd weer baie aandag. Die fokus vanuit verskillende sektore op die ingesteldheid van jou as mens word spreektaal in die omgewings waar ons almal werk. Daar word weer fokus geplaas op die waarde wat mense tot sektore toevoeg waar hulle werk. Winste en titels is nie meer die prominente fokus nie; daar word eerder gefokus op die verskil wat in kollegas en kliënte se lewens gemaak kan word.

Adam Grant, 'n baie bekende bedryfsielkundige en professor aan die Wharton-sakeskool van die universiteit van Pennsilvanië, geniet erkenning as 'n meester op die gebied om mense se ingesteldheid oor hulle denke te verander. Hy is van mening dat intelligensie, wat verwys na die vermoë om te kan leer, nie meer noodwendig die belangrikste rolspeler in die veranderende wêreld is nie. Dit is nou eerder ons vermoë om dit wat ons geleer het, te herdink en te vergeet. Ek stem saam met hom; ons almal gaan 'n nuwe manier van dink moet aanleer om suksesvol in die veranderende wêreld te wees.

Die belangrikheid van konstante voortgesette leer kan hierin nie onderskat word nie. Die einde van 2021 lê op die horison en 'n onbekende 2022 begin al in die meeste van ons se dagboeke inkruip. Ruim in hierdie feesseisoen tyd in om te begin werk aan jou ingesteldheid vir 2022. Dit is die perfekte tyd om saam familie te kuier, maar dit is die beste tyd om te begin dink aan die eksponensiële groei vir 2022!

  •  
  •  
  •  
Deur Higgs


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close