Algemeen -

'n Wêreld sonder skuld

Groot kommer heers oor die staat se skuldvlakke wat tans vinnig op pad is na R4 biljoen (dis vier miljoen miljoen, of die prys van almal in die fliekteater se springmielies en koeldrank). Tans kom dit daarop neer dat elke burger so net oor die R70 000 aan die staat se krediteure skuld.

Dan het die meeste van ons ook nog skuld van ons eie. Skuld op huislenings kan nog verstaan word en tot 'n mate ook skuld op motorlenings, maar klererekeninge en kredietkaarte oor die algemeen is selde 'n goeie idee. Maar kan die ekonomie aangaan sonder skuld? Spreuke sê immers die man wat geld leen is die slaaf van die man by wie hy leen. En wie wil nou die bank se slaaf wees?

Ek wil my elke maand skop as my motorpaaiement se debietorder afgaan. Ek kon tog veel eerder gespaar het en dan 'n motor kontant gekoop het. Ek is eintlik maar 'n swakkerige voorbeeld van die probleem, want my skuld-tot-inkomsteverhouding is redelik laag. Die gemiddelde verhouding in Suid-Afrika is tans 77,1%. Met ander woorde, die gemiddelde Suid-Afrikaner het R77 se skuld vir elke R100 wat hulle verdien. As dit alles skielik deur krediteure opgeëis word, sal die wêreld in duie stort.

Maar sodra mense finansieel herstel het van hierdie denkbeeldige skuldeisers se skielike bevel om te betaal en nie nuwe skuld aangaan nie, sal hulle uiteindelik veel beter daaraan toe wees. Dit sal vir my baie bevrydend wees om nie meer 'n deel van my inkomste aan 'n motorpaaiement te betaal nie. Dink net hoe vry die hele samelewing sal wees as almal hul hele salaris beskikbaar kon hê om te bestee. Dan moet ons nog rente daarby reken. Die rente is iets wat jy nooit sou betaal as jy gespaar en die motor kontant sou koop nie. Inteendeel, jy sou rente verdien.

As 'n mens die proses dan 'n paar jaar lank herhaal, sal die uiteinde vir die meeste mense uitstekend wees. Die eiendomsmark sal waarskynlik in duie stort, met die gevolg dat huise weer vir die gewone mens bekostigbaar sal wees. Motorvervaardigers sal moeite doen om hul motors meer bekostigbaar te maak en weeldemotors sal 'n skaars artikel op ons paaie word.

Die meeste hiervan is goed, maar 'n wêreld sonder skuld is nie net maanskyn en rose nie. Die meeste van ons wil nie lewenslank ons huise huur of in kleiner plekke bly nie. Dan is daar natuurlik ook ondernemings wat soms dringend moet uitbrei, of dringend 'n gaping in die mark moet vul, maar nie die nodige kapitaal het nie. 'n Wêreld sonder skuld sal baie van dié ondernemings se einde beteken.

Die teendeel is ook waar. Ondernemings sonder skuld kon verlede jaar se inperking baie makliker verwerk. Nie dat dit maklik was nie, maar dink nou net as hulle reeds elke maand met 'n enorme minus begin en dan boonop geen inkomste verdien nie. Daarom moet daar baie oordeelkundig oor skuld gedink word, en die antwoord moet oor die algemeen wees: “Nee, moenie skuld aangaan nie.” Vir die meeste van ons is 'n wêreld sonder skuld wenslik.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close