Algemeen, Ekonomie, My Werk -

Naweke: Dankie tog vir kapitalisme!

Deur Reon Janse van Rensburg

 

In 1926 het Henry Ford 'n 40-uurwerkweek ingestel. Ons kan daaroor bespiegel of hy die besluit geneem het omdat hy graag na sy werknemers se welstand wou omsien. Die kanse is egter groter dat hy dit as 'n geleentheid beskou het wat uitgebuit kon word omdat verbruikers met meer vrye tyd op hande meer geleentheid sou hê om meer produkte te koop.

'n Mens kan sekerlik ook aanvoer dat werknemers wat genoeg rus kry meer produktief is en dat hul produktiwiteit op 'n Maandag veel hoër is nadat hulle die naweek later kon slaap, kon ontspan en genoeg tyd gehad het om na hul gunstelingsportsoort op TV te kyk.

“People with more time for relaxation have more clothes. They eat a greater variety of foods. They need more transport in vehicles.” – Henry Ford

Net 'n jaar later het 262 ondernemings 'n vyfdagwerkweek ingestel. Hierdie gebeurtenis het aanleiding gegee tot die koms van die naweek en die bekende Vrydag-gevoel wat daarmee gepaardgaan en wat ons almal vandag so goed ken. Vir die eerste keer kon mense twee sorgelose en werklose dae aan die einde van die werkweek beleef.

Iets waarna 'n mens uit die voorafgaande moet oplet, is dat dit die privaat sektor was wat naweke aan werknemers gebied het en nie die regering nie. Regerings munt uit daarmee om onnodige wette uit te dink en af te dwing. Die idee dat ons wette benodig wat die maksimum ure in 'n werkweek bepaal en wat veronderstel is om werknemers te beskerm, kan as 'n mite beskou word.

Kapitalisme en 'n vryemarkstelsel waarin werknemers self besluite kan neem sonder inmenging deur die regering het daartoe aanleiding gegee dat werknemers se werksure verminder is, selfs voor wetgewing bestaan het wat dit afdwing. Volgens die ekonoom, Robert Whaples, het die gemiddelde werkweek reeds sedert die 1830’s begin korter raak.

Arbeidswetgewing wat bepaal wat die maksimum aantal ure is wat 'n werknemer mag werk, werk eintlik teen die werknemer vir wie die wetgewing geskryf is en wat veronderstel is om daardeur beskerm te word. Dit benadeel die werknemer se vermoë om meer geld te verdien. Jou salaris word bepaal op grond van jou produksie of uitsette en van dit wat jy produseer. Veronderstel jy is 'n vryskutwerker en jy word slegs op grond van jou uitsette betaal. Indien jy minder werk, gaan jy minder betaal word. Die teenoorgestelde geld natuurlik ook – hoe meer jy werk, hoe meer word jy betaal.

In die sogenaamde “gig-ekonomie,” oftewel 'n arbeidsmark wat gekenmerk word deur die groter voorkoms van korttermynkontrakte of vryskutwerk in teenstelling met permanente werk, sal werknemers in beheer wees van hul werksure, asook die werk wat hulle aanpak.

Voorgeskrewe wetgewing oor die maksimum aantal ure verminder werknemers se vermoë om hul inkomste te verhoog deur meer ure te werk en dus ook meer te produseer, of om hul uitsette te verhoog.

Kapitalisme het meer as net ons werksure kom verander. Dit het ook die betekenis wat ons aan vryetyd heg, verander.

Kapitalisme skep die masjinerie wat dit moontlik maak om te kan naweek hou. In 'n sosialistiese stelsel sou naweke 'n onverwesenlike droom gewees het – iets waaroor ons op Vrydae sou droom en saans oor sou wakker lê wanneer ons reeds vroeg op Saterdae en Sondae moes gaan werk. Dit is ook natuurlik indien jy so gelukkig sou wees om wel 'n werk te hê. Blou Maandag sou dan bekendgestaan het as blou alledag.

Kapitalisme maak dit vir ons moontlik om vir 'n paar oomblikke uit die masjinerie te ontsnap.

Dit laat ons nie net toe om 'n naweek af te neem nie, maar ook om beter mense te wees. Ons almal het 'n behoefte daaraan om te rus en om vir 'n oomblik net te wees, sonder dat enigiets van ons verwag word. Ons is mense buite ons werk, wat ons daagliks beoefen sodat ons mens kan wees.

Wanneer ons rus, word ons weer onsself. Ons kry nuwe moed en krag. Rus maak ons kreatiwiteit wakker wat ons in staat stel om weer te kan skep.

Dit is danksy kapitalisme dat ons kan rus, kan moedhou en kan aanhou.

Dankie tog vir kapitalisme – dis naweek!

  • 38
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close