Algemeen -

NGV sal ons almal op gelyke voet laat sterf

Gelykheid is die domste strewe waarmee politici nóg vorendag kon kom. Almal werk nie ewe hard nie, benodig nie ewe veel vaardighede nie en aanvaar nie ewe veel verantwoordelikhede nie. Daarom kan almal nie op dieselfde inkomste aanspraak maak nie en ook nie dieselfde voorregte bekostig nie. Dit is hoe dit is, en dit was nog nooit in die geskiedenis van die mensdom anders nie. Dit geld ook vir gesondheidsorg.

Om te dink dat almal toegang tot privaat gesondheidsorg sal hê omdat die regering sê dit moet so wees, is 'n droom wat nie in Suid-Afrika verwesenlik sal kan word nie. Dit sal in teorie so wees, maar die privaat sektor sal verswak tot op die punt waar die diens net so erg, of erger as in die openbare sektor sal wees. Daar is niks fout met die dokters wat in die openbare gesondheidstelsel werk nie. Die meeste van hulle is regtig van wêreldklas en soms selfs van die beste in die wêreld. Die probleem is net dat daar so min van hulle is. Mense wag soms dae lank om in ons staatshospitale gehelp te word. In die geval van algemene operasies wag hulle soms jare. Ook in die privaat sektor kan spesialiste 'n mens selde onmiddellik help.

As almal gelyke toegang kry, sal dit daarop neerkom dat niemand gelyke toegang het nie. Gelykheid sal inderdaad bevorder word, maar nie soos wat die staat hoop om dit te doen nie. Soos wat dit reeds die geval is, het ons al 'n tekort van ten minste 18 000 verpleegpersoneel. In die geval van dokters is die tekort net so erg. Eerder as om meer medici op te lei en aansporings daar te stel sodat hulle nie die land verlaat nie, wil ons regering 'n nasionale gesondheidsversekeringstelsel (NGV) instel.

Vir baie van ons klink dit heel ideaal. Jy betaal 'n klein bietjie meer belasting as nou, maar in ruil daarvoor hoef jy nie meer 'n mediese fonds te hê nie. En jy kry nog steeds behandeling in privaat hospitale. Maar dit gaan nie so wees nie. Omtrent 'n derde van dokters sê dat as die NGV ingestel word, hulle sal emigreer – en dít terwyl ons reeds 'n tekort aan dokters het. As dit gebeur, sal ons inderdaad gelyke toegang hê, maar dit sal gelyke toegang wees tot 'n stelsel waarin ons almal gaan sterf.

'n Nasionale stelsel het nog nêrens in die wêreld beter uitkomste opgelewer nie. In Kanada is dit algemeen bekend dat diegene wat dit kan bekostig, na die VSA gaan om operasies daar te ondergaan omdat hulle nie vir die lang wagtye in Kanada kans sien nie. Selfs in Engeland, waar die NHS die trots van Brittanje genoem word, is dit vir die meeste mense ondenkbaar om byvoorbeeld hul skewe tande te laat regmaak. Dit word as 'n luukse beskou en kan daarom nie maklik as deel van NHS-voordele gedoen word nie. Die staat beskou dit nie as sy werk om jou lewe gemaklik te maak nie. As iets pyn veroorsaak, maar dit bedreig nie jou lewe nie, sal dit nie reggemaak word nie. Jou seun se rugbyloopbaan sal nie vir 'n oorwerkte dokter so belangrik wees soos wat dit tans is nie. Hulle sal bloot nie meer die tyd hê om daaraan aandag te gee nie, of hulle sal na plekke emigreer waar hulle wel hul passie kan uitleef.

In die privaat sektor is dit in elke dokter se beste belang om die beste te wees. Mense is bereid om moeite te doen om by 'n spesialis uit te kom wat hulle op 'n meer gespesialiseerde manier as 'n ander kan behandel. In 'n stelsel waar almal gelyke toegang het terwyl net belastingbetalers daarvoor betaal, sal die minimum genoeg wees. Dokters se enigste prioriteit sal wees om jou so gou as moontlik uit hul spreekkamer te kry om plek te maak vir die volgende pasiënt. Dit sal hopelik nie wees omdat hulle dit so verkies nie, maar omdat daar nie tyd vir spesiale aandag is nie.

Ons kan nie die stelsel bekostig nie, nie wat geld betref nie en ook nie wat goeie sorg betref wat ons sal moet inboet nie. Die staat sal eerder daarop moet fokus om die huidige openbare stelsel te moderniseer en te verbeter. En heel eerste moet ons veel meer dokters oplei, met 'n groter fokus op navorsing. Suid-Afrika was destyds toonaangewend in dié verband. Ons kan dit weer wees, of ons kan die hele bedryf vernietig deur NGV in te stel.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close