Solidariteit Blog
Algemeen -

Normale werksmag vereis ‘n normale land

Die ANC se “leiding” is die regstreekse oorsaak van die lyding van derduisende werkloses. Hulle is verantwoordelik vir die land se voortslepende politieke probleme en die ekonomiese “werkstilstand”. Dit lei daartoe dat die ekonomie nie groei nie, dat werkloosheid styg, en dat nog derduisende hardwerkende mense se werk in gevaar is. Mnr Ramaphosa sal drasties moet optree om nog duisende werkers van afdanking te red. Werk kan tog nie met dieselfde beleid geskep word as waarmee dit ontstaan het nie.

Welstand

Die welstand van 'n land word deur die welstand van sy werksmag bepaal. Gesaghebbende meningspeilings deur Gallup het getoon dat die grootste behoefte van die meeste mense ter wêreld 'n goeie werk is. Daarom is 'n goed opgeleide, goed betaalde en produktiewe werksmag noodsaaklik vir Suid-Afrika om te werk. Tweedens is dit ook 'n voorwaarde vir die verbetering van die bevolking se lewenstandaard – die doel van ’n ekonomie. Derdens is 'n topgehalte-arbeidsmag 'n vereiste vir die oplossing van ons land se knellende vraagstukke van armoede en werkloosheid.

Sonder ’n top-arbeidsmag wat as ’n wenspan by ons internasionale mededingers kan kers vashou, sal ons van die wêreldkaart verdwyn. Ons onderwysstelsel is so swak dat die meeste skoolverlaters onindiensneembaar is. Daar is tans sowat 9 miljoen mense in Suid-Afrika wat wil werk, maar nie werk nie. Dié mense lewer nie 'n produktiewe bydrae na wense nie. Die Wêreld- Ekonomiese Forum se globale mededingendheidsverslag gradeer ons arbeid-werkgewer-verhoudings die heel laagste uit 138 lande. Die linkse vakbondwese veg meer teen mekaar as vir hul lede. Meer as 16 miljoen mense ontvang maatskaplike toelae, teenoor die net 3,3 miljoen belastingbetalers wat vir die 2015-belastingjaar 'n volle 99% van die aangeslane persoonlike inkomstebelasting betaal het. Dit beteken dat meer mense vir 'n lewe stem as wat vir 'n lewe werk!

Hemel word hel

Dan word die ekonomie nog verder benadeel deur regeringsbeleid en wetgewing wat oorblyfsels is van 'n aggressiewe anti-besigheidsideologie wat in die grou Oosblok-geskiedenis vasgesteek het. Dít terwyl daar oorvloedige bewys is dat daardie tipe stelsels wat 'n werker-hemel-op-aarde probeer skep het, veel eerder op 'n hel van werkerarmoede en -verdrukking uitgeloop het.

Linkse vakbonde wat werkgewers as vyande sien wat in 'n klasseoorlog uitgewis moet word, veg die verkeerde geveg. 'n Aanval op besigheid as instelling is 'n aanval op werkers se werk, hul brood en botter, die ekonomie en op die land self. Die werklike geveg is teen die land se globale mededingers wat reeds soveel werksgeleenthede hier vernietig het. Dit help nie om te bly veg teen die internasionale ekonomiese spelreël van mededingendheid nie. Die oplossing lê veel eerder daarin om die spel volgens die reëls te speel en te wen, want in hierdie wedstryd is daar nie 'n tweede prys nie.

Die tyd het aangebreek om werk te maak van die treurige stand van ons land se werksmag. Die enigste oplossing bly om die ekonomiese koek groter te maak anders gaan ons eendag veg oor die krummels wat oorbly.

Normaliteit

Daarom glo Solidariteit daaraan om mense se inkomste te verdubbel deur produktiwiteit met opleiding te verdubbel, eerder as om te probeer staak vir “dubbelsyferverhogings.” Daarby sal ons planne moet versnel om meer vaardigheidskursusse aan te bied en ons Studiefonds te vergroot om dit vir almal wat wil moontlik te maak om ‘n vaardigheid te kan bekom. Tweedens sal ons Beweging nog vinniger projekte moet loods om die land so ver moontlik te normaliseer. Suid-Afrika moet kies tussen Sosialistiese rassewette én ‘n moderne ekonomie. Dis nie moontlik om albei saam te hê nie.  'n Normale werksmag is nie moontlik in 'n abnormale land nie.

 

  • 18
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Back to top