Wat 'n debat was dit nie. Die knuppel was behoorlik in die hoenderhok gegooi oor Solidariteit se Diepsloot-aksie. Dit was die grootste reaksie nog op hierdie blog. Al die reaksies het my bietjie herinner aan die telefoonspeletjie wat ons in ons kinderdae gespeel het: Jy fluister iets in iemand se oor en dan word dit oorgefluister en almal skater om te hoor wat die laaste persoon gehoor het. Dit was met die Diepsloot-debat ook so. Die afleidings op afleidings het 'n totaal skewe prentjie veroorsaak.

Die waarheid is dat Solidariteit 'n versoek van 'n Solidariteit-lid ontvang het om met die opknapping van 'n kleuterskool by 'n kerk in Diepsloot te help. Deur die kleuterskool word ouers aan die kerk blootgestel en dit veroorsaak dat die kerk groei. Die lid het borge vir die aksie gekry. Solidariteit het vrywilligers gevra om te help. Die projek is dus deur borggeld en vrywilligers ondersteun.

Die ander kant van die saak is dat die Solidariteit Beweging die afgelope jaar R1,5 miljoen aan Afrikaanse kleuterprojekte en ongeveer R20 miljoen aan Afrikaanse opleiding spandeer het, begin het om 'n R100 miljoen Afrikaanse kampus te bou, boeke oor die Anglo-Boereoorlog uitgegee het, 1 200 sake vir Afrikaners hanteer het, R150 miljoen se vergoeding vir lede beding het en nog vele meer projekte aangepak het. Die Solidariteit Beweging se missie is om vir Afrikaners 'n plek in Suid-Afrika te skep. Al hierdie dinge het mettertyd in die debat uitgekom en die debat het natuurlik tot 'n einde gekom. Een harde blogger het 'n e-pos aan my gestuur en gesê: “Ai, die emosie het weggehardloop en daar was een groot misverstand.” Dit bring ons dan by die einde van hierdie debat. Die groot debat wat nou voorlê, is die een oor bankfooie in Suid-Afrika. Geniet dit.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close