Die Solidariteit Radio-span het drie lede bygekry wat elke Dinsdag, Donderdag en Vrydag splinternuwe programme tussen 12:00 en 13:00 aanbied. Moira-Marie Kloppers het met Alexia Vosloo, Xander de Kock en Eugene Brink oor hulle nuwe rolle by Solidariteit Radio gesels.

Alexia Vosloo werk in Solidariteit se regsafdeling en is nou die aanbieder van die program Leefstyl, wat elke Dinsdag op Solidariteit Radio uitgesaai word.

 

Hoe het dit gebeur dat jy 'n aanbieder op Solidariteit Radio geword het?
My kollegas het my aangemoedig om vir 'n aanbieder-kompetisie vir Solidariteit Radio in te skryf.

Beskryf jou eerste ervaring as aanbieder?
My eerste ervaring was baie opwindend. Ek het vir my eerste program 'n onderhoud met die sangeres Nianell gedoen. Dit was baie opwindend en ek sien elke week uit na my volgende program.

Wat wil jy graag met jou program bereik?
My program, Leefstyl, is 'n informele kuierprogram waardeur ek 'n positiewe, opbouende bydrae wil lewer. Leefstyl het iets vir almal. Van kinders en kosmaak tot 4×4-ritte en jag.

Wanneer word jou program uitgesaai?
Leefstyl word Dinsdae om 13:00 uitgesaai.

Watter insetsels kan op jou program gehoor word en waaroor gaan die insetsels kortliks?
Benewens 'n selfdoen-program vir projekte in en om jou huis deur Johann Stadler, gaan ek elke week in Vernames Verklap met 'n bekende gesels wat iets oor hom- of haarself verklap wat min mense weet. Verder bied Heleen Robbertse elke week Vrouwees aan terwyl Cilleste van der Walt elke week oor iets nuuts in die wêreld gesels in haar insetsel, Wat’s nuut?

Eugene Brink is 'n navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut en is aanbieder van die Donderdagprogram, Oorsig

Waarom het jy besluit om 'n aanbieder op Solidariteit Radio te word?
Ek het gedink dit sal 'n ekstra interessante dinamiek tot my werk verleen en 'n interessante uitdaging wees. Ek is ook 'n oudjoernalis en sien uit daarna om in die uitsaaiwese te werk, want voorheen het ek al die jare uitsluitlik vir druk- en Internetmedia gewerk.

Wat wil jy graag met jou program bereik?
Ek wil grootliks mense inlig en veral polities meer a-apaties maak, terwyl daar darem ook 'n proesel vermaak in sal wees. Ek wil hulle toerus met regskennis, lewenskennis en politieke kennis sodat hulle bemagtig kan wees om hul regte te kan opeis, goeie besluite oor hul lewens kan neem en die wêreld om hulle sal verstaan. So as jy wil weet hoe om tuin te maak met varkore, gaan ek jou ongelukkig teleurstel.

Wanneer word jou program uitgesaai?
Donderdae om 12:00

Watter insetsels kan op jou program gehoor word en waaroor gaan die insetsels kortliks?
My program se titel is tereg Oorsig en bied 'n oorsig oor 'n wye reeks onderwerpe wat beroepsleiding, regsvrae, 'n onderhoud met 'n bekende sanger, ontleding van die komende munisipale verkiesing en 'n blik op internasionale gebeure insluit.

Xander de Kock werk vir AfriForum en is nou ook die aanbieder van Solidariteit Radio se Vrydagprogram, Perspektief.

Waarom het jy besluit om 'n aanbieder op Solidariteit Radio te word?
Wat 'n geleentheid om 'n boodskap en 'n droom uit te leef! Ek dink dit is belangrik dat die algemene publiek ook deel word van die openbare debat en sodoende bydra tot besluitnemingsprosesse. In elk geval het ek nog altyd gedroom om 'n “celeb” te wees!

Beskryf was jou eerste ervaring as aanbieder?
Ongelooflik! Ek het gewoonlik 'n gladde tong, maar my tong was kurkdroog en my hart het in my keel geklop. Tog was dit vir my 'n ervaring wat my baie trots gemaak het.

Wat wil jy graag met jou program bereik?
Deelname, deelname, deelname! En konfrontasie wanneer dit nodig is, al is dit dalk kontroversieel!

Wanneer word jou program uitgesaai?
Die beste tyd van die hele week. Vrydae tydens die “siësta”, dis nou Vrydae om 12:00.

Watter insetsels kan op jou program gehoor word en waaroor gaan die insetsels kortliks?
My Perspektief is kontroversieel en opponerend. Kry perspektief op Solidariteit Radio! Raar maar Waar is 'n nuusinsetsel vir ongewone nuus en snaakse situasies. ToetenTaal help om die diep, kleurryke rykdomme van ons taal te ontdek. Fokus op Opvoedkunde en Onderwys gee elke week 'n kykie in die wêreld van kleuters, kinders en studente. Sê jou sê in Rek jou Bek en leer jouself ken in Leef jou hart.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close