Alhoewel die meeste nuwejaarsvoornemens gemaak word om gebreek te word, is dit steeds ’n goeie tyd van die jaar om effens terug te dink oor die vorige jaar en met 'n nuwe bril na die toekoms te kyk. Die nuwe jaar hou gewoonlik 'n nuwe begin, nuwe doelwitte en nuwe planne in. Hier is vyf nuwejaarsvoornemens vir mense in die werksplek.

 

  1. Pak iets aan waarin jy goed is en doen dit elke dag tot die beste van jou vermoë.

Om suksesvol in die werkplek te wees, is dit noodsaaklik om gelukkig, gemotiveerd en produktief te wees. Maak dus seker jy weet wat vanjaar van jou verwag word, sodat jy goed toegerus is om die werk doeltreffend te voltooi en dit geniet. Raak passievol oor jou werk.

 

  1. Gee vir jouself erkenning wanneer jy dit verdien.

Navorsing toon dat wanneer werknemers erkenning vir hul harde werk kry, hul geneig is om harder te werk en meer gemotiveerd is. Die probleem in vandag se besige werksplekke is dat jy nie elke dag kontak met jou bestuurder het nie en daarom is selferkenning so belangrik. Hou 'n lêer met positiewe notas en beloon jouself vir al jou harde werk.

 

  1. Streef daarna om elke dag iets nuuts te leer.

Dit is so maklik om in jou ou gewoontes te verval en voor jy jou oё uitvee, doen jy alles op dieselfde manier en leer jy niks nuuts nie. Ontwikkel jouself deur artikels te lees, vrae te stel of aanlyn kursusse te voltooi.

 

  1. Tree uit jou gemaksone.

Maak werk daarvan om dié jaar jou sê te sê. As jy 'n standpunt of 'n goeie idee het, stel dit voor aan die groep. Jy weet nooit, dalk is jou idee die nuwe veldtog.

 

  1. Wees georganiseerd en voorbereid op alles.

Beplanning is die sleutel tot sukses. Skaf vir jouself 'n dagboek aan of maak gebruik van Microsoft Office Outlook of Google se kalender. Soos die tyd aanstap, het die jaar die geneigdheid om al hoe vinniger te beweeg en besiger te raak. Daarom is dit krities dat jy jou daaglikse aktiwiteite opweeg en met jou doelwitte vergelyk, want sodoende kan jy bepaal of jy stagneer of vooruitgang toon. Jy kom ook meer professioneel voor as jy jou take prioritiseer, by spertye hou en weet wat in die werksomgewing aangaan.

Mag dié nuwejaarsvoornemens jou help om vanjaar die beste werksjaar nóg te maak, en onthou om vanjaar goed te wees vir jouself.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close