Algemeen -

Om jammer te sê

Dit wil vir my voorkom asof mense dit al hoe moeiliker vind om die woordjie “jammer” te gebruik. Dit kan natuurlik ook wees dat basiese goeie maniere deesdae by mense ontbreek.

Klink hierdie nie vir jou ook bekend nie:

Moenie iemand wat van voor af kom, groet nie – gluur eerder die persoon fronsend aan óf ignoreer hom of haar.
Moenie dankie sê nie – aanvaar alles eerder as vanselfsprekend. Dit kom jou mos toe, dan nie?
Loop oor almal en trap op soveel mense moontlik – die gesegde lui mos: “Elkeen vir homself en die duiwel vir die res!”

Daar is volgens my tóg baie te sê van iemand se karakter in hoe hy ander mense behandel.

CJ Langenhoven het gesê: Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is; jou gelyke omdat dit jou plesier is; jou mindere omdat dit jou voorreg is.

Vriendelikheid kos niks!

Gaan daar iets van jou afval as jy jammer sê nadat jy verkeerd opgetree het? Ek kry juis meer respek vir iemand wat kan erken dat hy of sy ‘n fout gemaak het.

Ons almal maak foute – geen mens is volmaak nie. Niemand kan altyd onberispelik optree nie. Wees mans genoeg om te erken dat jy verkeerd was en moenie agter flou verskonings wegkruip en dit wegpraat nie. “Dit was net ‘n grappie” kan nie: “Ek het dit nie so bedoel nie, ek is jammer”, vervang nie.

Om jammer te sê is nie ‘n teken van swakheid nie!

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close