Algemeen -

Om op Saterdae 'n SuperSport-kameraman te wees

Deur Reon Janse van Rensburg

Verlang jy ook na regte sportgeleenthede? Ek noem dit spesifiek regte sportgeleenthede omdat sportgeleenthede soos wat ons dit tans ken nie regte sportgeleenthede kan wees nie. Regte sportgeleenthede hoort in stadions vol ondersteuners. Mense wat in die parkering met hulle blou Cadac-gasbraaiers 'n worsie gaarmaak terwyl hulle die kattebak van hulle motors as sitplekke gebruik en die musiek uit die luidsprekers gons; die verkoop van memorabilia wat vanaf China ingevoer word en rye mense wat staan en wag vir 'n bier wat uit 'n plastiese beker gedrink word. Regte sportgeleenthede is ook die soort sportgeleenthede waar spelers deur die skare geïnspireer word om soveel as moontlik punte op die telbord te plaas.

My eerste bywoning van 'n rugbywedstryd was in die jaar 1999. Die Cats en die Stormers het mekaar in die Super12-reeks op Ellispark gepak. My pa het my geneem om die wedstryd onder die stadion se helder ligte te gaan kyk en sy jonger sussie het saamgegaan. Ek kan nie vandag meer onthou vir watter span ek voor die wedstryd ondersteun het nie, maar ek onthou wel dat sedert WP daai dag die Cats oorwin het, het ek WP ondersteun. Ek dink my tannie se goeie invloed het miskien ook 'n rol daarin gespeel.

Skielik was die spelers wie se plakkate teen my muur met wondergom vasgeplak was nie net meer teen die muur nie, maar kon ek hulle in lewende lywe te sien kry. Destyds kon jy in die SA Rugby-tydskrif elke maand 'n plakkaat kry. Ek onthou dat ek almal versamel het en dat ek selfs 'n sagte plek vir die Vrystaat-span gekry het omdat my pa hulle ondersteun het, en daarom was daar vir hulle spelers se plakkate ook plek. Percy Montgomery en Bobby Skinstad se plakkate is nou nog iewers in 'n boks weggebêre. Ek is seker dat Jannie de Beer se plakkaat ook saam weggepak is.

Ek onthou die hoeveelheid mense, die musiek in die stadion, die rye by die watergate, die bekende reuk van 'n braaivleisvuur en boerewors wat oral op sypaadjies gaargemaak word en die beeldskone pom-pom meisies wat om die veld gestap het. Daar was selfs 'n tipe kanon wat hemde en ander mooi goed die skares ingeskiet het. Soos altyd was SuperSport ook daar en gereed om elke moontlike hoek van die spel op kamera vas te vang, net vir ingeval die skeidsregter weer moes kyk en seker maak van sy beslissing.

Daar is sedert daai dag al honderde wedstryde gespeel waar nuwe legendes gemaak en ook gebreek is. Duisende toeskouers het al elke sitplek deurgesit en die geboue rondom die stadion het al honderde applouse en 'n gejuig gehoor wanneer die Leeus of hul teenstanders 'n besoek agter die pale aflê. Selfs die Springbokke kon 'n slag of twee weer amok maak op die internasionale verhoog. Ek het self al die voorreg gehad om op die veld te kon loop tydens 'n afrigting opleidingsessie toe ek in die onderwys was. Die hoogtepunt was egter nie vir my die opleiding nie, maar eerder om op die einste plek te kon staan waar Joel Stransky daai skop in 1995 oorgeskop het.

Elke jaar besoek honderde duisende Suid-Afrikaners verskillende stadions om hul gunsteling sportsterre in aksie te sien. Ondersteuners kom van ver af en daar sal nie gestry word as ek noem dat sommige ondersteuners buitengewone rituele het wanneer hulle op 'n Saterdag by 'n sportstadion opdaag nie. Gee vir 'n Suid-Afrikaner 'n geleentheid om te braai, 'n bier te geniet en om hul oë op 'n bal te vestig en hulle sal 'n verskoning soek om daar te wees.

Vanjaar was dinge egter anders. Die geleentheid om sport te kon geniet is van ons ontneem deur 'n nare virus en vir 'n tyd lank moes ons maar onsself in ons eie tuine verbeel dat ons die volgende losskakel vir die Springbokke gaan wees. Ek weet ek het selfs ou rugbywedstryde gekyk al het ek geweet wat die uitslae op teen die 80ste minuut sou wees.

Met die terugkeer van sport soos ons dit in sy huidige formaat ken is daar slegs een manier om dit te geniet – voor die televisie. Normaalweg is dit nie 'n slegte ondervinding om rugby voor die TV te geniet nie. Die geraas van die skare en die spelers wat energie daaruit tap is opwindend en selfs 'n groot man soos Victor Matfield lyk gewoonlik opgewonde voor 'n wedstryd en dit terwyl hy as aanbieder op SuperSport werk en nie eens self op die veld uitdraf nie.

Met die afwesigheid van die skare en die gedreun van lekker musiek het dit my laat wonder hoe dit moet voel om 'n kameraman te wees wat reg teen die veld toegelaat word om elke oomblik van die spel regstreeks in jou sitkamer of lapa te kan uitbeeld. Dit is so amper asof jy 'n “lucky packet” oopgemaak het en die kans om daar te wees gewen het! Jy kan ook deel wees van die opgewondenheid van die spelers en die ondersteuners, maar meteens val dit my by dat jy eintlik staar na geplakte foto’s van ondersteuners wat op bordjies geplak is en vandag nie in vlees daar is nie. Jy luister na die musiek in die stadion, maar niemand dans nie. Jy sien nie 'n lawwe oom wat homself potblou geverf het en in sy veiligheidshelm en horings op sy kop dans terwyl Steve se Blou Bul-lied oor die luidsprekers blêr nie.

Daar is nie werklik meer atmosfeer nie, slegs 'n spel wat nie meer soos kuns lyk nie, maar eerder soos proewe wat oor die algemeen in 'n leë stadion gespeel word.

Rye en rye sitplekke wat deur alledaagse mense soos jy en ek gevul word, word nou gebruik vir bemarkingsdoeleindes. Die hekke is toe en die verkeer langs elke stadion in Suid-Afrika is veels te stil op Saterdae. Die lug is te skoon in die afwesigheid van braaivleisvure en selfs SuperSport-kameramanne se “werk” is nou 'n regte werk langs die rugbyveld op Saterdae.

Die volgende kreet deur 'n span se pom-pom meisies behoort van pas te wees – “Brrr it’s cold in here, there must be something wrong with the atmosphere…”

Die virus en toekoms is onvoorspelbaar, maar ek hoop egter om weer 'n toekoms te kan beleef waar ons saam mag lag, kwaad word vir die skeidsregter, saam in rye mag staan, saam mag sukkel om parkering te kry, saam mag huil en saam mag wens om nog nader aan die veld te kan kom, nes die kameramanne van SuperSport.

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close