Algemeen, Politiek -

Om te skree teen kranse

Oor drie dae werk ek al elf maande vir Solidariteit.  “Werk” is dalk nie die regte woord nie – mense wat net by 'n plek is om goedjies te doen en 'n salaris te kry – hulle werk.  Wat ek doen is vervulling van my roeping, uitlewing van my ambisie en menswees, en die vergestalting van my diepste oortuiging. Dit is ook die opbou van weerstand teen my diepste vrese.

Elke dag bestee ek my tyd aan projekte wat dit ten doel het om dit vir jongmense 'n bietjie makliker te maak om in Suid-Afrika te werk.  Soms voel dit asof ek teen 'n krans skree wat net nie antwoord wil gee nie, om twee redes:

  1. Apatie: Hierdie woord het ek die eerste keer gehoor in 'n liedjie wat op daardie stadium baie onpopulêr was en wat beteken dat mense net nie omgee nie.  Die teenoorgestelde van simpatie.  Ek staan soms by braaivleisvure en hoor hoe mense passievol verskil en met mekaar baklei oor daardie rugbyspeler se werklike posisie, of die prys van vleis of brandstof – alles dinge wat ek toegee belangrik is, maar weet julle dat die Parlement gister met 'n bykans 70%-meerderheid gestem het dat die Grondwet aangepas gaan word om jou eiendom sonder vergoeding net te neem?  Soms wil ek mense wakker skud en sê: “Veiligheidshekke en koeëlvaste ruite gaan jou net só ver kry as jou huis gevat word!” – maar ek sê dit nie.
  2. Sosialisme: As jy niks van politiek weet nie, en niks wil weet nie, goed so, ek dink dit is kortsigtig en gevaarlik, maar dan weer, maak soos jy goeddink.  Jy moet wel verstaan wat sosialisme is.  Sosialisme is 'n regeringstelsel wat glo in 'n sterk sentrale regering met eenrigtingkommunikasie.  So 'n regeringstelsel wil homself deurlopend groter en sterker maak, meer geld insamel deur meer belasting te vra, meer mag hê, en dus 'n Grondwet wil hê wat allerhande magsvergrype moontlik maak.  Jy lewe onder so ‘n stelsel. Hierdie stelsel word groter.  Hy word wreder.  Hy groei lelike tande.

So wat gebeur as hierdie twee bymekaar uitkom?  Baie jongmense gee regtig-egtig nie om nie. Hulle volg geen nuuskanale op sosiale media nie, hulle kyk nie nuus nie, hulle luister nie na nuus nie, want waarom sou hulle?  Dit raak hulle mos nie..?  Ek het al soveel keer gehoor dat mense vir my sê: “Nuus maak my net depressief…” – as jy 'n boek lees wat jou depressief maak, hou op om daardie boek te lees.  Nuus is wel nie 'n boek wat jy by die biblioteek uitgeneem het nie – dit is die waarheid wat om jou aangaan en wat aan jou deurgegee word!  Begin omgee!  Onteiening van eiendom beteken dat die regering die mag sal hê om jou pensioen te onteien sonder om jou 'n sent daarvoor te gee.  Hierdie groot, vet monster van 'n regering met sy lelike tande en sy stink asem mag tans nie aan jou persoonlike eiendom raak sonder om jou daarvoor te vergoed nie.  Daardie reël is op sy sterfbed.

Op hierdie punt sê baie mense dan: “Maar dis dan Cyril – hy besit McDondald’s, hy is so 'n suksesvolle besigheidsman, hy gaan nie ons goed vat nie!”  In 1998 het Hugo Chavez President van Venezuela geword.  Daar was een wet wat hy gebruik het om 49 ander te kon ignoreer, en in 2001 het hy begin om land en rykdom na die staat te sentraliseer.  In 2018 het daar al 2 miljoen mense uit Venezuela gevlug.  Ek spring oor 'n paar stappies, soos opposisiepartye wat boetes gekry het omdat hulle gewelddadige optogte wou uitsaai.  En wat van die groot tekort aan elektrisiteit van 2013? Klink alles so effens bekend, nie waar nie?

Dit is ook nodig om te besef dat dit nie oor President Cyril Ramaphosa se karakter gaan nie.  Hy hoef niks te doen nie, maar die punt is – hy kan!  Enige van die ANC-maatjies wat hom opvolg, en selfs persone op laer vlakke, het nou die mag om eiendom sonder vergoeding te onteien.  Dit is natuurlik enige sosialis se droom.

So wat nou?  Jy kan, volgens my, op een van drie maniere optree. Opsie een: Vlug weg, gaan wees 'n tweedeklasburger in 'n ander land.  Baie kies hierdie opsie, nie almal kan nie, nie almal wil nie.  Ons is uit hierdie grond gebore.  Ons dra Franse, Duitse, Nederlandse en Ierse vanne, maar ons is nie Europees nie – glo my, ek was al daar.  Ons is AFRIKAners – hierdie is ons plek.  Opsie twee: Doen net niks nie. Kruip weg agter 'n hoë muur en hoop die wolwe bly in die berge, soos die Grieke gesê het.  Opsie drie: Besef dat jy hier deur die Hand van jou Skepper geplaas is. Besef dat jy 'n roeping het en as dit is om op te staan en jou stem te laat hoor, doen dit!  As jy voel jou stem is te sag (dit mag dalk wees), maar as ons twee is, as ons tien is, as ons 'n honderdduisend sagte stemme is, sal hulle ons hoor, en meer as dit, dan het ons 'n honderdduisend vriende, bondgenote, broers en susters.

Ek werk oor vier dae al elf maande by Solidariteit.  Ek is mal vir wat ek doen, want ek staan elke dag op en dien my medemens, ek soek werk vir mense wat ek nooit gaan ontmoet nie, ek stuur kwaai briewe aan ministers namens jongmense wat bang en onseker is, en ek is bly daaroor, maar ek het maar net een sagte stem.  Ek hoop van harte dat jy betrokke sal raak, en betrokke bly, en ek hoop van harte dat jy jou een sagte stem by die honderde, duisende, honderdduisende sal voeg.

www.jeug.co.za – Sluit aan!  Skree saam.

  • 35
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close