Ekonomie, Politiek, SNI -

Om verskynsels soos armoede te takel moet Suid-Afrikaners eers die regte vrae vra

G.K. Chesterton, 'n Engelse skrywer en filosoof van die vroeë 20ste eeu, was 'n uitgesproke kritikus van sosialiste en oorywerige hervormers wat die politieke stelsel van sy tyd wou omverwerp. Hy verduidelik dat die groot tekortkoming van hierdie individue nie soseer is dat hulle nie ‘n oplossing vir 'n probleem kan formuleer nie, maar veel eerder dat hulle nie die probleem op sigself kan raaksien nie.

Dit blyk ook duidelik uit gesprekke in Suid-Afrika wanneer dit kom by kwessies soos armoede, geweld en die beperkte toegang tot hulpbronne. Politici, kommentators en selfs gewone Suid-Afrikaners vra hulself gereeld af hoe dit moontlik is dat so baie van hierdie euwels steeds regdeur ons land voorkom. Myn insiens is so 'n vraag bykans nutteloos as ons by oplossings vir die probleme wil uitkom. Dit verskuif ons fokus na die negatiewe. Ons probeer uitpluis wat dié euwels veroorsaak, terwyl ons eerder moet vra wat rykdom, vrede en welvaart bring.

Dit help nie om te kyk na arm lande en te vra hoekom hulle arm is nie. Dit gaan nie vir ons die antwoorde bied oor hoe om armoede te bekamp nie. Trouens, ons moet onthou dat verskynsels soos geweld en armoede hoegenaamd nie die uitsondering op die reël is nie – dit is nou al vir duisende jare die reël in die mensdom se geskiedenis. Die mensdom is vir bykans sy totale bestaan omgewe deur hongersnood, oorlog en gesondheidsbedreigings. Dit is eintlik maar eers taamlik onlangs in ons bestaan dat hierdie euwels minder algemeen begin raak het. Gegewe dan dat hierdie onwenslike verskynsels die standaard vertrekpunt van mense bestaan is, moet die vraag dan nie eerder wees nie: Hoekom is daar dan enigsins rykdom, vrede, oorvloed en al die ander tekens van welvaart wat kenmerkend is van suksesvolle lande? Anders gestel, die menslike bestaan is by uitstek eintlik deurspek met allerlei onwenslike euwels as die norm en nie met welvaart of rykdom nie, hoe skakel mens dus om na 'n samelewing waarin dié verskynsels nie teenwoordig is nie?

'n Respek vir eiendomsreg is ongetwyfeld een van die goue beginsels wat die verskynsels van rykdom, vrede en oorvloed onderlê. Dit is nie toeval dat daar in elke ryk land in die wêreld 'n hoë agting vir eiendomsreg is nie. Dié korrelasie geld ook omgekeerd en ons sien dat hierdie regte nie in brandarm lande soos Noord-Korea, Kuba en Venezuela gerespekteer word nie. Weereens, eerder om te wonder hoe ons armoede kan takel, sal dit veel meer lonend wees om te wonder oor hoe rykdom geskep word en daardie waardes na te aap.

Ek sluit af met nog een van Chesterton se beginsels, naamlik die bekende beginsel van Chesterton se  heining. Chesterton skryf in een van sy romans oor 'n gretige hervormer wat die teenwoordigheid van 'n heining aanstootlik vind en dit daarom wil verwyder. Chesterton verduidelik dat in só geval is die onus eerder op die hervormer om aan te dui dat hy presies verstaan hoekom die heining aanvanklik daar geplaas is, voordat daar sprake kan wees oor die heining wegneem. Hoe kan daar enigsins 'n poging aangewend  word om die heining te verwyder as die betrokke persoon nie kan demonstreer dat hulle weet wat die funksie van die heining in die eerste plek was nie?.

Dit geld ook wanneer 'n hervormer 'n wet of 'n instelling wil verander. As die hervormer nie eers die funksie van die instelling of die wet kan verduidelik nie, hoe kan hy of sy dit regverdig om dit te wil verander? Dink eers. Toon begrip vir wat verlore gaan as iets ongedaan gemaak word. Vra die regte vrae en dan kan ons begin praat oor die wysiging van kernbelangrike instellings.

  • 14
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close